Franz Wilhelm Junghuhn - Wikiwand
For faster navigation, this Iframe is preloading the Wikiwand page for Franz Wilhelm Junghuhn.

Franz Wilhelm Junghuhn

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Franz Wilhelm Junghuhn
Foto geneem in 1860
Gebore
Friedrich Franz Wilhelm Junghuhn

26 Oktober 1809
Mansfeld, Koninkryk van Wesfale
Sterf24 April 1864
Lembang, Wes-Java, Nederlands Oos-Indië
NasionaliteitDuits-gebore Nederlander
BeroepPlantkundige en geoloog
Jare aktief1835-1864

Friedrich Franz Wilhelm Junghuhn (26 Oktober 1809, Mansfeld, Duitsland24 April 1864, Lembang, Bandung, Wes-Java) was 'n Duits-Nederlandse plantkundige en geoloog. Sy vader, Friedrich Junghuhn, was 'n haarkapper en chirurg. Sy moeder was Christine Marie Schiele. Junghuhn het in Halle, Sakse-Anhalt medies studeer, en ook in Berlyn vanaf 1827 tot 1831 waartydens hy (in 1830) 'n stuk oor sampioene in Limnaea. Ein Journal für Botanik gepubliseer het.

Vroeë lewe

As student het Junghuhn aan depressie gely en selfmoord probeer pleeg. Hy het in 'n tweegeveg betrokke geraak en is getref deur 'n koeël. Waarskynlik onbekend aan hom, sterf sy teenstander aan die wonde wat hy opdoen. Junghuhn het hierna gevlug en vervolging ontduik deur diens as chirurg in die Pruisiese leër te aanvaar, maar is ontdek en tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het voorgegee dat hy kranksinnig is en daarin geslaag om in die herfs van 1833 te ontsnap. Hy was kortstondig 'n lid van die Franse Vreemdelegioen in Noord-Afrika, maar is ontslaan weens swak gesondheid. In Parys het hy die befaamde Nederlandse plantkundige Christiaan Hendrik Persoon opgesoek, wat aanbeveel het dat Junghuhn by die Nederlandse koloniale weermag aansluit en homself as mediese dokter na Nederlands Oos-Indië laat stuur. [1] Junghuhn het die uitdaging aanvaar en Europa (Hellevoetsluis) in die vroeë somer van 1835 verlaat en op 13 Oktober 1835 in Jakarta (destyds bekend as "Batavia") aangekom.

Java

Die landskap van Java deur Junghuhn.
Die landskap van Java deur Junghuhn.
Litograaf van Kawah Putih.
Litograaf van Kawah Putih.

Junghuhn het hom op Java gevestig, waar hy 'n uitgebreide studie van die land en sy mense gemaak het. Hy het die Kawah Putih kratermeer suid van Bandung in 1837 ontdek. Hy het breedvoerig gepubliseer oor sy dikwels besonders avontuurlike ekspedisies en sy wetenskaplike ontledings. Onder sy werke tel 'n belangrike beskrywing en natuurgeskiedenis bestaande uit verskeie bundels van die vulkane van Java, getiteld Bijdragen tot de geschiedenis der vulkanen in den Indischen Archipel (1843). Hy voltooi in 1845 Die Topographischen und Naturwissenschaftlichen Reisen durch Java ("Topografiese en Natuurwetenskaplike Reise deur Java") en 'n eerste antropologiese en topografiese studie van Sumatra getiteld, Die Bättalander auf Sumatra ("Die Batak-pleine van Sumatra") in 1847. In 1849 dwing swak gesondheid hom om terug te keer na Nederland, waar hy op 23 Januarie 1850 met Johanna Louisa Frederika Koch trou en 'n seun kry. Terwyl hy in Nederland was, het Junghuhn begin werk aan 'n verhandeling van vier dele wat in Nederlands gepubliseer is en tussen 1850 en 1854 vertaal is in Duits, getiteld Java, deszelfs gedaante, bekleeding en inwendige struktuur (in Duits: Java, seine Gestalt, Pflanzendecke, und sein innerer Bau).

