Eerste Wêreldoorlog
Wêreldwye militêre konflik wat geduur het van 1914 tot 1918 / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Eerste Wêreldoorlog was die eerste oorlog waarby lande van die hele wêreld betrokke was. Dit het van 1914 tot 1918 tussen die Geallieerdes en die Sentrale Moondhede[5] plaasgevind en het al die wêreld se groot moondhede betrek.[6][7] As gevolg van sy sterk teenwoordigheid in die kollektiewe herinneringe van Frankryk en die Engelstalige wêreld staan dit daar steeds bekend as die Groot Oorlog (Engels: The Great War, Frans: La Grande Guerre).[8]
Eerste Wêreldoorlog | |||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Regsom van bo: Die nasleep van bombardemente tydens die Slag van die Somme; Britse Mark V-tenks kruis die Hindenburg-lyn naby Bellicourt in September 1918; HMS Irresistible sink nadat dit deur ’n myn getref is in die Slag van die Dardanelle; Britse Vickers-masjiengeweerpersoneel dra gasmaskers tydens die Slag van die Somme; Duitse Albatros D.III-tweedekkervliegtuie van Jagdstaffel 11. | |||||||||
| |||||||||
Strydende partye | |||||||||
Geallieerdes (Entente) Russiese Ryk (1914–17) |
Sentrale Moondhede
Oostenryk-Hongarye Co-oorlogvoering: Satellietstate: | ||||||||
Aanvoerders | |||||||||
Geallieerdes (Entente) Raymond Poincaré
Nikolaas II (1914–17) |
Sentrale Moondhede
Frans Josef I (1914–16) Co-oorlogvoering: | ||||||||
Sterkte | |||||||||
Totaal: 42 959 850[1] 8 660 000[n 2] |
Totaal: 25 248 321[1]
| ||||||||
Ongevalle en verliese | |||||||||
Militêre sterfgetal: 5 525 000 Militêre gewonde: |
Militêre sterfgetal: 4 386 000 Militêre gewonde: |
Die oorlog is hoofsaaklik veroorsaak deur die konflikte van die drie groot magte Oostenryk-Hongarye, die Ottomaanse Ryk en die Russiese Ryk op die Balkanskiereiland en die ontluikende nasionalisme van die plaaslike bevolking. Hierdie konflikte het uitgeloop op die sluipmoord op aartshertog Frans Ferdinand en sy vrou Sophie Chotek, wat oor die algemeen beskou word as die oorsaak van die oorlog. Langtermyn-oorsake, soos imperialistiese buitelandse beleid van die groot magte van Europa, soos die Duitse Keiserryk, Oostenryk-Hongarye, die Ottomaanse Ryk, die Russiese Ryk, die Britse Ryk, Frankryk en Italië het ook ’n belangrike rol gespeel. Verskeie alliansies wat oor die vorige dekades gevorm het, het mekaar gesteun en binne ’n paar weke ná die sluipmoord het die groot moondhede oorlog gevoer. Hulle het die konflik deur hul kolonies vinnig oor die hele wêreld versprei.
Op 28 Julie 1914 het oorlog uitgebreek met die Oostenryk-Hongaarse strooptog in Serwië, gevolg deur die Duitse strooptog in België, Luxemburg en Frankryk en ’n Russiese aanval op Duitsland. Ná die Duitse mars teen Parys het die wesfront in ’n langdurige oorlog betrokke geraak. In die ooste het die Russiese weermag met sukses teen die Oostenryk-Hongaarse magte geveg, maar hulle is teruggedwing deur die Duitsers. Nog fronte het ontstaan nadat die Ottomaanse Ryk by die oorlog aangesluit het in 1914, Italië en Bulgarye in 1915, Roemenië in 1916 en die Verenigde State in 1917. Die Russiese Ryk het in 1917 ineengestort en Sowjet-Rusland het die oorlog verlaat ná die Oktober-rewolusie later in die jaar. Ná die Duitse aanval op die wesfront in 1918 het die Verenigde State tot die oorlog toegetree en die Geallieerdes het die Duitse weermag verdryf. Op 11 November 1918 het Duitsland ingestem om aanvalle te staak. Dié dag staan bekend as Wapenstilstanddag.
In geen ander konflik voor die Eerste Wêreldoorlog is soveel soldate gemobiliseer of het soveel slagvelde plaasgevind nie. Meer as 70 miljoen militêre personeel uit sowat 40 lande, waarvan 60 miljoen Europeërs was, het aan die oorlog deelgeneem.[6][9][10] Teen die einde van dié oorlog was dit die tweede bloedigste opgetekende konflik (ná die Taiping-rebellie) met meer as 17 miljoen sterfgevalle,[11][12] alhoewel dit binne ’n paar dekades oorskadu sou word deur die Tweede Wêreldoorlog.[13]
Die Eerste Wêreldoorlog word gekenmerk deur die loopgraafoorlog, veral aan die wesfront. Meer as nege miljoen soldate het op die oorlogsveld gesneuwel, en amper ewe veel op die tuisfront weens voedseltekort, massamoord en grondgevegte. Chemiese wapens is vir die eerste keer gebruik, die eerste grootskaalse bomaanvalle uit die lug is geloods en van die eeu se eerste grootskaalse burgerlike slagtings het plaasgevind. Die Armeense en die Ponties-Griekse volksmoord, wat grotendeels in die Ottomaanse Ryk plaasgevind het, was verantwoordelik vir die stelselmatige uitmoor van ongeveer twee miljoen Armeniërs en Grieke deur die regering van die Jong Turke.
Die konflik het geëindig met ’n oorwinning deur die Geallieerdes. In die nasleep daarvan het die Verenigde State een van die belangrikste nywerheidslande geword, terwyl die sukkelende Europa minder belangrik geword het. Die oorlog het die selfbewussyn van die deelnemende koloniale soldate en nasies versterk en het gelei tot meer selfbeskikking in al die kolonies.