Johannesburg
stad in Suid-Afrika / From Wikipedia, the free encyclopedia
Johannesburg (Xhosa: eGoli, Zoeloe: iGoli, letterlik: "Plek van Goud") is die vernaamste sake- en bevolkingsentrum van Suid-Afrika met 'n oppervlakte van 1 645 vierkante kilometer en 'n bevolking van 4 434 827 in die metropolitaanse gebied volgens die sensus van 2011. Die huidige Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit is 'n polisentriese metropool wat sowat vyfhonderd voorstede en dorpsgebiede insluit – naas die vroeëre stadsgebied ook voorheen onafhanklike munisipaliteite soos Midrand, Sandton en Randburg. Soweto is tans die grootste voorstad en ook die mees uitgestrekte historiese swart woonbuurt.
Johannesburg eGoli (xh) iGoli (zu) | |
---|---|
Stad | |
Byname: Jo'burg, Jozi, Joni "Goudstad"; Egoli ("Plek van Goud"); Gauteng ("Plek van Goud"); Maboneng ("Stad van Lig") | |
Leuse(s): | |
Koördinate: 26°12′16″S 28°2′44″O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Gauteng |
Munisipaliteit | Stad Johannesburg |
Stigting | 1886,[2] stadstatus in 1928 |
Regering | |
• Burgemeester | Kabelo Gwamanda (Al Jama-ah) |
Oppervlak | |
• Stad | 334,81 km2 (129,27 vk. myl) |
• Metro | 1 644,96 km2 (635,12 vk. myl) |
Hoogte | 1 753 m (5 751 ft) |
Bevolking (2011)[3] | |
• Stad | 957 441 |
• Digtheid | 2 860/km2 (7 400/vk. myl) |
• Metro | 4 434 827 |
• Metrodigtheid | 2 700/km2 (7 000/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 13,9% |
• Indiërs/Asiërs | 6,7% |
• Bruin mense | 13,9% |
• Swart mense | 64,2% |
• Ander | 1,3% |
Taal (2011) | |
• Engels | 31,1% |
• Zoeloe | 19,6% |
• Afrikaans | 12,1% |
• Xhosa | 5,2% |
• Ander | 31,9% |
Poskode (strate) | 2001 |
Poskode (posbusse) | 2000 |
Skakelkode | 011 |
Webwerf | Johannesburg-munisipaliteit |
Johannesburg is nie een van Suid-Afrika se drie hoofstede nie (net Pretoria, Kaapstad en Bloemfontein het besondere status as respektiewelik die regeringshoofstad, parlementsetel en geregtelike hoofstad), maar dit vervul nogtans 'n belangrike administratiewe en geregtelike funksie as die hoofstad van die Gautengprovinsie en setel van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika.
Johannesburg is ook die sentrum van 'n verstedelikte gebied met meer as 8 miljoen inwoners wat van Pretoria in die noorde tot by Vereeniging in die suide strek. Die stad is die derde grootste in Afrika na Kaïro en Lagos, en die enigste in Afrika wat as 'n wêreldstad of global city beskou word,[4] 'n ekonomiese masjienkamer wat die hele Suider-Afrika met die wêreldekonomie verbind – onder meer danksy die plaaslike hoofkantore van mynboureuse en die Johannesburgse Effektebeurs (JEB of JSE) wat op wêreldvlak mededingend is.[5] Met SABMiller en Anglo-American het daarnaas twee multinasionale ondernemings hul oorsprong in die Goudstad.
Johannesburg is net een van ongetelde delwerstede wat êrens op aarde op 'n spesifieke oomblik in die geskiedenis byna oornag ontstaan het. Maar terwyl die meeste van hulle ná 'n relatief kort tydperk as verlate spookdorpe geëindig het sodra hul goudvoorrade uitgeput was, is Johannesburg as Suid-Afrika se laat-Victoriaanse kits- en wonderstad op 'n oorspronklik byna verlate en windverwaaide plato van die Transvaalse Hoëveld tydens die grootste goudstormloop ooit gestig om te bly en 'n meteoriese ekonomiese opgang te beleef nadat Europa se leidende bankhuise die diepvlakmynontwikkeling van die Randse goudmyne begin finansier het.
