Dionisiese misterieë
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Dionisiese misterieë was ’n ritueel van Antieke Griekeland en Rome wat soms bedwelmende middels en ander tegnieke (soos dans en musiek) gebruik het wat geestesvervoering veroorsaak en inhibisies en sosiale beperkings onderdruk het. So is die individu bevry om na sy natuurlike staat terug te keer. Dit het ook ’n mate van bevryding gebring vir mense wat hulle aan die rand van die Griekse gemeenskap bevind het: vroue, slawe, verworpenes en nieburgers.
In die finale fase van die misterieë is die klem verskuif van ’n chtoniese, onderwêreldse na ’n bosinnelike, mistieke oriëntasie, met Dionisos wie se persoonlikheid dienooreenkomstig verander het. Vanweë die aard van die Dionisiese misterieë as ’n misteriegodsdiens wat uitsluitlik vir ingewydes bedoel was, was baie aspekte daarvan onbekend vir ander mense en het kennis daaroor verlore gegaan met die verval van die Grieks-Romeinse veelgodery; moderne kennis daarvan is afgelei van beskrywings, beelde en transkulturele studies.