In Nederland publiseer hy op anonieme wyse tussen 1853 en 1855 sy vrydenkende manifes getiteld Licht- en Schaduwbeelden uit de Binnenlanden van Java. Die werk was omstrede, met sy voorspraak vir sosialisme in die kolonies en vir die kritiek op Christelike en Islamitiese bekeringspraktyke op die Javaanse mense. Junghuhn het in pleks hiervan geskryf oor sy voorkeur vir 'n vorm van panteïstiese deïsme, waarin hy beweer het dat God in alles is, maar slegs deur die rede bepaal kan word. Die werk is verbied in Oostenryk en dele van Duitsland vanweë die "ontkenning en verguising van die Christendom", maar was 'n sterk verkoper in Nederland, waar dit die eerste keer onder 'n skuilnaam gepubliseer is. Dit was ook gewild in koloniale Indonesië, ondanks teenkanting van die kerk aldaar. Die uitgewer van die eerste bundel, Jacobus Hazenberg, het geweier om voort te gaan en geassosieer te word daarmee; die oorblywende vier volumes is gepubliseer deur die uitgesproke liberaal, Frans Günst. Hy het dit vanaf volume drie (vanaf 1 Oktober 1855) gepubliseer in die nuutgestigte tydskrifjoernaal vir vrydenkers, De Dageraad.

Junghuhn, wat van sy siektes herstel het, keer in 1855 terug na Java. Hy was baie geïnteresseerd in die plantkunde en die praktiese toepassings daarvan, en het (saam met J.E. de Vrij van Bandung) betrokke geraak in 'n bittere en uitgebreide kontroversiële polemiek met Johannes Elias Teijsmann, van 's Lands Plantentuin in Buitenzorg (nou Bogor) en J.C. Hasskarl, oor die effektiwiteit van Cinchonaspesies in die behandeling van malaria. Hierdie polemiek is in die openbare oog gevoer, met ope briewe en eise aan "Het Natuurkundig Genootschap"; 'n deel van hierdie polemiek kan gevolg word in Natuurkundig Tijdschrift voor Nederlandsch Indië vanaf 1862 en verder. Op sy aandrang is massiewe aanplantings van Chincocina in Java geplant, wat dit die voorste produsent van Kina (Chinocina-bas) gemaak het. Hy het op Java gebly tot met sy dood aan 'n lewersiekte in 1864.

Op sy sterfbed in sy huis naby Lembang aan die hange van die vulkaan Tangkuban Perahu net noord van Bandung, Java, het Junghuhn die dokter gevra om die vensters oop te maak sodat hy die berge waarvoor hy so lief was kon groet. In Lembang is daar 'n klein monument ter nagedagtenis aan hom op 'n grasbedekte plein wat na hom vernoem is, en wat beplant is met van sy gunsteling bome, waaronder die Cinchona.

Die swamsoort Junghuhnia, [2] en die plante Cyathea junghuhniana en Nepenthes junghuhnii is vernoem na Franz Junghuhn.

Galery

Neem kennis dat die meeste beeld litograwe ná oorspronklike tekeninge deur Junghuhn is.

  • Die Piramides van Giza
    Die Piramides van Giza
  • Berg Lamongan
    Berg Lamongan
  • Berg Gede
    Berg Gede
  • Berg Sumbing
    Berg Sumbing
  • Patengan-meer.
    Patengan-meer.
  • Berg Guntur
    Berg Guntur
  • Meru Betiri Nasionale Park
    Meru Betiri Nasionale Park
  • Suidelike kus van Java
    Suidelike kus van Java
  • Candi Sebu
    Candi Sebu
  • Junghuhn in Berg Merapi
    Junghuhn in Berg Merapi
  • Berg Merapi
    Berg Merapi
  • Dieng Plato
    Dieng Plato
  • Die eiland Pontjang Kitjil (Poncang Kecil) in Tapanulibaai (nou Teluk Sibolga)
    Die eiland Pontjang Kitjil (Poncang Kecil) in Tapanulibaai (nou Teluk Sibolga)

Verwysings

  1. J. P. Poley, Eroica: The Quest for Oil in Indonesia (1850-1898) (2000) p. 26.
  2. Donk, M.A. (1960). "The generic names proposed for Polyporaceae". Persoonia. 1 (2): 173–302.

Bibliografie

  • Franz Junghuhn. Biographische Beiträge zur 100. Wiederkehr seines Geburtstages, red. Max. C.P. Schmidt, Leipzig: Dürr'schen Buchhandlung, 1909.
  • F. Junghuhn. Gedenkboek 1809-1909, De Junghuhn-Commissie, 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff, 1910.
  • Java's onuitputtelijke natuur. Reisverhalen, tekeningen en fotografieën van Franz Wilhelm Junghuhn, red. Rob Nieuwenhuys en Frits Jaquet, Alphen aan den Rijn: A.W. Stijthof, 1980.

'n Interessante 'wetenskaplike' roman oor Junghuhn se lewe is: C.W. Wormser, Frans Junghuhn, Deventer: W. van Hoeve, 1942.

Eksterne skakels

{{bottomLinkPreText}} {{bottomLinkText}}
Franz Wilhelm Junghuhn
Listen to this article