Londen
hoofstad en grootste stad van Engeland / From Wikipedia, the free encyclopedia
Londen (Engels: London [ˈlʌndən] luister (hulp·inligting)) is die hoofstad en grootste stad van Engeland en die Verenigde Koninkryk. Die stad, wat aan die Teemsrivier in die suidooste van Engeland geleë is, is in 50 n.C. deur die Romeine as Londinium gestig en het in die 19de eeu tot die grootste metropool ter wêreld gegroei. As hoofstad van die Britse Ryk het Londen tot enkele dekades gelede 'n beduidende rol as middelpunt van 'n wêreldryk gespeel waaroor "die son nooit ondergaan nie" en fungeer tans nog steeds as die hoofstad van die Britse Statebond (Engels: Commonwealth).
Kaart | Wapen (City of London) |
Vlag (City of London) | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Engeland |
Seremoniële graafskappe | City of London Groter Londen |
Koördinate | 51° 30' N, 0° 7' W |
Stigting | 50 (as Londinium) |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 1 572 vk km |
Hoogte bo seevlak | 35 m[1] |
Bevolking: | |
- Totaal (2015) | 8 630 000[2] |
- Bevolkingsdigtheid | 5 490/km² |
- Metropolitaanse gebied (2015) | 13 879 757 |
Tydsone | UTC ±0 (GMT) |
- Somertyd | UTC +1 (BST) |
Klimaat | |
- Tipe | Oseaniese klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 10,7 °C[3] |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 4,3 / 17,7 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 593 mm |
Burgemeester | Sadiq Khan (Labour) |
Amptelike Webwerf | london.gov.uk |
Vandag het ander metropole ten opsigte van hul bevolkingsgetal lankal by Londen verbygesteek. Desondanks is die stad naas Moskou en Parys een van die drie grootste stedelike sentra in Europa en een van die vernaamste finansiële sentra ter wêreld naas New York en Tokio. Net soos dié twee metropole word Londen as 'n Globale Alfastad (Alpha Global City) geklassifiseer en kan dus aanspraak daarop maak dat dit een van die episentra van die wêreldekonomie is.[4] Londen genereer sowat 'n vyfde van die Verenigde Koninkryk se bruto nasionale produk. Eeue lank reeds is Londen daarnaas 'n invloedryke sentrum in politiek, kunste en modeontwerp. In 2012 het Londen die eerste stad ter wêreld geword wat drie keer as gasheer van die Olimpiese Somerspele opgetree het.
Londen het vanuit die Teemsrivier gegroei. Die rivier het sy eerste deurgang gevorm, en tydens die verskeie immigrasiegolwe het Italianers, Jode, Hugenote en baie ander nuwe aankomelinge hulle in die East End van Londen, 'n vroeë voorstadgebied met sy tipiese werkersklasbuurte langs die rivieroewer, gevestig. As buitelanders is hulle aanvanklik nie tot die stad toegelaat nie.
Die oorspronklike historiese stadskern of "The City" is vroeër deur 'n stadsmuur beskerm en beslaan net 'n klein oppervlakte van sowat een vierkante myl tussen Tower Bridge en Blackfriars Bridge. "The City" is vandag die finansiële distrik van Londen wat nog steeds deur sy eie burgemeester, die "Lord Mayor" van Londen, geregeer word en om historiese redes ook sy eie polisie-eenheid, die City of London Police, het wat onafhanklik van Groter Londen se Metropolitaanse Polisie bestaan. Die administratiewe setels van Londen is buite die City of London in Southwark (hier het die moderne City Hall ontstaan) en in Londen se stadswyke (boroughs) geleë wat oor hul eie administratiewe liggame beskik, terwyl die Britse regering in Westminster (in die historiese "West End" met sy koninklike paleise) gesetel is.
Die huidige metropool het uit twee onafhanklike middeleeuse stede ontwikkel, die City of London en die City of Westminster (tans die geografiese sentrum van Londen), wat oor die eeue steeds verder uitgebrei het om nedersettings in die omgewing in te sluit en uiteindelik die huidige Groter Londen te vorm. Maar nog in die 19de eeu was daar geen sprake van 'n sentrale stadsregering nie en is die gebied van Groter Londen deur 150 parogieë met altesaam 300 administratiewe liggame bestuur. Die London County Council as eerste plaaslike owerheid vir die stadsgebied is eers in 1889 gevorm.
Die stad is ook nie stelselmatig as koninklike hoofstad beplan nie, en daar is geen statussimbole soos breë lane wat in ander magsentrums soos byvoorbeeld in Parys en Moskou aangelê is nie. Net soos Berlyn bestaan die huidige Groter Londen in werklikheid uit 'n verskeidenheid stadsbuurte wat hul oorsprong in histories selfstandige nedersettings het en tot vandag dikwels hul eie karakter bewaar het, soos Greenwich in die ooste en Richmond in die weste. Die meeste van hulle beskik oor hul eie High Street as historiese hoof- en winkelstraat.
Die stadsgebied van Londen is in die sogenaamde Londen-bekken geleë en strek oor 45 kilometer langs die bevaarbare benedeloop van die Teemsrivier, met 'n gemiddelde hoogte van 15 meter bo seevlak. Dit word omring deur saggies golwende heuwelland wat 'n maksimale hoogte van sowat 150 m bereik. "The City", aanvanklik 'n klein nedersetting aan die noordoewer en 75 km rivierop van die Teemsmonding geleë, was die historiese groeikern van Londen.
