Argaïese mense
uitgestorwe familielid van moderne mense (Homo) van die afgelope halfmiljoen jaar (soos Neanderdalmense) / From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Paar soorte Homo word geklassifiseer in die breë kategorie argaïese mense – hulle kom uit die tydperk voor en tydens die opkoms van die vroeë moderne mense (Homo sapiens) omstreeks 300 000 jaar gelede. Omo-Kibish I (Omo I) uit Suid-Ethiopië (sowat 196 000 jaar gelede)[1] en die oorblyfsels uit Jebel Irhoud in Marokko (sowat 315 000 jaar gelede) en Florisbad in Suid-Afrika (259 000 jaar gelede) is van die oudste oorblyfsels van Homo sapiens.[2][1][3] Die term sluit gewoonlik die volgende in: Homo neanderthalensis (430 000 ± 25 jaar gelede),[4] Denisova-hominiene, Homo rhodesiensis (300 000 - 125 000), Homo heidelbergensis (600 000 - 200 000), Homo naledi, Homo ergaster en Homo antecessor.
Daar is gewoonlik nie algehele konsensus oor die terminologie nie; variëteite van "argaïese mense" word soms ingesluit onder die binomiale naam Homo sapiens en soms onder Homo erectus.
Argaïese mense se brein was gemiddeld 1 200 tot 1 400 cm3 groot, wat oorvleuel met dié van moderne mense. Argaïese mense word van anatomies moderne mense onderskei deurdat hulle ’n dik skedel, prominente wenkbrouboë en geen prominente ken gehad het nie.[5][6]
Anatomies moderne mense het sowat 300 000 jaar gelede in Afrika[7][1][3][8] en 70 000 jaar gelede verskyn. Hulle het die argaïese variëteite geleidelik vervang. Niemoderne variëteite van Homo het beslis tot ná 30 000 gelede nog bestaan en dalk tot so onlangs as 12 000 jaar gelede. Watter van hulle, indien enige, onder "argaïese mense" ingesluit word, is ’n kwessie van definisie en verskil van skrywer tot skrywer. Onlangse genetiese studies het aangetoon moderne mense het "met minstens twee groepe" antieke mense gekruisteel: die Neanderdallers en Denisova-hominiene.[9] Ander studies trek dié feit in twyfel en dui daarop die gemengde gene het ’n oorsprong in voorouers van beide groepe van 500 000 - 800 000 jaar gelede.[10][11]
Nog ’n groep, die Edelhert-grotmense van China, het dalk 11 500 jaar gelede nog bestaan.[12] Chris Stringer van die Natuurhistoriese Museum in Londen het voorgestel dié mense het ontstaan uit ’n kruising tussen die Denisova-hominiene en moderne mense.[13] Ander wetenskaplikes is egter skepties daaroor en meen die unieke eienskappe is te verwagte binne die variasies van die moderne menslike bevolkings.[14]