Sirië
soewereine staat in Wes-Asië / From Wikipedia, the free encyclopedia
Sirië (Arabies: سوريا of سورية, Sūriyā of Sūrīyah), amptelik die Arabiese Republiek Sirië, is in die sogenaamde Vrugbare Halfmaan geleë, die boogvormige noordelike rand van die Arabiese Skiereiland. Die land grens in die noorde aan Turkye, in die suidweste aan Israel (die strategies belangrike Siriese Golanhoogtes is in 1967 deur Israel beset), in die ooste aan Irak, in die noordweste aan die Middellandse See, in die suide aan Jordanië en in die suidweste aan Libanon.
| |||||
Volkslied: حماة الديار Ħumāt ad-Diyār (Arabies vir: "Verdedigers van die Vaderland") | |||||
Hoofstad | Damaskus | ||||
Grootste stad | Aleppo | ||||
Amptelike tale | Arabies | ||||
Regering | Unitêre dominante party semi-presidensiële republiek[1]a Basjar al-Assad Imad Khamis | ||||
Onafhanklikheid Vorming • Ontbinding van Ottomaanse Sirië; Franse besetting • Arabiese Koninkryk van Sirië • Staat van Sirië gestig onder Franse Mandaat • Siriese Republiek gestig deur samesmelting van die state van Jabal Droese, Alawiete en Sirië • Onafhanklikheid van Frankryk • Afstigting van die Verenigde Arabiese Republiek • Ba'ath-party neem mag oor |
1 September 1918 8 Maart 1920 1 Desember 1924 1930 17 April 1946 28 September 1961 8 Maart 1963 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
185 180[2] km2 (89ste) 71 479 myl2 1,1 | ||||
Bevolking - 2014-skatting - Digtheid |
17 064 854[3] (54ste) 118,3 / km2 (101ste) 306,5 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2010-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2010-skatting | ||||
MOI (2014) | ▼ 0,594[5] (118ste) – medium | ||||
Gini (2014) | 55,8[6] – medium | ||||
Geldeenheid | Pond (SYP ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
WAST (UTC+2) nie toegepas nie (UTCAST) | ||||
Internet-TLD | .sy, سوريا. | ||||
Skakelkode | +963b | ||||
a. Regering het 'n beperkte beheer oor die land. Sien Siriese Burgeroorlog. b. +02 vanaf Libanon. |
Die huidige staatsgebied beslaan 185 180 km² met 'n totale bevolking wat in Julie 2012 op sowat 22,5 miljoen beraam is, onder wie 1,5 miljoen vlugtelinge uit Irak en 'n halfmiljoen Palestyne. Die statistiese bevolkingsdigtheid is meer as 120 inwoners per km², nogtans is die bevolking oneweredig versprei en hoofsaaklik in stedelike gebiede soos Damaskus, Aleppo en Homs saamgetrek. Die woestynagtige steppe van Oos-Sirië, die tradisionele tuisland van nomadiese Bedoeïne wat die Tweestroomland in die ooste van die Mediterreense bergreeks Djabal Sahilija skei, is yl bevolk. As gevolg van die Siriese Burgeroorlog het meer as vier miljoen Siriërs sedert 2011 na die buiteland gevlug. Baie van die vlugtelinge word in aangrensende lande soos Turkye en Jordanië in tentkampe gehuisves. 'n Verdere nege miljoen Siriërs is in hul eie land ontwortel.
Die moderne Siriese staat het sy oorsprong in die tyd ná die Eerste Wêreldoorlog toe die gebied onder die mandaat van Frankryk geplaas is. Sirië was die grootste land wat in die Arabiese Levant ná die verbrokkeling van die Ottomaanse Ryk ontstaan het. In April 1946 het Sirië sy politieke onafhanklikheid as parlementêre republiek verkry.[7]
In die volgende dekades is die land deur interne onrus geskud. So is Sirië in die periode tussen 1949 en 1971 verskeie kere deur staatsgrepe en pogings tot staatsgrepe getref. Tussen 1958 en 1961 het Sirië 'n kortstondige politieke unie met Egipte gevorm, die Verenigde Arabiese Republiek (VAR), wat deur 'n staatsgreep beëindig is. Sirië het vanaf 1963, toe die Pan-Arabiese Baath-party aan die bewind gekom het, tot en met 2011 in 'n noodtoestand verkeer waardeur die meeste burgerregte opgeskort is.
Sirië se binne- en buitelandse beleid is aanvanklik vanaf 1963 deur sosialistiese en anti-Westerse stromings oorheers. As voormalige bondgenoot van die Sowjetunie handhaaf die land steeds noue bande met die Russiese Federasie. Daarnaas is belangrike politieke alliansies met Palestyns-Islamistiese groeperings en die Islamitiese Republiek van Iran gesluit.
Die politieke mag in Sirië is in die hande van 'n klein elite van invloedryke families gekonsentreer. Sy politieke bedeling, waarin Pan-Arabiese ideologie met politieke sekularisme gekombineer word, toon baie ooreenkomste met dié van Irak onder die bewind van Saddam Hoesein. Die Islamitiese godsdiens vorm nogtans 'n sentrale bestanddeel van Sirië se nasionale identiteit en speel 'n belangrike rol in die openbare lewe.
Die Baath-party is naas die Siriese leër 'n beslissende sekulêre element waarin godsdienstige minderhede soos Alawiete, Droese en Grieks-Ortodokse Christene hul invloed kan laat geld in 'n samelewing wat andersins deur Soennitiese Moslems oorheers sou word. Sedert die verkiesing van Hafez al-Assad tot staatspresident in 1971 word die land deur die Alawitiese al-Assad-gesin geregeer. Hafez al-Assad is ná sy afsterwe in 2000 deur sy seun Basjar as staatshoof opgevolg. Basjar al-Assad, 'n geneeskundige wat sy akademiese opleiding in Londen en Parys ontvang het, het verskeie pogings onderneem om die land se ekonomie en regeringstelsel te hervorm en te liberaliseer.
Dit is nie tans vir buitelandse waarnemers duidelik hoe die interne magsverdeling tussen president, regering en geheimediens gereël word nie. Sedert Maart 2011 is die land egter in 'n bloedige burgeroorlog gewikkel wat uit die rewolusionêre politieke ontwikkelings van die sogenaamde Arabiese Lente in ander Arabiese lande soos Libië, Tunisië en Egipte voortgespruit het. Die regering verwys na die opstandelinge as Islamitiese terroriste.
Dit is nie die eerste keer dat opposisiegroepe soos die Moslembroederskap in opstand teen die Siriese regering gekom het nie. So is 'n opstand van die Moslembroederskap in 1982 deur lugaanvalle op sogenaamde "bevryde stede" soos Aleppo en Homs afgeweer.