Ethiopië
Landingeslote land in Oos-Afrika aan die Horing van Afrika / From Wikipedia, the free encyclopedia
Ethiopië of Etiopië (Afar: Itiyoophiyaa; Amharies: ኢትዮጵያ, ʾĪtyōṗṗyā, luister (hulp·inligting); Ge'ez: ኢትዮጵያ; Oromo: Itoophiyaa; Somalies: Itoobiya; Tigrinya: ኢትዮጵያ), amptelik die Federale Demokratiese Republiek Ethiopië, is 'n landingeslote land in Oos-Afrika in die Horing van Afrika. Ethiopië grens in die noorde aan Eritrea, in die ooste aan Djiboeti en Somalië, in die suide aan Kenia en in die weste aan Soedan en Suid-Soedan. Die land beslaan 'n oppervlakte van 1 104 300 km² en het in 2021 'n bevolking van meer as 117 miljoen gehad.[4] Die hoofstad en grootste stad is Addis Abeba, wat sentraal in Ethiopië geleë is.
| |||||
Volkslied: የዜግነት ክብር (Amharies vir: "Maart vorentoe, Liewe Moeder Ethiopië") | |||||
Hoofstad | Addis Abeba | ||||
Grootste stad | Addis Abeba | ||||
Amptelike tale | Afar, Amharies, Oromo, Somalies en Tigrinya[1][2][3] | ||||
Regering | Etnofederale parlementêre grondwetlike republiek Sahle-Work Zewde Abiy Ahmed Demeke Mekonnen | ||||
Onafhanklikheid | ca. 980 v.C. ca. 100 n.C. 1137–1974 21 Augustus 1995 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
1 104 300 km2 (26ste) 426 400 myl2 0,7 | ||||
Bevolking - 2021-skatting - 2007-sensus - Digtheid |
117 876 227[4] (12de) 73 750 932[5] 92,7 / km2 (123ste) 240,1 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2021-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2021-skatting | ||||
MOI (2019) | 0,485[7] (173ste) – laag | ||||
Gini (2015) | 35,0[8] – medium | ||||
Geldeenheid | Birr (ETB ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
OAT (UTC+3) nie toegepas nie (UTC+3) | ||||
Internet-TLD | .et | ||||
Skakelkode | +251 |
Die land se volle naam in sy vyf amptelike tale is: ityoppiah federalih demokrasih ummuno (Afar); የኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ, yeʾĪtiyoṗṗiya Fēdēralawī Dēmokirasīyawī Rīpebilīk (Amharies), luister (hulp·inligting); Rippabliikii Federaalawaa Dimokraatawaa Itiyoophiyaa (Oromo); Jamhuuriyadda Dimuqraadiga Federaalka Itoobyaa (Somalies); en ናይኢትዮጵያ ፌዴራላዊ ዴሞክራሲያዊ ሪፐብሊክ, nayi'ītiyop'iya fēdēralawī dēmokirasīyawī rīpebilīki (Tigrinya).
