Sachsenburg
From Wikipedia, the free encyclopedia
Sachsenburg (Saxemburgh, Saxenburg) is vir 'n 150 jaar beskou as 'n eiland halfpad tussen St. Helena en Tristan da Cunha. Tot vroeg in die 20ste eeu is dit op 30°43'S en 19°30'W in atlasse aangedui.
Op 23 Augustus 1670 het die Nederlandse skeepskaptein Johann Lindeman 'n skets van die eiland gemaak. Die Amerikaanse skip Fancy onder kapt. Galloway het die eiland in 1804 op dieselfde breedteligging as Lindeman teengekom, alhoewel effens meer oos. Kapt. J.C. Head en sy skip True Briton het die eiland op 9 Maart 1816 op dieselfde breedtegraad gesien. Enkele jare later vind kapt. James Horsburgh dit egter nie. In Augustus 1828 doen die Amerikaanse skip Antarctic onder kapt. Benjamin Morrell 'n ernstige poging om die eiland te vind. Hy en sy bemanning kom tot die besluit dat daar nie so 'n eiland bestaan nie en dat vorige waarnemers deur besondere wolkformasies mislei is. Ysberge sowel as drywend eilande bestaande uit seewier, bondels takke en gras afkomstig uit die groot riviere van die trope kon dalk ook vir 'n eiland aangesien word.