Krieketwêreldbeker
internasionale kriekettoernooi / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker is ’n internasionale krieketkompetisie wat al om die vier jaar gehou word om die EDI-krieketwêreldkampioen te bepaal. Dié toernooi is die belangrikste en bekendste in internasionale krieket. Die kompetisie is een van die mees gesiene sportgeleenthede ter wêreld, saam met die Sokker-Wêreldbeker, Olimpiese Somerspele en Rugbywêreldbeker. Die Krieketwêreldbeker 2019 was die mees gesiene krieketwêreldbekertoernooi tot dusver met wêreldwyd 2,6 miljard televisiekykers,[2] gevolg deur die vorige Krieketwêreldbeker 2015 met sowat 2,2 miljard wêreldwyd.[3] Veral die wedstryde tussen die aartsvyande Indië en Pakistan lok gewoonlik sowat een miljard televisiekykers wêreldwyd en geniet baie aandag.
Krieketwêreldbeker | |
Krieketwêreldbeker 2023 | |
Die trofee waarom meegeding word | |
Sportsoort | Krieket |
---|---|
Gestig | 1975 |
Eienaar | Internasionale Krieketraad |
Inwydingseisoen | Krieketwêreldbeker 1975 |
Deelnemende lande | wêreldwyd |
Aantal spanne | 20 (alle toernooie) 10 (tot 2023) 14 (vanaf 2027)[1] |
Mees onlangse kampioen | Australië (2023) |
Verwante kompetisies | Kampioenetrofee, o/19-krieketwêreldbeker, T20I-wêreldbeker, Wêreldtoetskampioenskap |
Daar is slegs plek vir 14 (vanaf 2027) spanne om aan die kompetisie deel te neem en spanne moet aan uitdunne deelneem om te kwalifiseer. Die grootste aantal spanne het aan die 2007-toernooi in Wes-Indië deelgeneem, naamlik 16. Engeland het meer toernooie as enige ander nasionale Krieketraad aangebied, naamlik vyf. Vervolgens het Lord’s in Londen met vyf die meeste krieketwêreldbekereindwedstryde tot dusver aangebied,[4] gevolg deur Melbourne-krieketveld in Melbourne met twee.[5]
In die 13 kampioenskappe wat al aangebied is, het ses lande reeds die titel ingepalm. Australië het al ’n rekord van ses keer gewen. Indië en Wes-Indië het al twee keer gewen. Engeland, Pakistan en Sri Lanka het een titel elk ingepalm.
Die eerste krieketwêreldbeker het in 1975 in Engeland plaasgevind. Die mees onlangse toernooi is 2023 in Indië gehou. Die volgende wêreldbekertoernooi sal in 2027 in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië aangebied word. Australië is tans die wêreldkampioen.