Ander dinge was en is tydelik. So het Johannesburg, wat sy boukuns betref, nooit na die verlede teruggekyk nie. As een van die snelgroeiendste metropole ter wêreld het Johannesburg dus ook nie geskroom om weg te doen met sy historiese erfenis nie. Historiese geboue moes plek maak vir nuwe wolkekrabbers, terwyl die implementering van die beleid van aparte ontwikkeling vir etniese groepe die sloping van hele woonbuurte soos Sophiatown beteken het.
Vandag is Johannesburg 'n smeltkroes van tale en kulture wat steeds nuwe aankomelinge van dwarsoor Afrika lok. Die stad, wat nege persent van die vasteland van Afrika se bruto geografiese produk oplewer, verseker vir sy inwoners 'n lewenstandaard bo die gemiddelde van Afrika. Sy stadsuitleg met funksionele buurte soos 'n sentrale en noordelike sakedistrik en honderde residensiële voorstede, wat 'n groot verskeidenheid sosio-ekonomiese omgewings en ontwikkelingsvlakke verteenwoordig, sy moderne boukuns en 'n netwerk van snelweë toon baie ooreenkomste met dié van Amerikaanse metropole.[6]
Net soos in New York Stad, een van Johannesburg se tweelingstede, het 'n wye kloof tussen arm en ryk en ander sosiale vraagstukke ook neerslag gevind in hoë misdaadsyfers. Johannesburg is saam met ander Derdewêreldmetropole soos Rio de Janeiro as een van die gevaarlikste stede ter wêreld gereken.[7] Volgens 'n 2018-studie deur Mercer oor die lewenskwaliteit in 231 stede regoor die wêreld het Johannesburg die 95ste plek verwerf, die derde beste in Suid-Afrika net na Durban en Kaapstad.[8]
Die oorsprong van Johannesburg se naam is tot vandag toe omstrede. 'n Aantal mense met die naam "Johannes" was tydens die vroeë geskiedenis van die stad betrokke. Van hulle was die hoofklerk verbonde by die kantoor van die landmeter-generaal Hendrik Dercksen, Christiaan Johannes Joubert, 'n lid van die Volksraad en die republiek se mynbouhoof. 'n Ander was Stephanus Johannes Paulus Kruger (bekend as Paul Kruger), president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) tussen 1883 en 1900. Johannes Meyer, eerste regeringsamptenaar in die omgewing, is 'n ander moontlike naamgewer.
Presiese optekeninge vir die naamkeuse het verlore gegaan. Johannes Rissik en Johannes Joubert was lede van 'n afvaardiging wat na Engeland gestuur is om om mynregte vir die gebied te verkry. Ná Joubert is 'n park in die stad en ná Rissik is een van die hoofstrate genoem waar die histories belangrike maar nou vervalle Rissikstraat Poskantoor geleë is.[9][10] Die Stadsaal is ook in Rissikstraat geleë.
Geografie
Johannesburg lê in die oostelike deel van die Hoëveldplato, die sentrale plato van Suid-Afrika wat deur uitgestrekte glasvlaktes gekenmerk word, en teen die suidelike uitlopers van die Witwatersrand, 'n lae rotsige bergreeks wat deur die provinsie Gauteng loop en die waterskeiding tussen die Atlantiese en die Indiese Oseaan vorm.
Johannesburg strek van Orange Farm in die suide tot by Midrand in die noorde en grens aan twee ander metropolitaanse gebiede – Pretoria (Tshwane) in die noorde en Ekurhuleni in die ooste. Met 'n oppervlakte van 1 645 km² het Johannesburg se metrogebied uitgebrei nes dié van ander groot westerse metropole soos Sydney, Londen, New York Stad en Los Angeles.
Johannesburg is op 'n gemiddelde hoogte van 1 753 meter bo seevlak geleë – met die laagste punt op 1 740 en die hoogste punt op 1 810 meter. Dit is naas Meksikostad en Phoenix in Arizona (Verenigde State) een van min metropole wat nóg aan die see nóg teen 'n rivier of ander water lê. Kunsmatige bebossing – meer as tien miljoen bome is in die grasveldlandskap van Johannesburg geplant – maak van Suid-Afrika se ekonomiese spilpunt een van die groenste metropole op aarde.[11]
Klimaat
Johannesburg het 'n subtropiese hooglandklimaat met 'n gemiddelde maksimumtemperatuur van 26 °C in Januarie en 16 °C in Junie. Die stad beleef 'n gemiddeld van agt sonskynure per dag dwarsdeur die jaar. Wintertemperature kan tot vriespunt daal, alhoewel daar gewoonlik byna geen sneeuval is nie – die stad lê in 'n somerreënstreek waar die meeste neerslae in die somermaande val, dikwels op laat namiddae tydens hewige elektriese storms. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 713 millimeter, met 'n groot jaarlikse variasie. So ervaar die gebied ook droogteperiodes met langdurige gebrek aan neerslae.
