Europese verkenning van Suid-Afrika
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die verkenning van Suid-Afrika in die vyftiende eeu was, net soos die Europese verkenning en besetting van baie ander nuwe wêrelddele, nié die gevolg van 'n doelbewuste besluit nie. Columbus het byvoorbeeld 'n nuwe wêrelddeel ontdek, maar nie omdat hy na Amerika op soek was nie, maar wel na Indië. So ook het Indië nie die skitterendste juweel in die Britse kroon geword omdat die oorspronklike Engelse handelaars in die Verre Ooste dit so bedoel het nie. Australië het eweneens 'n belangrike Britse dominium geword, ofskoon dit oorspronklik as 'n strafkolonie aangewys en gebruik is. Ook is Suid-Afrika nie sowat 500 jaar gelede deur Europeërs verken omdat die Portugese seevaarders na Suid-Afrika op soek was nie, maar wel na die seeweg wat Europa met die Verre Ooste sou verbind. Die geografiese ligging van die land het toe reeds sy historiese noodlot bepaal.