Planteryk
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die planteryk of regnum plantarum bestaan uit ongeveer 360 000 spesies. Baie van hierdie spesies word weer verder onderverdeel in subspesies of variëteite. AI die spesies word saamgegroepeer in onder meer genera, families, ordes en klasse. In die klassifikasie van plante, soos by die van diere, word daar probeer om die verwantskappe tussen die groepe aan te dui.
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Die wetenskaplike naamgewing berus op die metode wat deur Linnaeus ontwikkel en in sy Systema naturae uiteengesit is. Die totale aantal plantspesies op aarde word vandag op ongeveer 360 000 geskat. Dit is onmoontlik om die aantal presies te bereken, aangesien nuwe spesies steeds beskryf word en daar soms baie meningsverskil bestaan oor die klassifikasie van spesies. Vanweë die evolusieproses verander alle lewende organismes voortdurend en die groot probleem van taksonomie (klassifikasie) is dat aan hierdie veranderende organismes name gegee moet word.
Wanneer twee of meer bevolkings van dieselfde spesie oor 'n lang tyd geïsoleer raak van mekaar, begin hulle naderhand eienskappe ontwikkel wat van mekaar verskil. Oor 'n tydperk van duisende of miljoene jare, maar in sommige gevalle baie korter, ontstaan nuwe spesies uit die oorspronklike spesie. Wanneer twee sulke plantbevolkings byvoorbeeld baie min van mekaar verskil, kan hulle as bloot variëteite of subspesies van dieselfde spesie beskou word.
As hulle egter 'n bietjie meer verskil, kan hulle as aparte spesies beskou word. Dit is vanweë hierdie subjektiwiteit in die benaming van spesies dat daar so baie meningsverskil is. Die moderne definisie van spesie is "'n bevolking van organismes wat onderling kan teel en aan vrugbare nakomelinge oorsprong gee". Dit is egter baie keer nie moontlik om hierdie eienskap te bepaal nie, en daarom berus die taksonomie nog grotendeels op morfologiese en anatomiese verskille tussen plante.
Vandag word van al hoe meer gevorderde tegnieke, byvoorbeeld die tel van chromosome, gebruik gemaak in die klassifikasie van plante. Spesies wat as verwant beskou word (op grond van morfologiese ooreenkomste, wat dan weer ʼn aanduiding van evolusionêre ontwikkeling sou wees), word in genera (enkelvoud genus) saamgegroepeer. Ook fossiele word vir hierdie klassifikasie in aanmerking geneem. Naverwante genera word weer in families saamgegroepeer, families in ordes, ordes in klasse, klasse in afdelings en afdelings in ryke.
Vroeër is daar net onderskei tussen die planteryk en die diereryk, maar vandag word die kleiner organismes onder afsonderlike ryke geklassifiseer. Binne die sisteem kan die taksonomiese eenhede weer onderverdeel word deur die voorvoegsels onder- (sub-) en super- te gebruik. In 'n subfamilie sal byvoorbeeld 'n paar genera wat nader aan mekaar verwant is as aan die ander genera, saamgegroepeer word.