Belgiese violis, komponis en dirigent From Wikipedia, the free encyclopedia
Eugène-Auguste Ysaÿe (Frans: [øʒɛn iza.i]; 16 Julie 1858 – 12 Mei 1931) was 'n Belgiese violis, komponis en dirigent. Hy word beskou as die "koning van die viool", of, soos Nathan Milstein dit gestel het, die "Tsaar".
Ysaÿe is gebore in Luik en het op 5 met vioollesse by sy vader begin. Hy sou later sy vader se lesse erken as die grondslag van alles wat hy oor sy instrument geleer het, alhoewel hy sou voortgaan om onder hoogaangeskrewe meesters te studeer. In 1867 het Ysaÿe ingeskryf by die Koninklike Konservatorium van Luik om onder Désiré Heynberg te studeer, en in die proses 'n gedeelde tweede prys gewen met die speel van Giovanni Battista Viotti se Vioolconcerto No. 22.[1] Hierna het hy vir twee jaar onder Henryk Wieniawski in Brussel en Henri Vieuxtemps in Parys gestudeer.[1]
Om by hierdie onderwysers te studeer het beteken dat hy deel was van die sogenaamde Frans-Belgiese skool van vioolspeel, wat terugdateer na die ontwikkeling van die moderne vioolstrykstok deur François Tourte. Eienskappe wat geassosieer word met hierdie skool sluit in elegansie, 'n volle toon met 'n "lang" stryk van die strykstok sonder rukke, presiese linkerhandtegnieke en die stryk van die viool met gebruik van die hele voorarm terwyl beide die pols en bo-arm stil gehou word (in teenstelling met Joseph Joachim se Duitse skool waar daar met die "pols" gestryk word en Leopold Auer se Russiese konsep om die hele arm te gebruik.)
Nadat hy gegradueer het aan die Koninklike Konservatorium van Luik was Ysaÿe hoofviolis van Benjamin Bilse se biersaalorkes, wat later ontwikkel het tot die Berlynse Filharmoniese Orkes. Baie gerekende en invloedryke musikante het gereeld na hierdie orkes en veral Ysaÿe kom luister, onder wie Joseph Joachim, Franz Liszt, Clara Schumann en Anton Rubinstein, wat gevra het dat Ysaÿe van sy kontrak vrygestel word om hom op toer te vergesel.
Toe Ysaÿe 27 was, is hy aanbeveel as solis vir een van die Concerts Colonne in Parys, wat die begin van sy groot sukses as konsertkunstenaar was. Die volgende jaar het Ysaÿe 'n professoraat aan die Brusselse Konservatorium ontvang. Sy onderwysloopbaan het vir die res van sy lewe voortgeduur, selfs nadat hy die Konservatorium in 1898 verlaat het. Onder sy noemenswaardige studente was Josef Gingold, die altviool-virtuoos William Primrose, die vioolvirtuoos Nathan Milstein (wat hoofsaaklik saam met Pjotr Stoljarski gestudeer het), Oskar Back, Ernest Bloch, Jascha Brodsky, Mathieu Crickboom, Gheorghe Enescu, Aldo Ferraresi, Jonny Heykens, Nellie A. Hope,[2] Charles Houdret, Julia Klumpke, Louis Persinger, Oscar Shumsky en Jacques Thibaud.
Tydens sy ampstermyn as professor aan die Konservatorium het Ysaÿe voortgegaan om al hoe wyer te toer, insluitend die hele Europa, Rusland en die Verenigde State. Ten spyte van gesondheidsbekommernisse, veral met betrekking tot sy hande, was Ysaÿe op sy beste toe hy opgetree het, en baie prominente komponiste het groot werke aan hom opgedra, insluitend Claude Debussy, Camille Saint-Saëns, César Franck, en Ernest Chausson. Hy het vir viool en orkes Saint-Saëns se Étude en forme de valse verwerk, wat oorspronklik vir solo-klavier geskryf is.
Franck se Vioolsonate in A is geskryf as trougeskenk vir Ysaÿe en sy vrou in 1886. Ysaÿe het dit dikwels vir die res van sy lewe gespeel. Chausson se Poème was Ysaÿe se standaardantwoord op 'n versoek om 'n concerto. Joseph Szigeti was van mening dat die twee werke wat aan hom opgedra is die enorme respek getoon het wat Ysaÿe toegekom het.
In 1886 het hy die Ysaÿe-kwartet gestig, wat die eerste uitvoering van Debussy se strykkwartet gegee het.
Namate sy gesondheid verswak het, het Ysaÿe hom meer tot onderrig, dirigeerwerk, en 'n vroeë liefde, komposisie, gewend. Van sy bekendste werke is die ses sonates vir soloviool op. 27, die onbegeleide sonate vir tjello, op. 28, een sonate vir twee viole, agt Poèmes vir verskeie instrumente (een of twee viole, viool en tjello, strykkwartet) en orkes (Poème élégiaque, Poème de l' Extase, Chant d'hiver, Poème nocturne, onder andere), stukke vir strykorkes sonder bas (insluitend Exil), verskeie vioolconcertos, verskeie korter stukke vir viool en klavier, twee stryktrio's, 'n vroeë strykkwintet, en 'n opera, Peter die mynwerker, geskryf aan die einde van sy lewe in Waals.