Die grootste gedeelte van Londen is dus noord van die rivier geleë. Tot in 1739 was die Londen-brug die enigste brugverbinding oor die Teems. Eers toe in die 18de eeu meer brûe gebou is en vanaf die 19de eeu ook spoorlyne ontstaan het, het Londen begin om in alle rigtings uit te brei en buurdorpe op te neem. Hierdie proses is deur die plaaslike landskapsvorm bevorder – die stadsgebied bestaan hoofsaaklik uit vlaktes of effens golwende terrein.
Die Teemsrivier was in die verlede duidelik wyer en minder diep. Vandag word sy loop grotendeels deur damme begrens, en die meeste takriviere vloei ondergronds. Die getye van die Noordsee kom hier nog duidelik in, en die seewater wat in die rivier opstoot, hou steeds 'n bedreiging vir Londen in. Om oorstromings en stormvloed te voorkom, is die sogenaamde Thames Barrier in die 1970's naby Woolwich (oos van Greenwich) gebou.
Die geografiese koördinate van die stadsentrum naby Trafalgar Square is die noordelike breedtegraad 51,30 en die westelike lengtegraad 0,08. Die bekende Nulmeridiaan loop deur die Koninklike Sterrewag in Greenwich en dien as die uitgangspunt van die lengtegrade en sodoende ook die tydsones.
Klimaat
Londen het net soos die grootste deel van Suid-Engeland 'n gematigde seeklimaat. Ondanks sy reputasie as 'n reënerige stad ontvang Londen met 611 mm minder jaarlikse neerslae as byvoorbeeld Rome met 834 mm of Bordeaux met 923 mm. Oktober, November en Desember is die natste maande met 'n gemiddelde reënval van 57 mm.
Winters is koel, waarby die kwik dikwels benede vriespunt kan daal. So kom ryp in die voorstede gedurende die tydperk tussen November en Maart sowat twee keer per week voor. Sneeuvalle word tussen vier en vyf keer per jaar aangeteken, veral tussen Desember en Februarie, soms ook so laat as Maart of April. Wintertemperature wissel gewoonlik tussen -4 °C en 14 °C. Die laagste temperatuur ooit is in die winter van 2010 met -14 °C in Northolt aangeteken. Destyds het die swaarste sneeuvalle in byna twee dekades ook vervoer in Londen ontwrig.
Somers is algemeen warm, waarby temperature in die dig beboude middestad as gevolg van die warmte-eiland-effek soms 5 °C hoër kan wees as in die voorstede en die omgewing van Londen. Die gemiddelde maksimale somertemperatuur is 24 °C, waarby die kwik op 'n gemiddeld van sewe dae per jaar ook bo 30 °C en op twee dae bo 32 °C kan styg. Temperature van meer as 26 °C word tussen middel Junie en laat Augustus op 'n weeklike basis aangeteken. Gedurende die hittegolf van 2003 het die kwik op veertien opeenvolgende dae bo 30 °C gestyg en op twee opeenvolgende dae selfs uiterstes van 38 °C bereik.
Lente- en herfsmaande word deur wisselende weerstoestande gekenmerk, met uiterstes tussen -10 °C en 37,9 °C. Inversielae oor Londen kom gereeld voor. Hoë vlakke van lugbesoedeling tydens 'n inversielaag met swaar mis het op 5 Desember 1952 tot duisende sterfgevalle gelei. Hierdie ramp staan as die Great Smog of '52 of die Big Smoke bekend.
Weergegewens vir Londen | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Hoogste maksimum (°C) | 15 | 19 | 21 | 29 | 32 | 35 | 35 | 38 | 35 | 28 | 21 | 15 | 38 |
Gemiddelde maksimum (°C) | 8,1 | 8,6 | 11,6 | 14,6 | 18,1 | 21,0 | 23,4 | 23,1 | 20,0 | 15,5 | 11,3 | 8,4 | 15,3 |
Gemiddelde minimum (°C) | 3,1 | 2,7 | 4,6 | 5,9 | 8,9 | 11,8 | 13,7 | 13,8 | 11,4 | 8,8 | 5,8 | 3,4 | 7,8 |
Laagste minimum (°C) | −21,1 | −9 | −8 | −2 | −1 | 5 | 7 | 6 | 3 | −4 | −5 | −21,1 | −21,1 |
Neerslag (mm) | 41,6 | 36,3 | 40,3 | 40,1 | 44,9 | 47,4 | 34,6 | 54,3 | 51,0 | 61,1 | 57,5 | 48,4 | 557,4 |
Bron: Wêreldmeteorologiese Organisasie[5] vir die uiterstes en metoffice.gov.uk[6] vir die gemiddeldes en die neerslag |
Status
Twee nedersettings in Groter Londen, die City of London en die City of Westminster, het stadstatus (city status). Die City of London en die res van Groter Londen vorm daarnaas seremoniële graafskappe. Die huidige Groter Londen – met 1 600 km² tans die tweede grootste metropool ter wêreld volgens oppervlakte na Moskou – sluit intussen ook gebiede in wat vroeër deel uitgemaak het van die historiese graafskappe Middlesex, Kent, Surrey, Essex en Hertfordshire en is tans een van die streke waarin Engeland vir administratiewe doeleindes verdeel is.
Die status van hoofstad van Engeland, en later van die Verenigde Koninkryk, is nooit amptelik aan die stad toegeken of deur 'n wet of enige ander geskrewe dokument bevestig nie. Die stad fungeer volgens 'n grondwetlike konvensie as regeringsetel sodat sy politieke status as de facto-hoofstad deel uitmaak van die Verenigde Koninkryk se ongeskrewe grondwet.
