Krieketwêreldbeker 1983
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Krieketwêreldbeker 1983 (Engels: 1983 Cricket World Cup) is van 9 tot 25 Junie 1983 in Engeland en Wallis beslis. Dit was die derde krieketwêreldbeker van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) aangebied word en die derde in Engeland. Dié land het voorheen die toernooie van 1975 en 1979 gehuisves.[3] Die Krieketwêreldbeker 1983 is deur die Britse finansiële en versekeringsmaatskappy Prudential plc geborg en staan dus amptelik bekend as die Prudentialbeker 1983.
Kenteken van die Krieketwêreldbeker 1983 | |
Datums | 9 Junie – 25 Junie |
---|---|
Bestuurder | Internasionale Krieketkonferensie (IKK) |
Krieketformaat | Internasionale eendagkrieket (EDI) |
Toernooiformaat | Groep- en uitklopfase |
Gashere | Engeland Wallis |
Kampioen | Indië (1ste titel) |
Naaswenner | Wes-Indië |
Deelnemers | 8 (24 kwalifiseer) |
Wedstryde gespeel | 27 |
Bywoning | 231 081 (8 559 per wedstryd) |
Meeste lopies | David Gower (384)[1] |
Meeste paaltjies | Roger Binny (18)[2] |
← 1979 1987 → |
Agt nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 1983 deelgeneem: Die destydse sewe toetskrieketlande (Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Wes-Indië), saam met die IKK-trofee 1982-wenner Zimbabwe. Tydens die Krieketwêreldbeker 1983 is 27 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in twee groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span twee keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet. Elke wedstryd het uit 60 boulbeurte per span bestaan en is in tradisionele wit klere en met rooi balle gespeel; almal is bedags gespeel en het dus vroeg in die oggend begin.[4]
Engeland, Indië, Pakistan en Wes-Indië het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Indië het Engeland en Wes-Indië het Pakistan geklop, voordat Indië die eindstryd op Lord’s in Londen teen die verdedigende kampioen Wes-Indië met 43 lopies gewen en sodoende sy eerste titel ingepalm het. Suid-Afrika kon nie aan die krieketwêreldbeker deelneem nie as gevolg van ’n sportboikot teen dié land weens sy voortgesette apartheidsbeleid. Zimbabwe het vir die eerste keer aan ’n krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, terwyl al die ander spanne vir ’n derde keer verskyn het.