Italië
land in Suid-Europa / From Wikipedia, the free encyclopedia
Italië (Italiaans: Italia, [iˈtaːlja], luister (hulp·inligting)), amptelik die Italiaanse Republiek (Repubblica Italiana, [reˈpubblika itaˈljaːna]), is 'n land in Suid-Europa wat – naas die Povlakte in Noord-Italië – grotendeels uit die stewelvormige Appenyne-skiereiland sowel as twee groot eilande in die Middellandse See bestaan: Sisilië (Sicilia) en Sardinië (Sardegna). Daarbenewens behoort kleiner eilande in die Middellandse See soos Capri en Elba ook tot Italië. Die land het 'n gematigde Sentraal-Europese klimaat in die noorde en 'n Mediterreense in die suidelike landsdele.
| |||||
Volkslied: Il Canto degli Italiani (Italiaans vir: "Die Lied van die Italianers") | |||||
Hoofstad | Rome | ||||
Grootste stad | Rome | ||||
Amptelike tale | Italiaans | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike republiek Sergio Mattarella Giorgia Meloni | ||||
Onafhanklikheid Vorming • Unifikasie • Republiek • Huidige grondwet |
17 Maart 1861 2 Junie 1946 1 Januarie 1948 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
301 340[1] km2 (71ste) 116 350 myl2 1,24 (2015)[2] | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2011-sensus - Digtheid |
58 916 404[3] (25ste) 59 433 744[4] 201,3 / km2 (71ste) 521,4 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,895[6] (30ste) – baie hoog | ||||
Gini (2022) | 32,7[7] – medium | ||||
Geldeenheid | Euro (€) (EUR ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
MET (UTC+1) MEST (UTC+2) | ||||
Internet-TLD | .it | ||||
Skakelkode | +39 | ||||
Aan die noordekant word dit begrens deur die Alpe, en grens aan Frankryk in die noordweste, Switserland en Oostenryk in die noorde en Slowenië in die noordooste. Suid van die Italiaanse vasteland is die eilandstaat Malta geleë wat nie deel uitmaak van Italië nie.
Dikwels word Italië as 'n land van besondere skoonheid beskryf – met 'n veelvuldigheid aan landskapsvorme. Die noorde van die land word deur die ruwe bergwêreld van die Alpe beslaan. Die hoogste bergpieke is in die Monte Rosa-massief langs die grens met Switserland en in die Mont Blanc-massief in die Frans-Italiaanse grensgebied geleë. Net suid van die westelike Alpe het gletsers diep valleie in die bergrotse gesny en 'n Alpynse landskap van mere geskep wat suidwaarts tot die Povallei en die Piëmont strek.
Toskane, 'n historiese landskap in westelike Sentraal-Italië, is een van die belangrikste kultuurlandskappe van Europa met 'n ryk geskiedenis. As kernland van die Renaissance het dit kulturele invloed ver buite Italië se grense uitgeoefen. 'n Tweede groot bergreeks, die Appenyne, strek vanaf die die Sentraal-Alpe suidwaarts. In die omgewing van Rome strek dit oor byna die hele wydte van die Italiaanse stewel-skiereiland. Dit vernou in Suid-Italië waar twee wye kusvlaktes aan weerskante van die berge geleë is – een langs die Tirreense See, die ander langs die Adriatiese See.
Groot dele van die suidelike Appenyne het as byna ongerepte wildernis bewaar gebly. Hierdie landskap is die habitat van dierspesies wat elders in Europa nog nouliks aangetref word, soos wolwe en bere. Tektonies is die suidelike Appenyne-bergwêreld een van die mees onstabiele streke in Europa met aktiewe vulkane, waaronder die majestueuse Vesuvius wat 'n konstante bedreiging vir die miljoenestad Napels en eilande in die Golf van Napels inhou. Wes en suidwes van Italië is die land se twee grootste eilande geleë, Sardinië en Sisilië.
Vanaf die eerste 1ste eeu v.C. tot die 5de eeu was Italië in 'n enkele ryk verenig, die Romeinse Ryk. Italië se besonderse topografie het vervolgens oor eeue heen die politieke geskiedenis en geografie van die land bepaal. Die bou van paaie is deur ontoeganklike bergterrein belemmer sodat kommunikasie, handel en ander betrekkinge tussen die verskeie landsdele dikwels tot 'n minimum beperk was. In Italiaanse stede en streke is sodoende 'n sterk onafhanklike gees geskep. Stadstate soos Venesië en Genua het hulle liewer tot die see gewend om handel met ander Mediterreense gebiede te dryf. Elke streek het sy spesifieke dialek van Italiaans en sy eie kookkuns ontwikkel.
Nog in 1847 was die land in politieke opsig verdeel in agt onafhanklike state en kon die Oostenrykse staatsman en minister van buitelandse sake Klemens von Metternich sy beroemde en omstrede uitspraak doen waarvolgens Italië eintlik geen nasie was nie, maar net une expression géographique, 'n suiwer geografiese term,[8] terwyl die Italiaanse skrywer Umberto Eco in 'n onderhoud met die Franse dagblad Le Monde taal as die band beskryf het wat die verskillende streke van Italië en hul bewoners saamsnoer.[9]
In teenstelling met lande soos byvoorbeeld Frankryk, Engeland en Duitsland, wat reeds vroeg in hul geskiedenis as eenheidstate gevestig het, is die verskillende landsdele van Italië eers betreklik laat met die 19de eeuse Risorgimento-beweging in 'n gemeenskaplike monargie verenig, wat tussen 1861 en 1946 deur die Huis van Savoje regeer is. Vinnige industrialisering het bygedra tot die land se nuut verworwe status as een van Europa se groot moondhede wat vanaf die 1880's 'n koloniale ryk in Noord- en Oos-Afrika gevestig het.
Groot verliese is in die Eerste Wêreldoorlog gely waarin Italië tussen 1915 en 1918 aan die kant van die geallieerdes teen die Duitse Keiserryk en Oostenryk-Hongarye geveg het. Alhoewel die staatsgebied met die insluiting van Suid-Tirol vergroot is, het sosiale en politieke onluste 'n klimaat geskep wat die weg gebaan het vir die magsoorname deur die fascistiese beweging onder Benito Mussolini in 1922.
As bondgenoot van die Spilmoondhede, die Duitse Ryk en Japan, gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Italië 'n verpletterende neerlaag gely. Koloniale besittings in Afrika het hierna verlore gegaan, terwyl 'n klein gebied in die noordooste aan Joego-Slawië afgestaan moes word. In Junie 1946 is die monargiese regeringstelsel in 'n referendum verwerp en die Republiek Italië geproklameer.
Italië is 'n stigterslid van die Europese Unie en die NAVO asook 'n lidland van die Verenigde Nasies. Dit maak deel uit van die Eurosone.