Oorspronklik het Winchester as hoofstad van Engeland gedien, maar toe die Westminster-paleis in die 12de en 13de eeu tot die permanente setel van die koninklike hof ontwikkel het, het Londen sy funksie as politieke hoofstad oorgeneem. Westminster en Whitehall vorm al byna 'n millennium lank 'n politieke, godsdienstige en koninklike magsentrum nadat die laaste Angel-Saksiese koning Eduard die Belyer (1042–1066) Westminster tot koninklike en biskopsetel verhef het.
Die vroeë Engelse parlement het oorspronklik in die 14de eeu in die Westminster-abdy vergader en kon later, toe die koninklike hof onder Hendrik VIII na Whitehall verhuis het, die hele koninklike Westminster-paleis as sy setel oorneem. In die 19de eeu, toe die mag van die Britse Ryk sy hoogtepunt bereik het, het die regeringsdepartemente van Whitehall oor 'n kwart van die wêreldbevolking geregeer.[7]
Etimologie
Daar bestaan steeds 'n meningsverskil oor die etimologie van die stadsnaam, en deur die eeue is 'n verskeidenheid hipoteses en teorieë ontwikkel wat meestal om taalkundige of historiese redes verwerp is. Slegs 'n klein aantal daarvan kan aanspraak maak op akademiese plausibiliteit, alhoewel daar nog geen regstreekse bewyse vir enige stelling opgelewer is nie.
Londen is in die 1ste eeu n.C. deur die Romeine gestig, maar daar het al vroeëre nedersettings in die huidige stadsgebied bestaan. Wortels soos Londin- en Lundin- kom in die meeste naamvariante voor waarmee vanaf die Romeinse tydperk na Londen verwys is. Geoffrey of Monmouth se 12de eeuse werk Historia Regum Britanniae ("Geskiedenis van die Konings van Brittanje") beweer dat die stadsnaam van koning Lud afgelei is wat in die vroeë geskiedenis oor Londen geregeer en dit Kaerlud genoem het. Die oudste historiese verwysing na die Romeinse naam Londinium dateer van 121 n.C.
Vanaf 1898 is algemeen aangeneem dat die stadsnaam van Keltiese oorsprong sou wees. Sy betekenis is geïnterpreteer as die "plek wat aan 'n man met die naam Londinos behoort". Hierdie stelling word deur moderne wetenskaplikes verwerp. In 1998 het Richard Coates met 'n nuwe teorie na vore gekom waarvolgens die naam van die voor-Keltiese Oud-Europese wortel *(p)lowonida ("rivier wat te wyd is om dit te deurwaad"). Volgens Coates is daardie naam vir 'n deel van die Teemsrivier gebruik wat deur Londen vloei en sou later die basis vir die Keltiese benaming Lowonidonjon vorm.[8]
Tot en met 1889 is slegs na die City of London amptelik as London verwys, maar sindsdien is die naam ook vir die graafskap Londen gebruik. Dit verwys tans na die hele stadsgebied van Groter Londen.
Vroeë geskiedenis en antieke tydperk
Twee onlangse argeologiese ontdekkings dui daarop dat die geskiedenis van Londen verder terug strek as aanvanklik aangeneem. So is in 1999 oorblyfsels van 'n brug uit die Bronstydperk noord van Vauxhall-brug opgegrawe. Hierdie brug het óf die Teemsrivier oorspan óf tot 'n (verlore) riviereiland gelei. Dendrologiese ondersoeke het die brughout op 1500 v.C. gedateer.
In 2010 is die fondament van 'n groot houtstruktuur aan die Teemsoewer suid van die Vauxhall-brug deur argeoloë blootgelê. Die funksie van hierdie Steentydse gebou, wat omstreeks 4500 v.C. ontstaan het, is tans nog nie ontsleutel nie, maar dit beslaan 'n oppervlakte van 50 m x 10 m, en 'n groot aantal pale met 'n lengte van 30 sentimeter word tydens eb sigbaar. Albei strukture is by South Bank geleë, sowat vier kilometer rivier-op van die latere Romeinse Londinium en naby die monding van die Effra- in die Teemsrivier waar die rivier maklik oorgesteek kon word. Die kraginspanning, wat aan die oprigting van hierdie strukture vervbonde was, het handelsbetrekkinge, stabiliteit en 'n plaaslike gemeenskap van tenminste enkele honderd bewoners vereis.
Alhoewel kleiner nedersettings van Britoniese Kelte spore in die gebied gelaat het, is Londen as stedelike nedersetting eers in 43 n.C. deur die Romeine gestig.[9] Hierdie vroeë Romeinse nedersetting het slegs sewentien jaar lank as belangrike hawe en middelpunt van die Romeinse padnetwerk in Brittanje bestaan voordat dit in 61 tydens 'n opstand deur die Keltiese Iceni-stam onder bevel van koningin Boudica ingeneem en tot die grond afgebrand is.
Die heropbou van Londinium is noukeurig beplan, en uiteindelik het dit in 100 Camulodunum (die huidige Colchester) as administratiewe hoofstad van die Romeinse provinsie Britannia vervang. Vanaf 197 n.C. was Londinium die hoofstad van die provinsie Britannia superior en vanaf omstreeks 300 n.C. die hoofstad van Maxima Caesariensis. Op sy hoogtepunt het Londinium in die 2de eeu sowat 60 000 inwoners getel. 'n Aantal belangrike openbare geboue het hier ontstaan, waaronder die grootste basiliek noord van die Alpe, tempels, baddens, 'n amfiteater en 'n groot fort vir die stedelike garnisoen. As 'n welvarende handelsentrum is die stad met 'n muur versterk. Ook ses van Londen se sewe tradisionele stadspoorte dateer uit die Romeinse periode: Ludgate, Newgate, Aldersgate, Cripplegate, Bishopsgate en Aldgate. Die enigste uitsondering is Moorgate wat eers in die middeleeue ontstaan het.
