Elementêre deeltjie
From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Elementêre of fundamentele deeltjie is in deeltjiefisika ’n deeltjie wat sover bekend nie enige substruktuur het nie,[1] dus bestaan dit waarskynlik nie uit kleiner deeltjies nie. As dit wel die geval is, is elementêre deeltjies die basiese boustene van die heelal waaruit alle materie bestaan.
In die Standaardmodel van deeltjiefisika sluit die elementêre deeltjies in die fundamentele fermione (insluitende kwarke, leptone en hul antideeltjies), en die fundamentele bosone (insluitende die ykbosone en die Higgsboson).[2][3] Hoewel die deeltjies nie uit kleiner dele bestaan nie, kan van hulle in ligter deeltjies verander (volgens sekere reëls).
Vroeër is geglo atome is die kleinste deeltjies in die natuur ("atoom" kom van die Griekse woord atomos, wat "ondeelbaar" beteken). ’n Sentrale kenmerk in die elementêre-deeltjie-teorie is die vroeë-20ste-eeuse idee van kwantums, wat die begrip van elektromagnetiese straling hervorm en kwantummeganika teweeggebring het.