La Scala - Wikiwand
For faster navigation, this Iframe is preloading the Wikiwand page for La Scala.

La Scala

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Teatro alla Scala, of kortweg La Scala

La Scala (Britse-Engels: l|æ|_|ˈ|s|k|ɑː|l|ə, Amerikaanse Engels: l|ɑː|_|-,[1] Italiaanse uitspraak: la ˈskaːla; afkorting vir die amptelike naam daarvan: Teatro alla Scala (in Italiaans) Italiaanse uitspraak: teˈaːtro alla ˈskaːla) is 'n operahuis wat in Milaan, Italië, geleë is. Die teater was die eerste keer op 3 Augustus 1778 in gebruik geneem en het oorspronklik as die Nuovo Regio Ducale Teatro alla Scala (Italiaans) (Afrikaans: Nuwe Koninklik-Hertoglike Teater alla Scala) bekend gestaan. Die eerste uitvoering wat daarin plaasgevind het was 'n uitvoering van Antonio Salieri se Europa riconosciuta.

Die meeste van Italië se grootste operakunstenaars en baie van die mees uitgelese sangers van regoor die wêreld het al by La Scala opgetree. Die teater word beskou as een van die voorste opera - en balletteaters in die wêreld, en is die tuiste van die La Scala Teater-Koor, La Scala Teater-ballet en La Scala Teater-orkes. Die teater beskik ook oor 'n geassosieerde skool - bekend as die La Scala Teater-akademie- (Italiaans: Accademia Teatro alla Scala) wat professionele opleiding in musiek, verhoogkuns en verhoogbestuur aanbied.

Oorsig

Die Teatro alla Scala in Milaan by naglug
Die Teatro alla Scala in Milaan by naglug

La Scala se seisoen open op 7 Desember, te wete Sint Ambrosia-dag, wat die feesdag van Milaan se beskermheilige is. Alle uitvoerings moet voor middernag klaar wees, en uitgebreide operas begin vroeër in die aand indien nodig. Die Museo Teatrale alla Scala (La Scala Teater Museum), waartoe toegang verkry kan word vanaf die voorportaal van die teater en deel van die huis, bevat 'n versameling skilderye, standbeelde, kostuums, en ander dokumente wat betrekking het op die geskiedenis van La Scala, en opera in die algemeen. La Scala huisves ook die Accademia d'Arti e Mestieri dello Spettacolo (Akademie vir die Uitvoerende Kunste). Die doelwit daarvan is die opleiding van 'n nuwe generasie jong musikante, tegniese personeel, en dansers (by die Scuola di Ballo del Teatro alla Scala, een van die Akademie se afdelings).

Bo die galerybokse beskik La Scala oor 'n galery genaamd die loggione—waar minder gegoede persone die uitvoerings kan besigtig. Dié galery word egter tipies deur die mees kritiese opera aanhangers ingeneem, wat bekend staan as die loggionisti; wat afhangende van die uitkoms, óf ekstaties, óf genadeloos teenoor sangers se vermeende suksesse of mislukkings kan wees.[verwysing benodig] Kunstenaars ontvang as vergoeding vir hul mislukkings 'n vuurdoop van hierdie aanhangers, en fiasko's bly lank in die geheue. In 2006 het die tenoor Roberto Alagna byvoorbeeld die verhoog verlaat nadat hy uitgejou is gedurende 'n opvoering van Aida.[verwysing benodig] Dit het sy adjudant, Antonello Palombi, geforseer om hom vinnig te midde van die opvoering te vervang sonder dat hy enigsins tyd gehad het om in 'n kostuum in te glip.

Geskiedenis

'n negentiende eeuse voorstelling van die Teatro alla Scala
'n negentiende eeuse voorstelling van die Teatro alla Scala

'n Brand het die vorige teater, die Teatro Regio Ducale, op 25 Februarie 1776 na 'n karnavalgala vernietig. 'n Groep van negentig welgestelde Milaanse persone, wat privaat bokse in die teater besit het, het aan Aartshertog Ferdinand van Oostenryk-Este geskryf om 'n nuwe teater asook 'n voorlopige teater wat gebruik kon word terwyl die nuwe teater aan't oprig was, te versoek. Die neoklassieke argitek Giuseppe Piermarini het 'n aanvanklike ontwerp geskep, maar dit was verwerp deur Graaf Firmian (die goewerneur van die toe-Oostenrykse Lombardye).