Politieke instabiliteit en die ekonomiese agteruitgang vanaf die 3de eeu het bygedra tot Londinium se geleidelike verval. In die onstuimige periode tussen 200 en 400 was Londinium as buitepos van die Romeinse wêreld aan Germaanse aanvalle blootgestel. Die plaaslike Romeinse magte was op Germaanse huursoldate aangewese om die stad teen invallers te beskerm. Nadat Brittanje in 410 deur die Romeine ontruim is, is Londinium se status afgeskaal tot dié van 'n landelike nedersetting wat deur Angel-Saksiese krygshere oorheers is.
Die Angel-Saksiese tydperk
In die tyd tot die 7de eeu het 'n nuwe Angel-Saksiese nedersetting, Lundenwic, sowat twee kilometer rivier-op vanaf die ou Romeinse stad ontstaan, met die huidige Covent Garden as sy middelpunt. Hierdie nedersetting met 'n geometriese straatrooster het 'n bevolking van tussen 10 000 en 12 000 gehuisves. Waarskynlik was daar 'n vissers- en handelshawe by die monding van die Fleet-rivier wat van Lundenwic 'n florerende handelsentrum gemaak het voordat die nedersetting deur Wikings ingeneem is en ooswaarts na die ou Romeinse stadsgebied met sy beskermende stadsmuur verskuif moes word. Die agtervoegsel -wic dui in elk geval daarop dat dit 'n handelsplek was.
Die vroeë Angel-Saksiese Londen was in die stamgebied van die Middel-Saksers geleë wat hul naam aan die graafskap Middlesex verleen het, alhoewel hierdie stam 'n groter gebied bewoon het wat waarskynlik tot in die huidige Hertfordshire en Surrey gestrek het. Teen die vroeë 7de eeu is Londen egter by die Oos-Saksiese koninkryk ingelyf. Koning Saebert van Essex het in 604 die Christelike geloof aangeneem, en Mellitus, die latere 3de aartsbiskop van Canterbury, het Londen se eerste biskop sedert die einde van die Romeinse heerskappy geword.
Essex het in hierdie tyd onder die gesag van koning Æthelberht van Kent gestaan. Hierdie monarg het ook as beskermheer vir die eerste katedraal gefungeer wat deur Mellitus opgerig en aan Sint Paulus gewy is. Volgens tradisionele oorlewerings het hierdie katedraal op die terrein van 'n vroeëre Romeinse Diana-tempel ontstaan, maar die latere boumeester Christopher Wren het geen bewyse gevind wat dié bewering sou kon gestaaf het nie. Dit was nog 'n taamlik eenvoudige kerkgebou en is moontlik vernietig nadat Mellitus deur Saeberht se heidense opvolgers uit die stad verdryf is.
Eers tydens die regentskap van koning Sigeberht II in die 650s is die Christelike geloof as permanente godsdiens in die Oos-Saksiese koninkryk gevestig. Gedurende die 8ste eeu het die koninkryk Mercia se invloed tot die suidooste van Engeland begin uitbrei, en uiteindelik is die hele gebied deur Mercia geannekseer. Londen het blykbaar vanaf die 730s onder die regstreekse gesag van Mercia gestaan.
Londen is vir die grootste deel van die 9de eeu deur Wiking-aanvalle geteister wat vanaf omstreeks 830 in intensiteit toegeneem het. Die stad is twee keer, in 842 en nog eens in 851, geplunder. Die Deense "Groot Heidense Leër", wat vanaf 865 deur Engeland getrek en dood en verwoesting gesaai het, het in 871 in Londen oorwinter. Die stad het nog tot in 886 in Deense hande gebly voordat dit deur koning Alfred die Grote se magte ingeneem en 'n vredesooreenkoms met die Deense leier Guthrum gesluit is. Engeland is in 'n Saksies-oorheerste koninkryk onder Alfred se gesag en in die Deens-oorheerste Danelaw opgedeel. Londen is vervolgens weer by Mercia ingesluit wat destyds deur Alfred se skoonseun Ealdorman Æthelred geregeer is.
Die fokus van die nedersetting, wat voortaan as Lundenburgh bekend gestaan het, is destyds om veiligheidsredes na die ou Romeinse stad met sy beskermende stadsmuur verskuif. Die muur en ander versterkings is herstel, terwyl ook die Teemsbrug waarskynlik in hierdie periode, wat as die historiese beginpunt van die City of London en sy besondere administrasie beskou word, herbou is. Die tradisionele stadsgrense van die City kom ook vandag nog grotendeels met die ou stadsmuur ooreen.
'n Tweede versterkte borough het aan die suidoewer in die huidige Southwark ontstaan, die Suthringa Geworc of "Verdedigingswal van die mans uit Surrey". Die oorspronklike Saksiese nedersetting Lundenwic het voortbestaan as Ealdwic ("ou stad"), 'n naam wat steeds voortleef in Aldwych (tans in die City of Westminster geleë).
Ná Æthelred se afsterwe het Londen weer onder die regstreekse gesag van die konings van Engeland gestaan. Die Koninkryk Engeland, wat deur Alfred gestig is, is deur sy seun Edward die Ouere na voormalige Deense gebiede uitgebrei. Londen was in die vroeë 10de eeu al 'n belangrike handelsentrum, en alhoewel die regeringsetel van die Engelse konings steeds in Winchester geleë was, het dit ook tot 'n politieke sentrum begin ontwikkel. Onder koning Æthelstan is Koninklike Raadsvergaderings in Londen gehou en ook baie wette hier afgekondig. Koning Æthelred II het van Londen sy gunstelinghoofstad gemaak en hier in 978 die sogenaamde Londense Wette (Laws of London) afgekondig.
