Geskiedenis van Indië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die geskiedenis van Indië begin met die eerste bewyse van menslike aktiwiteit van Homo sapiens, ongeveer 75.000 jaar gelede, of met vroeër hominiede waaronder Homo erectus van ongeveer 500.000 jaar gelede.[1]
Die Indusvalleibeskawing in die noordwestelike deel van die Indiese subkontinent van ongeveer 3300 tot 1300 v.C. in die huidige Pakistan en die noordweste van Indië, was Suid-Asië se eerste groot beskawing.[2] 'n Tegnologies gevorderde stedelike kultuur ontwikkel in die Ryp-Harappa-periode 2600-1900 v.C..[3]
Hierdie beskawing van die Bronstydperk verdwyn voor die einde van die tweede millennium v.C. en is gevolg deur die Vediese beskawing van die Ystertydperk. Dit het oor 'n groot deel van die Indo-Ganges-gebied gestrek en het die opkoms van groot state, die sogenaamde Mahajanapadas, gesien. In een van hierdie koninkryke, Magadha, is Mahavira en Gautama Boeddha in die 6de of 5de eeu v.C gebore en het hulle filosofieë gepropageer en daarmee die Jaïnisme en die Boeddhisme gestig.