Sneeuvlokkies het wél in die winters van 1981 en 2006 geval. Verder terug in die verlede het swaar sneeuneerslae, wat met 'n sterk en koue suidewind gepaard gegaan het, op 10 en 11 September 1936 op die Transvaalse Hoëveld voorgekom. Op 11 September van dié jaar het dit die hele dag in Johannesburg gesneeu.[12] Die Goudstad is daarnaas, net soos ander plekke op die hoëveld, verskeie kere deur tornado's getref – soos ook in Oktober 1905, Oktober 1929 en Januarie 1951.[12]
Die Transvaalse Hoëveld is egter ook sonder tornado's 'n gunstelingplek vir stormjagters – met gereelde donderstorms in die somermaande en indrukwekkende weerligstrale wat die nagtelike hemel oor Johannesburg verskeur. Donderstorms gaan gepaard met kort, maar hewige reënbuie, sterk winde en rollende donker wolke.[13]
Lugbesoedeling bly 'n knelpunt, veral gedurende die wintermaande wanneer die weswaartse vloei van lugmassas vanuit die Indiese Oseaan deur termiese inversies belemmer word. Naas motoruitlaatgasse dra die gebruik van steenkool vir kookdoeleindes en verhitting tot die hoë lugbesoedelingsvlakke by wat veral in swart woonbuurte meetbaar is.
Weergegewens vir Johannesburg | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Hoogste maksimum (°C) | 35,4 | 33,5 | 31,9 | 29,3 | 26,4 | 23,1 | 24,4 | 26,2 | 30,0 | 32,2 | 32,9 | 32,4 | 35,4 |
Gemiddelde maksimum (°C) | 25,6 | 25,1 | 24,0 | 21,1 | 18,9 | 16,0 | 16,7 | 19,4 | 22,8 | 23,8 | 24,2 | 25,2 | 21,9 |
Gemiddelde temperatuur (°C) | 20,1 | 19,6 | 18,5 | 15,7 | 13,0 | 10,0 | 10,4 | 12,8 | 16,0 | 17,5 | 18,4 | 19,5 | 16,0 |
Gemiddelde minimum (°C) | 14,7 | 14,1 | 13,1 | 10,3 | 7,2 | 4,1 | 4,1 | 6,2 | 9,3 | 11,2 | 12,7 | 13,9 | 10,0 |
Laagste minimum (°C) | 7,2 | 6,0 | 2,1 | 0,5 | −2,5 | −8,2 | −5,1 | −5,0 | −3,3 | 0,2 | 1,5 | 3,5 | −8,2 |
Neerslag (mm) | 125 | 90 | 91 | 54 | 13 | 9 | 4 | 6 | 27 | 72 | 117 | 105 | 713 |
Sonskynure (u/d) | 10,9 | 10,5 | 9,4 | 7,8 | 6,6 | 5,8 | 6,2 | 6,8 | 7,5 | 9,0 | 10,3 | 10,8 | 8,5 |
Reëndae (d) | 15,9 | 11,2 | 11,9 | 8,6 | 2,9 | 2,0 | 1,0 | 2,1 | 3,7 | 9,8 | 15,2 | 14,9 | 99,2 |
Humiditeit (%) | 69 | 70 | 68 | 65 | 56 | 53 | 49 | 46 | 47 | 56 | 65 | 66 | 59,1 |
Bron: Wêreldorganisasie vir weerkunde[14] NOAA[15] |
- Die stad as ruimtelike verwesenliking van afsonderlike ontwikkeling
Die meeste wetenskaplike studies oor die Goudstad het Johannesburg beperk hulle tot die ruimtelike verwesenliking van ongelyke ekonomiese verhoudinge en stadsbeplanning binne die raamwerk van die beleid van afsonderlike ontwikkeling. So is die skrywers van die meeste monografieë oor Johannesburg ná apartheid behep met die groei, val en heropbou van 'n etnies gesegregeerde stad.[16] Hulle dokumenteer en periodiseer die geskiedenis en ontwikkeling van munisipale administrasie, verstedelikingspatrone en stedelike groei vanaf die koloniale tydperk tot hede, verduidelik die oorspronge en konsolidasie van etnies verdeelde woonbuurte of "groepsgebiede" en beskryf hoe die owerheid rasgebaseerde bevoorregting onder voorwendsel van openbare gesondheid asook wetgewing aangaande stadsbeplanning en behuising vir een groep beding en ander daarvan uitgesluit het.