Gedurende die heerskappy van koning Æthelred het die Wikings hul aanvalle op Engeland hervat. 'n Leër onder bevel van koning Sven Gaffelbaard van Denemarke het in 994 'n vergeefse poging onderneem om Londen in te neem. Die Engelse weerstand teen die Deense aanvallers is in 1013 gebreek, maar Londenaars het steeds daarin geslaag om Deense aanvalle af te weer en was eers laat in daardie jaar genoodsaak om aan die Deense magte oor te gee. Die koning het na die buiteland gevlug.
Net vyf weke nadat hy as koning geproklameer is, is Sven oorlede en het Æthelred sy regentskap herstel. Sven se seun Knut het die Deense aanvalle in 1015 hervat. Ná Æthelred se afsterwe in 1016 is sy seun Edmund Ironside deur die witangemot as koning uitgeroep en het darna na Wessex vertrek om daar sy troepe te versamel. Londen is deur Knut se magte beleër, maar deur koning Edmund se magte ontset. Ná sy neerlaag in die slag van Ashdown het Edmund alle Engelse gebiede noord van die Teemsrivier aan Knut afgestaan, insluitende Londen. Met Edmund se dood enkele weke later het die hele land onder Knut se bewind gekom.
Die Engelse heerskappy oor die land is eers in 1042 na die uitwissing van Knut se dinastie onder Eduard die Belyer herstel. Eduard het bekendheid verwerf as die stigter van die Westminster-abdy waar hy baie tyd deurgebring het. Sodoende het Westminster geleidelik die City of London as regeringsetel vervang.
Edward is in 1066 sonder duidelike erfgenaam in die Westminster-abdy oorlede. Vervolgens is graaf Harold Godwinson en Willem die Baster, hertog van Normandië, in 'n opvolgingsgeskil gewikkel. Harold Godwinson is deur die witenagemot as Engelse koning verkies en in die Westminster-abdy gekroon, maar kort daarna deur Willem in die Slag van Hastings gedood. Die oorlewende lede van die witan het in Londen vergader om Edward se jong neef Edgar die Ætheling as opvolger te verkies.
Normandiese magte het intussen na die Teems se suidoewer net teenoor Londen beweeg waar hulle 'n Engelse aanval afgeweer en Southwark tot die grond afgebrand het. Hulle was egter nie in staat om die plaaslike brug in te neem nie. Hulle het rivierop getrek en die rivier by Wallingford oorgesteek voordat hulle vanuit die noord-weste na Londen beweeg het. Die Engelse leierskap kon net 'n kort tyd lank weerstand bied. Uiteindelik het Londen se leidende burgers hulle in Berkhamstead saam met kerkleiers en adellikes aan Willem onderwerp, alhoewel daar volgens sommige oorlewerings nog gevegte plaasgevind het toe die Normandiese magte Londen bereik het. Ná die besetting van die stad is Willem as koning van Engeland gekroon.
Die Normandiese en Middeleeuse tydperk
In 1067 het Willem 'n oktrooi uitgereik waardeur die Saksiese regte, voorregte en wette bevestig is. Die koning, wat voortaan as Willem die Veroweraar bekend gestaan het, het 'n aantal koninklike vestings langs die Londense Teemsoewer laat bou, waaronder die Tower of London (Londense Tower), Baynard en Montfichet se kastele, om die stad teen seeaanvalle deur Wikings te beskerm en opstande te voorkom. Londen se status as selfregerende nedersetting is tydens die heerskappy van koning John in 1199 en 1215 deur verkiesingsregte bevestig.
Westminster Hall, wat vanaf 1097 deur Willem Rufus, die seun van Willem die Veroweraar, opgerig is, sou later die basis vir die Westminster-paleis vorm wat gedurende die middeleeue as belangrikste koninklike setel gedien het. Die koninklike Bermondsey-landgoed is deur Willem in 1089/90 aan Alwinus Child, die stigter van 'n abdy, geskenk, wat hier net teenoor die White Tower 'n nuwe klooster laat bou het. 'n Ander sakrale gebou, die Augustynse Sint Bartolomeus-die-Grote-kerk, het vanaf 1123 in West Smithfield ontstaan. Alhoewel slegs die kansel van hierdie groot kerkgebou tot vandag toe bewaar gebly het en tans as parogiekerk fungeer, is dit nogtans een van die belangrikste oorblyfsels van Normandiese boukuns in Londen.
Boubedrywighede vir die Londen-brug, deesdae een van die bekendste bakens in die Britse hoofstad, het in 1176 begin. Hierdie steenbrug, wat ouer houtbrûe vervang het, is in 1209 voltooi. Tot in 1739 was dit die enigste brug wat die Teemsrivier oorspan het.
Tudor-tydperk
Gedurende die Protestantse Hervorming was Londen 'n vroeë sentrum van Protestantisme in Engeland. Die stad se nou handelsbande met die Protestantse hartland van Noord-Europa, groot gemeenskappe buitelandse handelaars, die buitegewoon groot persentasie geletterde inwoners en Londen se rol as sentrum van die Engelse drukkerybedryf het daartoe bygedra dat die idees van kerkhervorming hier vinnig neerslag gevind het. Voor die Reformasie was meer as die helfte van die Londense stadsgebied in besit van kloosters en ander godsdienstige instellings.