'n Tweede plan was in 1776 aanvaar deur Keiserin Maria Theresa. Die nuwe teater was gebou op die voormalige ligging van die kerk van Santa Maria alla Scala, waarvandaan die teater sy naam kry. Die kerk was gevolglik gesloop, en die teater was oor 'n tydperk van twee jaar voltooi deur Pietro Marliani, Pietro Nosetti en Antonio en Giuseppe Fe. Die teater het na voltooiing beskik oor 'n totaal van "ongeveer 3,000" sitplekke[2] wat in 678 stalle georganiseer is en rangskik is in ses vlakke bokse waaroor die 'loggione' of twee galerye troon. Die verhoog van die teater is een van die grootste verhoë in die ganse Italië (16.15m d x 20.4m w x 26m h).

Die boukoste was gedek by wyse van die verkoop van bokse, welke op uitspattige wyse versier was deur hul eienaars, wat waarnemers soos Stendhal beïndruk het. La Scala (soos dit weldra bekend sou staan) het gou die voorste vergaderplek van adellike en welgestelde Milaanse inwoners geword. Ingevolge die heersende tradisie van die era het die hoofvloer nie oor stoele beskik nie, en toehoorders het uitvoerings in 'n staande posisie gade geslaan. Die orkes was in volle sig, aangesien die orkespit nog nie gebou was nie.

Soos met die meeste teaters uit daardie era, was La Scala ook 'n dobbelhuis, met dobbelaars wat in die voorportaal stelling ingeneem het. [3] Toestande in die ouditorium was ook 'n bron van frustrasie vir die operaliefhebber, soos Mary Shelley in September 1840 ontdek het:

By die Opera was hulle besig met 'n uitvoering van Otto Nicolai se Templario. Ongelukkig, soos welbekend is, dien die teater van La Scala nie slegs as die algemene ontvangskamer vir die ganse Milaanse beskawing nie, maar as die plek vir enige soort handelstransaksie, van perdeverkope tot aandeleverkope, sodat 'n mens skaars die stukkies van die musiek wat gespeel word kan hoor.[4]

La Scala was oorspronklik belig met vier-en-tagtig olielampe wat in die verhoog gemonteer was, sowel as 'n duisend ander in die oorblywende deel van die teater. Ten einde die risiko's verbonde aan vure te verminder, was verskeie kamers met honderde wateremmers gevul. Met verloop van tyd was die olielampe vervang met gaslampe, wat op hul beurt in 1883 vervang was deur elektriese ligte.

Interieur van die operahuis in 1900
Interieur van die operahuis in 1900

Die oorspronklike struktuur was in 1907 opgeknap toe dit sy teenswoordige uitleg gegee is met 1,987 sitplekke. In 1943, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, was La Scala ernstig beskadig deur bomme. Dit was herbou en het op 11 Mei 1946 weer geopen, met 'n onvergeetlike konsert wat deur Arturo Toscanini—wat twee keer La Scala se hoofdirigent en 'n vennoot van die komponiste Giuseppe Verdi en Giacomo Puccini was— gedirigeer is, met 'n sopraan solo deur Renata Tebaldi. Die uitvoering het 'n sensasie geskep.

La Scala het die eerste produksies van vele bekende operas gehou, en het beskik oor 'n spesiale verhouding met Verdi. Verdi het egter vir verskeie jare nie toegelaat dat sy werk aldaar gespeel word nie, aangesien sommige van sy werke gewysig is (hy het gepraat van "gekorrupteer") deur die orkes. Hierdie geskil het sy oorsprong in 'n dispuut oor die produksie van sy Giovanna d'Arco in 1845; die komponis het egter later self sy Mis op 25 Mei 1874 by La Scala gedirigeer, en in 1886 aangekondig dat La Scala die buiging sou aanbied van wat sy voorlaaste opera sou word, te wete, Otello.[5] Die buiging van sy laaste opera, Falstaff, was ook aangebied in die teater. In 1982 was die Filarmonica della Scala gestig, wat sy lede verkry uit die Orchestra della Scala.

Onlangse ontwikkelinge

Opknapping en restourasie, 2002 tot 2004

Die eksterieur van La Scala in 2005 na die 2002/04 restourasie
Die eksterieur van La Scala in 2005 na die 2002/04 restourasie

Die teater het van 2002 tot laat in 2004 'n groot restourasie ondergaan. Die teater het na die tradisionele openingsuitvoering van 7 Desember 2001 van Verdi se opera Otello, wat deur die hele Desember uitgevoer is, gesluit. Die operageselskap het van 19 Januarie 2002 tot November 2004 vanaf die stadsentrum na die nuwe Teatro degli Arcimboldi, wat in die Pirelli-Bicocca industriële area gesetel is, verskuif.

