Matriek in Suid-Afrika
finale jaar (graad 12) vir hoërskoolleerlinge / From Wikipedia, the free encyclopedia
Matriek is die finale jaar (graad 12) vir hoërskoolleerlinge in Suid-Afrika en matrikulasie verwys na die slaag van matriek met universiteitsgoedkeuring, alhoewel die term algemeen gebruik word om ook subgoedkeuringslagings aan te dui. Die laaste eksamens in graad 12 word "matriekeksamens" of meer spesifiek "matriekeindeksamens" genoem en studente in matriek word "matrikulante" genoem.
Die meeste Suid-Afrikaanse hoërskoolleerlinge wat die matriekjaar loop, lê die Senior Sertifikaat-eksamens af om 'n Senior Sertifikaat-kwalifikasie te ontvang. Die Senior Sertifikaat is 'n eksamen wat deur Suid-Afrika se Onderwysdepartement aan matrikulante voorgeskryf word, alhoewel studente ook deur middel van onafhanklike leerplanne (kurrikula) kan matrikuleer. Wanneer 'n student aan sekere voorgeskrewe kriteria voldoen met aflegging van die Senior Sertifikaat-eksamens (d.w.s. die matriekeindeksamens), ontvang die student matrikulasiegoedkeuring, wat die wettige minimum is vir toelating tot 'n B-graadprogram by 'n Suid-Afrikaanse universiteit. Buitelandse studente wat aansoek doen om studie by 'n Suid-Afrikaanse universiteit kan om matrikulasievrystelling aansoek doen om aan te dui dat hulle aan dieselfde standaarde voldoen.
Daar is dus 'n dubbelsinnigheid by die konsep van matriek betrokke: 'n persoon wat gematrikuleer het kan die matriekeksamens geslaag het, maar hoef nie noodwendig matrikulasiegoedkeuring te hê om by 'n universiteit te gaan studeer nie.
Suid-Afrikaanse universiteite stel nie hul eie toelatingsvereistes vas nie, alhoewel sommiges toegangstoetse aan voornemende studente voorgeskryf word om die stand van hul akademiese taal- en numeriese vaardighede te bepaal.
Sedert die intree van die nuwe uitkomsgebaseerde onderwys is die huidige Suid-Afrikaanse matriekuitslae van sulke minderwaardige gehalte dat die Universiteit van Oxford dit nie eens wil aanvaar nie. Suid-Afrika is in hierdie opsig slegter af as die volgende Afrikalande, waar toegang wel vir die skranderste leerlinge op 'n manier moontlik is: Kameroen, die Maldive-eilande, Mauritius, Namibië, Tanzanië, Tunisië, Uganda en Zimbabwe. Die voornemende voorgraadse student wat aan Oxford wil studeer moet eers sy/haar eerstejaar by 'n ander universiteit voltooi voordat aansoek gedoen mag word. Die ander alternatief is om die Cambridge Overseas Higher School Certificate, wat internasionaal erken word, besonder goed te slaag.[1] Soortgelyke reëls geld ook aan die Universiteit van Cambridge.[2]