Die ontbinding van kloosters op bevel van koning Hendrik VIII het groot omwenteling in Londen gebring aangesien byna alle kerk- en kloosterbesit herverdeel is. Hierdie proses het teen die middel van die 1530's begin, en in 1538 was die meeste groot kloosters al ontbind. Holy Trinity Aldgate is deur Lord Audley oorgeneem, die Charterhouse deur Lord North, Blackfriars deur Lord Cobham, die St. Giles-melaatsehospitaal deur Lord Dudley, terwyl die koning die St. James-melaatsehospitaal vir homself as St. James-paleis laat herbou het.
Onder die regentskap van die Tudor-dinastie het Londen 'n al hoe belangrike rol as een van Europa se groot handelsmetropole begin speel. Handelsbetrekkinge, wat voorheen hoofsaaklik met Wes-Europa onderhou is, is uitgebrei tot Rusland, die Levant en die Amerikas. Merkantilisme en groot maatskappye met handelsmonopolies soos die Moskouse Kompanjie (1555) en die Britse Oos-Indiese Kompanjie (1600), wat in Londen per koninklike oktrooi gestig is, het hul bloeitydperk beleef. Die laasgenoemde, wat uiteindelik Indië sou beheer, was twee en 'n halfeeu lank een van die sleutelinstellings in die Engelse hoofstad en die hele Brittanje. Immigrante, wat hulle in Londen gevestig het, het nou nie net uit Engeland en Wallis gekom nie, maar ook vanuit die buiteland na die hoofstad gestroom, soos byvoorbeeld Hugenote uit Frankryk. Die stadsbevolking het gegroei van 'n geskatte 50 000 in 1530 tot sowat 225 000 in 1605. Hierdie aanwas is net soos die groeiende welvaart deur die grootskaalse uitbreiding van kusskeepvaart bevorder.
In die laat 16de en vroeë 17de eeu het ook Londen se toneelbedryf gefloreer, met William Shakespeare as die bekendste verteenwoordiger van dramakuns. Die laat regeringsjare van koningin Elizabeth I was 'n redelike rustige tydperk waartydens sommige van haar howelinge, net soos welgestelde Londenaars, herehuise vir hulself in landelike gebiede soos Middlesex, Essex en Surrey laat bou het. Dit was die beginjare van die sogenaamde villa-beweging toe wonings ontstaan het wat nòg as stadshuise gekwalifiseer het nòg op groot plase geleë was. Londen was, toe die Tudors in die 17de eeu uitgesterf het, nog 'n relatief kompakte nedersetting.
Stuart-tydperk
Vanaf die 17de eeu het die beboude gebied buitekant die stadsmure uitgebrei. Teen die begin van die eeu was die woontoestande vir die oorgrote meerderheid van die bevolking steeds ongesond en het sterk gekontrasteer met die leefwêreld van adellikes wat vir hulself herehuise in die omgewing van Westminster laat bou het.
Onhigiëniese toestande het Londenaars indertyd aan 'n verskeidenheid siektes en infeksies blootgestel. So moes die voorbereidinge vir die kroning van koning James I weens die uitbreek van 'n verwoestende pesepidemie, waaraan na ramings moontlik dertigduisend inwoners dood is, tydelik gestaak word.
Die kerkskip van die ou St. Paul's-katedraal het in dié tyd bedags as die belangrikste algemene vergaderplek gedien waar handelaars hul goedere in die gange te koop aangebied het, terwyl die doopvont as toonbank gebruik is. Advokate het van hul klante by bepaalde suile ontvang, en werkloses het in die kerk werkgeleenthede kom soek. Die kerkhof van St. Pauls was die middelpunt van Londen se boekhandel, terwyl die omgewing van Fleet Street tot 'n gewilde vermaakdistrik ontwikkel het.
Die toneelkuns, wat tydens die regentskap van Elizabeth I hoogtyd gevier het, het reeds onder James I al hoe meer gewilder geraak. Die groot invloed, wat drama- en teaterkuns op die alledaagse lewe uitgeoefen het, blyk uit die feit dat die dra van gesofistikeerde maskers destyds 'n modeverskynsel aan die koninklike hof en in die regswêreld geword het.
In 1625 het Charles I die Engelse troon bestyg. Tydens sy regentskap het adellikes hulle in groot getalle in die Londense West End begin vestig. Naas die adellikes, wat aan die koningshof verbonde was, het ook steeds meer adellike grondbesitters uit ander dele van die land saam met hul gesinne 'n deel van die jaar in die hoofstad deurgebring om aan Londen se sosiale lewe deel te neem. Dit was die begin van die tradisionele London season.
Tydens die Engelse Burgeroorlog het Londenaars die kant van die parlement gekies. Aanvanklik het die koninklike magte die opperhand in die oorlog gehad, en in November 1642 het die koning 'n oorwinning in die Slag van Brentford enkele kilometer wes van Londen behaal. Nadat die hoofstadbewoners haastig troepe saamgestel het om in die stad teen 'n aanval te kan verdedig, het koning Charles I die aanwending van verdere militêre aksie verwerp en sy troepe aan die hoofstadgebied onttrek. Vervolgens is nuwe uitgebreide versterkings rondom Londen, Westminster en Southwark gebou.
Die koninklike magte het vir Londen geen bedreiging meer ingehou nie, en die hoofstad het finansieel bygedra tot die parlement se militêre oorwinning in die volgende jaar. Charles I is van hoogverraad aangekla en tereggestel. Die monargie is tydelik afgeskaf en 'n kortstondige republikeins-puriteinse bedeling gevestig.
