Geskiedenis van Afrikaans
geskiedenis van Afrikaans / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die geskiedenis van Afrikaans is verweef met die geskiedenis van Nederlands in Suid-Afrika. Die erkenning van Nederlands as amptelike taal, of ook die miskenning van die taal onder Britse gesag, was per definisie 'n erkenning of miskenning van Afrikaans. Daarbenewens het Afrikaans en Nederlands lank in 'n harmonieuse verhouding geleef; in 'n taalsituasie wat as diglossie bekend staan.
Dekades voor die vestiging van 'n Nederlandse kolonie aan die suidpunt van Afrika het Kaapse Khoin-Khoin reeds kennis gemaak met Seemansnederlands. Besoeke van seevaarders soos Van Linschoten (in 1583) en De Houtman (in 1595) aan die Kaapse kus is gedokumenteer. Die vroegste vorm van Afrikaans, Khoi-Afrikaans as aanleerderstaal of trade jargon ('n eenvoudige verkeerstaal wat kommunikasie tussen seevarende Europeërs en inheemses vergemaklik het), is dus nog voor die begin van die 17de eeu aan die Kaap gebesig.[1]
Vanaf 1652 het hoofsaaklik Nederduitse en Hoogduitse immigrante hulle aan die Kaap gevestig. Die Nederlanders (of Nederduitsers) het hulself destyds as 'n Duitse/Dietse volk beskou en het ook as Duitsmanne, Duismanne of Duusmanne bekend gestaan. Ook sou Franse Hugenote, Engelse, Portugese, Skandinawiërs en Maleiers hulle aan die Kaap vestig. Die nedersetting aan die Kaap is deur die VOC vanuit Nederland bestuur en die gebruikstaal was Nederlands. Alle inwoners aan die Kaap, inklusief die inheemse bevolking en slawe, het Nederlands gebruik (of dit aangeleer).
Uit die smeltkroes aan die Kaap het nuwe omgangsvariëteite tot stand gekom soos ook elders in die Nuwe Wêreld-lande. Ondersoekers wys daarop dat tussen 1800 en 1875 variëteite gepraat is aan die Kaap, soos suiwer Nederlands, Kaaps-Hollands, Boere-Hollands (of Boere-Afrikaans), Plat-Kaaps, Hottentot-Hollands (of Hottentot-Afrikaans), Slawe-Afrikaans en Vreemdeling-Afrikaans.[2]
Taalondersoekers is van mening dat sommige van hierdie taalvariëteite onderworpe was aan 'n kreoliseringsproses. Dit was veral die variëteite wat deur die laer sosio-ekonomiese klasse gebruik is. Daar is ook taalondersoekers wat van mening is dat Maleis-Portugees as 'n lingua franca gedien het onder hierdie klasse. Die variëteite wat deur die hoër sosio-ekonomiese klasse gebruik is, het egter weinig invloed ervaar van ander tale. Die invloed van vreemde tale op die latere Standaardafrikaans was gering.
Taalondersoekers wys verder daarop dat mense in laer sosio-ekonomiese klasse 'n vereenvoudigde taalkode gebruik. Hierdie verskynsel kom oral in die wêreld voor (in die stede sowel as op die platteland).[3] Die omgangsvariëteite aan die Kaap was ongetwyfeld ook onderworpe aan hierdie proses. Vereenvoudigde Afrikaans-Nederlandse omgangsvariëteite was die resultaat van hierdie proses. Die huidige Standaardafrikaans is in werklikheid vereenvoudigde Nederlands.
Ten spyte daarvan dat die Afrikaners oor 'n kultuurtaal beskik het (Nederlands), was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 van mening dat ook een van die ander omgangsvariëteite wat daar aan die Kaap gepraat is, uitgebou moes word tot 'n kultuurtaal vir die Afrikaners. Hierdie "regte" variëteit was Boere-Afrikaans.[4]
Die doelstelling van die GRA het egter ingedruis teen die algemene opvatting van die publiek oor taal (in die tyd). Nederlands is toe beskou as die algemeen aanvaarde kultuurtaal. Om hierdie rede moes lede van die GRA in die geheim vergader omdat hulle idee oor "Afrikaans as skryftaal" te radikaal was. Afrikaans is toe met onkunde, agterlikheid en ongeletterdheid geassosieer. Daarbenewens het die Afrikaners van 1880 nie aanvaar dat hulle Afrikaans praat nie, maar het hulle werklik 'n taal gepraat wat as tussen Afrikaans en Nederlands bestempel kan word.[5] Sowat sestig jaar gelede het Afrikaans ook bekend gestaan as die Kombuistaal.[6]