Dagroofvoëls
From Wikipedia, the free encyclopedia
Voëls wat ander voëls, soogdiere of reptiele aanval, hulle doodmaak en dan vreet, word roofvoëls genoem. Daar is twee duidelik onderskeibare groepe roofvoëls: valke, arende en aasvoëls, wat dagroofvoëls genoem word omdat hulle in die dag bedrywig is; en die uile, wat as nagroofvoëls bekend staan omdat hulle hul prooi in die nag soek.
Die pragtigste en indrukwekkendste van dagroofvoëls is die arende, wat met hul onbevreesde blik en fiere houding tereg die naam "koning van die voëls" verdien. Party tropiese arende maak jag op ape, terwyl die breëkoparend en die Europese steenarend in uitsonderlike gevalle 'n skaaplammer sal opraap en daarmee die bloutes invlieg. Die valke en die hawikke is kleiner as die arende, maar party van hulle is uiters waaghalsig en blitsvinnig wanneer hulle hul prooi agtervolg. Voor die tyd van die geweer is valke dikwels geleer om voëls soos wilde-eende en duiwe te jag, en baie van die ryk mense in die Middeleeue het dan ook spesiaal 'n man, die valkenier, aangehou om hierdie voëls af te rig en hulle te beheer. Aasvoëls en kondors is ontaarde roofvoëls wat veral van aas leef, m.a.w., hulle vreet die vleis van diere wat deur 'n ander dier doodgemaak is of wat op natuurlike wyse gesterf het. Hulle is as't ware die vullis-opruimers van die natuur. Die grootkondor van Suid-Amerika is een van die grootste voëls wat vlieg.