Die teater se opgeknapte binnekant, oftewel interieur
Die teater se opgeknapte binnekant, oftewel interieur

Die restourasie deur die argitek Mario Botta was kontroversieel, aangesien bewaringskundiges gevrees het dat geskiedkundige details daardeur verlore sou gaan. Die operageselskap was egter tevrede met die verbeteringe aan die struktuur en die kwaliteit van die klank, wat verbeter is toe die swaar rooi tapyte in die saal verwyder is. Die verhoog was opnuut herbou, en 'n vergrote agterverhoog area maak dit moontlik om meer stelle te stoor, wat op sy beurt meer produksies moontlik maak. Sitplekke sluit nou monitors vir die elektroniese libretto sisteem in (wat deur Radio Marconi, 'n Italiaanse maatskappy, voorsien word). Dit laat gehore toe om die opera libretti in Engels en Italiaans te volg, bykomend tot die oorspronklike taal van die betrokke opera.

Die operahuis het op 7 Desember 2004 met 'n produksie van Salieri se Europa riconosciuta, die opera wat tydens La Scala se openingsaand in 1778 uitgevoer is, heropen, met Riccardo Muti as die dirigent.[6] Kaartjies vir die heropening het tot €2,000 gekos.[7]Die restourasie het na raming €61 miljoen gekos, en 'n begrotingstekort agtergelaat wat die operahuis eers in 2006 kon verhaal.[7]

2005 en daarna

Carlo Fontana, die algemene bestuurder van La Scala sedert 1990, was in Februarie 2005 deur die raad van goewerneurs ontslaan as gevolg van verskille met die musiekdirekteur, Riccardo Muti. Die gevolglike teenreaksie van die personeel het ernstige onderbrekings en stakings tot gevolg gehad. Die teater se raad het in 'n verklaring gesê dat die "teater se bestuur op dringende wyse herenig moes word". Op 16 Maart 2005 het die La Scala orkes en ander personeellede op oorweldigende wyse 'n mosie van wantroue teen Muti goedgekeur, en die bedanking van Fontana se plaasvervanger, Mauro Meli, geëis. Muti was reeds geforseer om 'n konsert wat 'n paar dae vroeër sou plaasvind as gevolg van die geskille te kanselleer. Italië se minister van kultuur, Giuliano Urbani, het die dirigent ondersteun maar 'n pleidooi gelewer vir dringende aksie deur die bestuur ten einde die gladde werking en prestige van La Scala te beskerm. Muti het op 2 April 2005 uit sy pos by La Scala bedank, en "vyandigheid" deur personeellede as rede aangevoer.

In Mei 2005 was Stéphane Lissner, voormalige hoof van die Aix-en-Provence-fees, as Algemene Bestuurder en Artistieke Direkteur van La Scala aangestel. Sodoende het hy die eerste nie-Italianer in die geskiedenis geword om die pos te hou. Op 15 Mei 2006 was Daniel Barenboim benoem as Maestro Scaligero, of de facto hoofdirigent, van die geselskap. In Oktober 2011 was Barenboim aangestel as die volgende musiekdirekteur van La Scala, met ingang Desember 2011, met 'n aanvanklike kontrak van vyf jaar.[8]

In Desember 2013 het die bestuur vir Riccardo Chailly as die volgende musiekdirekteur van La Scala benoem, met ingang 1 Januarie 2015.[9]

Stéphane Lissner het La Scala vir die Paris Opera verlaat. Sy opvolger Alexander Pereira, te wete die voormalige direkteur van die Salzburg-fees, het op 1 Oktober 2014 'n aanvang met sy amp geneem.[10] In Junie 2019 was dit aangekondig dat Pereira La Scala in 2020 sal verlaat en vervang sal word deur Dominique Meyer.[11]

La Scala was oorspronklik gekies om die openingseremonie van die 134ste vergadering van die Internasionale Olimpiese Komitee in 2019 te hou, maar die geleentheid is na Lausanne, Switserland geskuif nadat Milaan 'n bod (te wete die Milaan–Cortina d'Ampezzo gesamentlike bod vir die Olimpiese Winterspele 2026) vir die Olimpiese Winterspele 2026 ingesit het.[12]