In 1898 is die pos van musiekdirekteur van die New York Filharmoniese Orkes aan hom gebied, maar hy het dit van die hand gewys weens sy besige solo-optredeskedule. In 1918 aanvaar hy die pos van musiekdirekteur by die Cincinnati Simfonieorkes, waar hy gebly het tot 1922 en saam met wie hy verskeie opnames gemaak het.
Eugène Ysaÿe het in 1931 aanhuis gesterf, terwyl hy gely het aan diabetes wat die amputasie van sy linkervoet genoodsaak het. Hy is begrawe in die Ixelles-begraafplaas in Brussel.
As kunstenaar was Ysaÿe meesleurend en hoogs oorspronklik. Pablo Casals het beweer dat hy nog nooit 'n violis behoorlik hoor speel het nie totdat hy Ysaÿe hoor speel het. Carl Flesch het hom "die mees uitstaande en individuele violis wat ek nog in my lewe gehoor het" genoem.
Ysaÿe het 'n groot en buigsame toon gehad, beïnvloed deur 'n aansienlike verskeidenheid vibrato — van glad geen vibrato tot baie intens. Hy het gesê: "Moenie altyd vibreer nie, maar wees altyd vibrerend". Sy modus operandi was, in sy eie woorde: "Niks wat nie as doel emosie, poësie en hart het nie." Die dirigent Sir Henry Wood het gesê: "Die kwaliteit van die toon was verruklik mooi ... Dit het gelyk of hy meer kleur uit 'n viool kry as enige van sy tydgenote."[3]
Moontlik die mees kenmerkende eienskap van Ysaÿe se vertolkings was sy meesterlike rubato. Sir Henry Wood het gesê: "Wanneer hy ook al tyd van een noot gesteel het, het hy dit getrou binne vier mate terugbetaal",[3] wat sy begeleier toegelaat het om streng tempo onder sy vrye cantilena te handhaaf. Terloops pas hierdie soort rubato by die beskrywing van Frédéric Chopin se rubato.
Alhoewel Ysaÿe 'n groot vertolker van laat-Romantiese en vroegmoderne komponiste was — Max Bruch, Camille Saint-Saëns, en César Franck, het gesê het dat hy hul grootste vertolker was — is hy bewonder vir sy interpretasies van Bach en Beethoven. Sy tegniek was briljant en fyn geslyp, en in hierdie opsig is hy die eerste moderne violis wie se tegniek sonder die tekortkominge van sommige vroeëre kunstenaars was.
'n Internasionale vioolkompetisie is ter herinnering aan hom in Brussel gestig: in 1951 het dit die vioolafdeling van die Koningin Elisabeth Musiekkompetisie geword.
Die Eugène Ysaÿe-versameling, gehuisves in die Musiekafdeling van die Koninklike Biblioteek van België, kombineer vier dekades se aankope met 'n skenking wat die Ysaÿe-familie in 2007 gemaak het. Dit is 'n noodsaaklike bron vir die studie van die musikant se lewe en werke, en dit sluit sowat 700 briewe en handgeskrewe partiture in, meer as 1 000 gedrukte partiture en boeke, 'n oorvloedige versameling foto's, vier films, en sowat vyftig 78 opm en 33 omp opnames.[4] 'n Tweede versameling handgeskrewe en gedrukte partiture word bewaar in New York Stad by die Juilliard-skool.[5]
Die kritici het waardering uitgespreek, maar die opera het nie 'n plek in die standaardrepertorium gekry nie. Dit is weer opgevoer deur die Opéra Royal de Wallonie in Luik op 25 November 2006. Hierdie uitvoering is opgeneem en word deur die nie-winsgewende vereniging[12] in a twee-CD stel vergesel van 'n boek wat die Waalse teks en sy Franse, Nederlandse en Engelse vertalings bevat, en inleidende tekste in Frans, Nederlands, Duits en Engels. Die verhaal is gebaseer op 'n voorval wat in 1877 tydens 'n mynwerkerstaking in die Luikstreek plaasgevind het.[13] Tydens botsings met die polisie is enkele skote afgevuur. Die vrou van 'n voorman het vorentoe gestorm om beslag te lê op 'n granaat wat deur 'n staker in die kantore geplaas is, maar die granaat het ontplof en sy is dood.
'n Volledige lys van beskikbare orkestrale werke, insluitende concertowerke, is beskikbaar op die Simfonieorkes Biblioteeksentrum.[14]
[Vrygestel op CD, Sony Classical MHK 62337, 1996]
Bron:[15]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.