Ethiopië se nasionale identiteit is gewortel in die historiese en huidige rolle van die Christendom en Islam, asook die onafhanklikheid van die land van buitelandse heerskappy, soos die geval was in verskeie antieke Ethiopiese koninkryke.[9] Van die oudste skelette van mense met moderne anatomie is in Ethiopië ontdek.[10] Dit word algemeen beskou as die gebied van waar moderne mense eerste na die Midde-Ooste en verder plekke migreer het.[11][12] Volgens linguiste het die eerste sprekers van Afro-Asiatiese tale hulle in die Neolitiese Tydperk in die Horing-gebied gevestig.[13] Van die 2de millennium v.C. af was Ethiopië vir die grootste deel van sy geskiedenis ’n monargie. Volgens oorlewering is die monargie gestig deur die Salomoniese Dinastie van die koningin van Skeba, onder sy eerste koning, Menelik I.[14] In die eerste eeue het die Koninkryk Aksoem die beskawing in die streek verenig gehou.[15][16][17]
Gedurende die Wedloop om Afrika in die laat 19de eeu was Ethiopië en Liberië die enigste twee lande wat hulle soewereiniteit te midde van kolonialisme behou het, en baie nasies op die kontinent wat pas onafhanklik geword het, het die Ethiopiese vlagkleure, groen, goud en rooi, aangeneem. In dié tyd het Ethiopië sy moderne grense vasgestel deur middel van groot verowerings van gebiede in sy ooste, weste en suide.[18] Ethiopië was die eerste onafhanklike Afrika-lid van die Volkebond en die Verenigde Nasies.[19] Die land is in 1936 deur Italië beset en het Italiaans-Ethiopië geword as deel van Italiaans-Oos-Afrika, totdat dit vyf jaar later, in 1941 tydens die Tweede Wêreldoorlog, bevry is. Tydens die Italiaanse bewind het die regering die eeue oue praktyk van slawerny afgeskaf,[20] en verstedeliking het stelselmatig toegeneem.[21]
In 1974 is die langdurige Ethiopiese monargie onder Haile Selassie omvergewerp deur die Derg, ’n kommunisties-militêre regering wat deur die Sowjetunie gesteun is.[22] In 1987 het die Derg die Demokratiese Volksrepubliek Ethiopië gestig wat in 1991 deur die Ethiopiese Rewolusionêre Demokratiese Volksfront omvergewerp is. Dit was die heersende politieke koalisie tot in 2019, toe dit deur Abiy Ahmed se Welvaartparty opgevolg is.
Ethiopië is ’n nasie met vele tale; daar is sowat 80 etnolinguistiese groepe – die grootse vier is die Oromo, Amhare, Somaliërs en Tigrinya. Die meeste mense in die land praat Afro-Asiatiese tale tale van die Koesjitiese of Semitiese tak. Verder word Omotiese tale deur etniese minderheidsgroepe in die suidelike streke gepraat. Nilo-Sahariese tale word ook deur Nilotiese minderheidsgroepe gepraat. Oromo het die meeste moedertaalsprekers, terwyl Amharies die meeste totale sprekers het. Ge'ez bly belangrik as ’n liturgiese taal vir beide die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk en die Eritrees-Ortodokse Tewahedo-kerk en vir die Beta Israel. Die meeste bewoners is Christene (veral van die Ethiopies-Ortodokse Tewahedo-kerk en P'ent'ay), en die historiese Koninkryk Aksoem was een van die eerste state wat dié geloof aangeneem het. ’n Derde van die bewoners volg Islam, veral Soenni. Die land het die oudste Moslemnedersetting in Afrika, by Negash. ’n Aansienlike bevolking Jode, bekend as Beta Israel, het ook tot in die 1980's in Ethiopië gewoon.[23][24]
Die land is vol geografiese teenstrydighede, van die uitgestrekte en vrugbare weste met sy woude en talle riviere tot die wêreld se warmste nedersetting, Dallol in die noorde. Die Ethiopiese Hoogland is die grootste aaneenlopende bergreeks in Afrika, en die Sof Omar-grotte het een van die kontinent se langste grotte (15,1 km). Ethiopië het ook die tweede grootste getal Unesco-wêrelderfenisgebiede in Afrika.[25]
In die 1970's en 1980's het Ethiopië burgerlike onrus en die Rooi Terreur-suiwerings beleef, wat sy ekonomie geknou het. Die land het sedertdien herstel en het in 2010 die grootste ekonomie (volgens BBP) in Oos-Afrika gehad,[26][27] maar bly een van die wêreld se armste lande.[28] Armoede, hongersnood, korrupsie, ’n swak infrastrutuur, min respek vir menseregte en beperkte toegang tot gesondheid en opvoeding staar die land in die gesig – net 49% is geletterd.[29]