Mitraïsme
From Wikipedia, the free encyclopedia
Mitraïsme of Mithraïsme, ook bekend as die Mitraïstiese misterieë, was ’n misteriegodsdiens wat gesentreer was om die god Mitras en van die 1ste tot die 4de eeu in die Romeinse Ryk beoefen is. Die god was ook bekend as Mithras, Mitra of Mithra.
Die godsdiens is geïnspireer deur die Iranse aanbidding van Mitra, hoewel die Griekse Mitras soms verbind word met ’n nuwe en aparte kultus; daar word gedebatteer oor die vlak van kontinuïteit tussen die Persiese en Grieks-Romeinse praktyk.[1] Die misterieë was gewild onder Romeinse militêre.[2]
Aanhangers van Mitraïsme het ’n ingewikkelde stelsel van sewe grade van inwyding en gemeenskaplike rituele maaltye gehad. Ingewydes het hulself syndexioi genoem: hulle "wat deur die handdruk verenig is".[3] Hulle het in ondergrondse tempels bymekaargekom wat mithraea (enkelvoud: mithraeum) genoem is en waarvan baie bewaar gebly het. Dit lyk of die middelpunt van die kultus in Rome was.[4]
Talle argeologiese vondste, insluitende vergaderplekke, monumente en artefakte, het bygedra tot moderne kennis oor Mitraïsme.[5] Die ikoontonele van Mitras wys hoe hy uit ’n rots gebore word, ’n bul doodmaak en deelneem aan ’n banket saam met die god Sol (die son).
Materiaal oor die kultus is op sowat 420 terreine ontdek. Onder die voorwerpe wat gevind is, is sowat 1 000 inskripsies, 700 voorbeelde van die toneel waarin hy die bul doodmaak en sowat 400 ander monumente.[6] Daar word geraam daar was minstens 680 mithraea in Rome.[7] Geen geskrifte het bewaar gebly nie; beperkte inligting kan afgelei word van die inskripsies en kort verwysings in Griekse en Latynse letterkunde. ’n Vertolking van die fisieke bewyse is steeds problematies.[8]
Die Romeine het gedink die misterieë het ’n Persiese of Zoroastriese oorsprong. Sedert die vroeë 1970's is verskille opgemerk tussen die Persiese aanbidding van Mitra en die Romeinse Mitraïstiese misterieë. In dié opsig word Mitraïsme soms beskou as ’n mededinger met die vroeë Christendom.[9]