Oorloë was egter nie die enigste bedreiging vir die stadsbewoners nie. Onhigiëniese toestande en oorbevolking was deur die eeue steeds weer die oorsaak van pesepidemieë. In 1665 en 1666 het die Swart Dood vir die laaste keer groot verwoesting gesaai – 'n gebeurtenis wat later as die "Groot Plaag" bekend sou staan. Sowat 60 000 Londenaars het aan die aansteeklike siekte beswyk. Die kroniekskrywer Samuel Pepys berig in sy dagboek oor die skrikbewind wat die pes in Londen gevoer het: "Ek het in die stad aangebly totdat meer as 7 400 in een week gesterf het, en hiervan het sowat 6 000 aan die plaag beswyk, en doodsklokke was die enigste geluid wat bedags en snags hoorbaar was."
Die Groot Brand van 1666
Sowat 350 jaar gelede was die brandgevaar in Londen nog besonder groot omdat die meeste geboue nie net heeltemal van hout gebou nie, maar ook besonder na aan mekaar gebou is. Londen se strate was só dig bebou dat die boonste verdiepings van woongeboue mekaar byna aangeraak het. Kerse was gewoonlik die enigste vorm van beligting, terwyl oop vure vir verhitting en kookdoeleindes algemeen gebruiklik was. Klein brande het gereeld uitgebreek, maar kon meestal gou in bedwang gebring word.[10]
In die vroeë oggendure van Sondag 2 September 1666 het 'n klein brand in Thomas Farriner se bakkery in Pudding Lane uitgebreek nadat die vuur in die bakoond op Saterdagaand blykbaar nie behoorlik geblus is nie. Moontlik het vlieënde vonke uit die oond strooi en houtstapels, wat as reserwebrandstof naby die oond gestoor is, en meelvoorrade aan die brand gesteek. Binnekort was die hele bakkerygebou en aangrensende woonhuise in vlamme gehul.
Dat dié brand totaal buite beheer kon raak, was aan die destydse nalatigheid ten opsigte van die stoor en hantering van ontvlambare materiaal te wyte. Londen was in die 17de eeu die handelspilpunt vir heel Engeland, met die Teemsrivier as 'n besige waterweg waarop groot hoeveelhede goedere op bote vervoer is. Weerskante van die rivier was stoorhuise van vloer tot dak volgepak met hoogs ontvlambare handelsware soos papier, suiker, speserye, tekstiele, toue, olie, alkoholiese dranke, hooi, bouhout en swartkruit. Weersinvloede het ook 'n sekere rol gespeel – die somer van 1666 was net soos dié van die vorige jaar baie warm en droog sodat watervoorrade uitgeput geraak het.[11]
Terwyl die brand verder uitgebrei en hele blokke woongeboue en stoorhuise hoog in vlamme gestaan het, het chaotiese tonele op die Teems begin afspeel. Paniek het huisbewoners en handelaars gepak wat hul besittings en ware van die dreigende vlamme probeer red het deur hulle in die rivier te gooi. Londen se nou straatjies was eweneens volgepak met duisende mense wat hul besittings op karre na veiligheid probeer bring het, maar sodoende ook die weg versper het vir die brandbestryders. Londenbrug was tot in die 18de eeu die enigste brug oor die Teems. In 1666 was dit egter nog dig bebou met woonhuise en sodoende té nou om as maklike vlugpad te kan dien. Die heersende windrigtings gedurende die Groot Brand en 'n brandskot op die brug het gekeer dat die vlamme nie langs Londenbrug na Southwark kon uitbrei nie.
17de eeuse beskrywings verwys na John Keeling in Blackfriars as die vernaamste vervaardiger van destydse brandweerwaens – houtkarretjies waarop 'n watertenk van hout en 'n pomp gemonteer is. 'n Ander gebruiklike brandbestrydingsmetode in 17de eeuse Londen was om hele blokke woonhuise vinnig af te breek sodat 'n grootskaalse brand nie verder kon uitbrei nie. Londen se brandweertoerusting is in 1666 nog grotendeels in die Sint Magnus-die-Maartelaarkerk gestoor. Ongelukkig was dié kerkgebou digby Thomas Farriner se bakkery geleë sodat dit die tweede kerk geword het wat nog op die eerste aand van die Groot Brand deur die vlamme vernietig is. In historiese oorlewerings word die destydse Lord Mayor, Sir Thomas Bloodworth, as een van die sondebokke vir die omvang van die brandramp-chaos genoem. In die vroeë oggendure van die eerste dag van die Groot Brand is hy wakker gemaak om sy toestemming tot die grootskaalse afbreek van huise te verleen.
Nadat die burgemeester die omvang van die brand met sy eie oë gesien het, het hy – ook uit vrees vir die skadevergoeding wat die eienaars van afgebreekte geboue moontlik kon eis – vasgestel dat die situasie geen besondere maatreëls sou regverdig nie. Volgens die amptenaar Samuel Pepys se dagboekinskrywing het Bloodworth opgemerk dat die omvang van die brand eintlik só klein was dat "'n ou vrou dit sou kon uitpis."
Later die aand het die besorgde koning die inisiatief geneem en die bevel gegee om so veel huise soos nodig af te breek. Op dié stadium het die brand reeds vinniger uitgebrei as brandbestryders huise kon afbreek. Uiteindelik moes geboue met buskruit opgeblaas word. Vanweë die sterk wind, wat tydens die brand gewaai het, het die vlamme langs die Teemsoewer na die middestad uitgebrei. Die brand het vyf dae en nagte gewoed en altesaam 13 200 woonhuise, 87 van Londen se 109 kerke, drie stadspoorte en 52 gildehuise vernietig. Vier vyfdes van die stadsgebied is in puin gelê en sowat 100 000 Londenaars dakloos gelaat. Terwyl die bevestigde dodetal op slegs vier staan, dui berigte van waarnemers op 'n hoër aantal slagoffers.[12] So het moontlik 'n groter aantal gevangenes wat in Londen se tronke vasgeketting was, gestremdes en alleenstaande ouer mense hul lewens verloor.[13] Dit het sowat vyftig jaar geneem om die stad te herbou, en saam met nuwe woonhuise, wat van steen gebou is en sodoende meer bestand teen brande was, het ook die eerste versekeringsondernemings ontstaan.