- Stad van klassestryd
Sommige ondersoeke neem die stad se ontstaansperiode, die laaste kwart van die 19de eeu en die tydperk van ongebreidelde laissez-faire-kapitalisme, as vertrekpunt en skets 'n oënskynlik eenvormige beeld van 'n stad waar mynbou die akkumulasie van ongekende hoeveelhede kapitaal vir 'n klein groepie entrepreneurs moontlik maak, terwyl 'n kosmopolitiese werkersklas met sy klassestyd in opstand teen dié bourgeoisie kom – 'n gunstelingonderwerp in sekere strominge van moderne Suid-Afrikaanse geskiedskrywing wat vasgevang is in denkbeelde van ekonomiese ongelykhede en uitbuiting. Studies oor Johannesburg se voorstede laat die kollig op nuwe swart middelklas-elites val wie se aspirasies en waardes van persoonlike prestasie, status, gesinslewe, ruimte, veiligheid en sport bes moontlik binne die infrastruktuur van 'n omheinde voorstad vervul en uitgeleef kan word, al handhaaf hulle nog bande met die tradisionele lewe in swart woonbuurte.[16]
- 'n Stad as enjinkamer vir 'n hele land
'n Ander, meer omvattende visie oor Johannesburg is dié van 'n enjinkamer – nie net van die nasionale ekonomie nie, maar van mense met uiteenlopende etniese, kulturele, godsdienstige, opvoedkundige en geografiese agtergronde wat versigtig met mekaar in aanraking kom; van nuwe leefstyle en tegnologieë. As 'n Europese stad in Afrika of Amerika in Afrika, soos dit al genoem is, kan Johannesburg nie gereduseer word tot een van die hooftonele van rasseskeiding nie. Die geskiedkundige gebeurtenisse en prosesse moet ook teen die agtergrond van 'n globale vloei van mense, idees en goedere ondersoek word.
- Stad met 'n eie metropolitaanse leefstyl
Sommige navorsers wys daarop dat Johannesburg van begin af sy eie metropolitaanse leefstyl geskep het. 'n Splinternuwe verbruikerswêreld en nuwe boutegnieke het skielik op 'n voorheen verlate plato gestalte gekry. Johannesburgers het al vroeg begin eksperimenteer met die nuutste tegnologiese ontwikkelinge van die Noordelike Halfrond – voorafvervaardigde boustukke en ander elemente is vir winkelfasades gebruik, winkelarkades is van prismatiese glasdakke voorsien, straatbeligting is deur middel van gaslampe voorsien, daarna is elektriese beligting ingevoer, net soos telefoondrade geïnstalleer is om finansiële instellings met mekaar te verbind, perdetrems wat hul bestemmings in die voorstede op borde aangedui het, en vanaf 1892 treine wat die binneland in die internasionale netwerk van hawens en seeroetes ingeskakel het.
In die Goudstad se georganiseerde uitleg het handelsplekke en kommersiële strate sentraal gestaan, terwyl die stadsbeeld oorheers is deur banke en ander finansiële instellings, kantoorgeboue, klubs, en die hoofkwartiere van mynbouondernemings. Johannesburgers het noue bande gehandhaaf met metropole in die noorde – die nuutste modes uit Londen, Parys en New York was te koop in plaaslike winkels, net soos die nuutste Amerikaanse motors, juweliersware, Fin de siècle-versierings, tekstiele en muurpapiere uit Londen se West End, die nuutste produklyne van Manchester-katoen en ander goedere wat op die wêreldmark beskikbaar was.[16]