Hoofdirigente/Musiekdirekteurs

Buigings

  • 1778: Europa riconosciuta deur Antonio Salieri
  • 1794: Demofoonte deur Marcos Portugal
  • 1800: Idante, ovvero I sacrifici d'Ecate deur Marcos Portugal
  • 1812: La pietra del paragone deur Gioachino Rossini
  • 1813: Aureliano in Palmira deur Gioachino Rossini
  • 1814: Il turco in Italia deur Gioachino Rossini
  • 1820: Margherita d'Anjou deur Giacomo Meyerbeer
  • 1827: Il pirata deur Vincenzo Bellini
  • 1829: La straniera deur Vincenzo Bellini
  • 1831: Norma deur Vincenzo Bellini
  • 1833: Lucrezia Borgia deur Gaetano Donizetti
  • 1835: Maria Stuarda deur Gaetano Donizetti
  • 1839: Oberto, Conte di San Bonifacio deur Giuseppe Verdi
  • 1840: Un giorno di regno deur Giuseppe Verdi
  • 1842: Nabucco deur Giuseppe Verdi
  • 1843: I Lombardi alla prima crociata deur Giuseppe Verdi
  • 1845: Giovanna d'Arco deur Giuseppe Verdi
  • 1868: Mefistofele deur Arrigo Boito
  • 1870: Il Guarany deur Antônio Carlos Gomes
  • 1873: Fosca deur Antônio Carlos Gomes
  • 1876: La Gioconda deur Amilcare Ponchielli
  • 1879: Maria Tudor deur Antônio Carlos Gomes
  • 1885: Marion Delorme deur Amilcare Ponchielli
  • 1887: Otello deur Giuseppe Verdi
  • 1889: Edgar deur Giacomo Puccini
  • 1892: La Wally deur Alfredo Catalani
  • 1893: Falstaff deur Giuseppe Verdi
  • 1904: Madama Butterfly deur Giacomo Puccini
  • 1924: Nerone deur Arrigo Boito
  • 1926: Turandot deur Giacomo Puccini
  • 1957: Dialogues of the Carmelites deur Francis Poulenc
  • 1981: Donnerstag aus Licht deur Karlheinz Stockhausen
  • 1984: Samstag aus Licht deur Karlheinz Stockhausen
  • 1988: Montag aus Licht deur Karlheinz Stockhausen
  • 2007: Teneke deur Fabio Vacchi
  • 2011: Quartett deur Luca Francesconi

Verwysings

Notas

  1. "La Scala" (VS) en Sjabloon:Oxford Dictionaries
  2. Beauvert, bl. 80
  3. Mallach 2007, bl. 165
  4. Shelley 1844, bl. 111
  5. Kelley 2004, bl. 317
  6. "La Scala opknapping vroegtydig klaargemaak". CBC News. 5 November 2004. Onbekende parameter |titel= geïgnoreer (|title= voorgestel) (help); Onbekende parameter |datum= geïgnoreer (|date= voorgestel) (help)
  7. 7,0 7,1 "La Scala raad ontslaan top beampte". BBC News. 25 Februarie 2005. Onbekende parameter |titel= geïgnoreer (|title= voorgestel) (help); Onbekende parameter |datum= geïgnoreer (|date= voorgestel) (help)
  8. "Barenboim om aan die hoof van La Scala te staan". Londen: Gramophone. 14 Oktober 2011. Besoek op 15 Oktober 2011. Onbekende parameter |werk= geïgnoreer (|work= voorgestel) (help); Onbekende parameter |titel= geïgnoreer (|title= voorgestel) (help); Onbekende parameter |datum= geïgnoreer (|date= voorgestel) (help)
  9. Dis amptelik: Riccardo Chailly aangestel om La Scala se nuwe musiekdirekteur te wees, Gramophone (Londen). 10 Desember 2013.
  10. "Alexander Pereira om La Scala amp in Oktober 2014 op te neem, 'n jaar vroeër as wat oorspronklik aangekondig is". Opera News. 19 Julie 2013. Besoek op 7 Oktober 2013. Onbekende parameter |datum= geïgnoreer (|date= voorgestel) (help); Onbekende parameter |titel= geïgnoreer (|title= voorgestel) (help)
  11. Brug, Manuel (2019-06-22). "Teatro alla Scala: Meyer soll Pereira in Mailand ablösen". Besoek op 2019-07-31. Onbekende parameter |titel= geïgnoreer (|title= voorgestel) (help); Onbekende parameter |datum= geïgnoreer (|date= voorgestel) (help)
  12. . Persberig. https://www.olympic.org/news/ioc-elects-milan-as-host-of-the-ioc-session-in-2019. Besoek op 21 Februarie 2019. 
  13. Conati and Medici 1994, p. 42
  14. Cantelli het een week na sy aanstelling tydens 'n vliegtuigongeluk gesterf.

Bronne

Eksterne skakels

{{bottomLinkPreText}} {{bottomLinkText}}
La Scala
Listen to this article