Tydens en kort ná die Groot Brand was die soeke na sondebokke 'n onversadigbare behoefte by getraumatiseerde Londenaars. Allerhande gerugte was in omloop, en selfs die koning is van brandstigting verdag – moontlik kon hy op dié manier wraak geneem het oor die teregstelling van sy vader. Ook buitelanders – Iere, Franse, Spanjaarde en veral Nederlanders is verdag aangesien Engeland steeds in die Tweede Nederlands-Engelse Oorlog gewikkel was. Daarnaas was Rooms-Katolieke hoofverdagtes.
Aanvanklik is Thomas Farriner aan strafvordering blootgestel, maar geen aanklagtes is ingedien nie nadat Robert Hubert, 'n Franse horlosiemaker, skuld op brandstigting beken het. Al was sy skuldbelydenis ongeloofwaardig – hy het eers op die tweede dag van die brandramp in Londen aangekom en was moontlik 'n persoon van lae intelligensie wat die betekenis van sy belydenis nouliks kon begryp nie – is hy later tereggestel.
Enkele jare later is daar besluit om 'n monument ter herdenking van die Groot Brand op te rig. Tussen 1671 en 1677 het volgens 'n ontwerp van Sir Christopher Wren en Dr Robert Hooke juis op dié plek, waar St Margaret's as die eerste kerk deur die vlamme verswelg is, 'n monument in die vorm van 'n Doriese pilaar ontstaan wat presies 202 voet (62 meter) hoog en 202 voet van Thomas Farriner se bakkery af geleë was. Die pilaar is met 'n brandende goue urn bekroon wat die Groot Brand versinnebeeld. Die monument staan oop vir die publiek, en besoekers, wat die altesaam 311 trappies opklim, geniet nie net 'n panoramiese uitsig oor die Britse hoofstad nie, maar ontvang ook 'n prestasie-sertifikaat.
'n Tweede monument, die Golden Boy of Pye Corner, markeer die plek waar die vuur opgehou het om te brand. Die vergulde houtstandbeeld by die hoek van Giltspur Street en Cock Lane in Smithfield is vernoem na die historiese kroeg Fortune of War Public House, wat in die volksmond ook as Magpie Tavern bekendgestaan het, en bedoel as 'n waarskuwing vir toekomstige generasies. Baie 17de eeuse Londenaars het immers geglo dat God hulle weens hul vreetsug met die Groot Brand gestraf het.
Londen as Europese wêreldstad
Toe Karel II, wat in April 1661 as koning van Engeland en Ierland gekroon is, op 29 Mei 1660 – sy 30ste verjaardag – in Londen aangekom het, was die Engelse hoofstad moontlik – presiese statistieke ontbreek – die grootste Europese metropool. Dit was nie soseer Londen se status as politieke sentrum en regeringsetel nie, maar sy uitgebreide handelsaktiwiteite wat bygedra het tot die feit dat in die tweede helfte van die 17de eeu reeds 'n disproporsionele persentasie van die Engelse bevolking, waarskynlik 'n tiende, in Londen self en sy satellietstede, wat langs die Teemsvallei begin uitbrei het, saamgetrek was.
Die Georgiaanse tydperk
Die Georgiaanse tydperk was 'n periode van ongekende stedelike groei waartydens Londen – in vergelyking met die metropole van vastelandse Europa – tot 'n uitgestrekte stad met 'n relatief lae bevolkingsdigtheid ontwikkel het wat hoofsaaklik uit enkelgesinshuise bestaan het. Dié ontwikkeling was enersyds aan die afwesigheid van enige vorm van stadsmure of ander versterkings te danke wat die uitbreiding van die beboude gebied sou kon belemmer het. Maar nog belangriker was die byna onbeperkte aanbod van bougrond teen lae koste danksy die gebruiklike langtermyn-pagstelsel.[14]
Nogtans het Londen se bevolking in die tydperk tussen 1700 en 1800 gegroei van 600 000 tot een miljoen. Die Britse hoofstad was in dié tyd nie net die grootste metropool op aarde nie, maar het met sy uitgebreide wêreldwye netwerk van handels- en militêre belange alle Europese mededingers by verre oortref. Die Protestantse geloof en die vroeg-kapitalistiese ekonomiese stelsel met sy vrye mark, waar alle goedere – in die destydse tydperk van slawerny selfs mense – sonder enige beperkings van staatskant af ver- en gekoop kon word, word algemeen as dryfkragte van Londen se buitengewone groei aangevoer.
Ekonomiese vryhede het gepaard gegaan met vrysinnigheid en nuwe vorme van intellektualisme. Vrygeeste en vrydenkers het aangetrokke gevoel tot Londen, net soos mense wat net op soek was na vermaak. So was Londen in heel Europa berug vir die groot aantal prostituees op sy strate.
Die stad het in 'n spanningsveld tussen ongekende ekonomiese welvaart en die chaotiese toestand van oorbevolking verkeer – sy Middeleeuse infrastruktuur en sy munisipale instellings was juis nie meer in staat om in al die behoeftes van só 'n groot bevolking te voorsien nie. Terwyl welgesteldes die mees gesofistikeerde verbruikersgoedere kon bekostig wat ooit in Europa aangebied is, het baie Londenaars in chroniese armoede geleef.