Lys van groothertoë van Rusland
Wikimedia lysartikel / From Wikipedia, the free encyclopedia
Hier volg ’n lys van groothertoë van Rusland, die lede van die Huis van Romanof (later Holstein-Gottorp-Romanof) wat die titel weliki knjaz (Russies: великий князь) gehad het (gewoonlik vertaal as "groothertog", maar meer akkuraat "grootprins" of "grootvors"). Die titel was dié van die seuns en die kleinseuns in die manlike lyn van die keiser van Rusland, saam met die aanspreekvorm "Sy Keiserlike Hoogheid".
Die titel het in die 9de eeu ontstaan toe die heersers van Kiëf-Roes so genoem is. Van die 17de eeu af is dit gebruik vir verskeie lede van die keiserlike huis. Hulle was nie heersers nie, maar dinaste van die huis van die regerende keiser (of tsaar).
Keiserin Elisabeth van Rusland het aan die toekomstige Pieter III, die enigste oorlewende manlike afstammeling van haar pa, Pieter die Grote, die titel groothertog gegee, al was hy nie ’n afstammeling deur die manlike lyn nie (hy was haar suster, Anna, se seun).
Ná die geboorte van die seuns van Nikolaas I het die getal groothertoë toegeneem en dit het ’n einde gebring aan die vroeëre kwesbaarheid wat die Russiese troonopvolging gekenmerk en die land onstabiel gemaak het. In die 1880's (toe daar meer as 20 groothertoë was) het tsaar Aleksander III gevoel die getal afstammelinge met die titel doen afbreuk aan die prestige daarvan. Op 2 Julie 1886 (Juliaanse kalender; 14 Julie 1886 volgens die Gregoriaanse kalender) het hy die wet verander sodat net die seuns van ’n keiser en húl seuns kon aanspraak maak op die titel. Die seuns van dogters sou voortaan die titel "prins" hê.
Ook seuns wat uit ’n morganatiese huwelik gebore is, is die titel ontsê. Daar is tans geen afstammelinge wat onbetwis kan aanspraak maak op die titel groothertog nie.