Nicolaas Johannes Brümmer
From Wikipedia, the free encyclopedia
Prof. Nicolaas Johannes Brümmer (distrik Wodehouse, 27 Julie 1866 – Stellenbosch, 13 Mei 1947) was 'n Afrikaanse skrywer, NG predikant en hoogleraar in die wysbegeerte aan die Kweekskool op Stellenbosch.
Hy het 'n leidende rol in die stryd om die erkenning van Afrikaans gespeel en was onder andere medestigter van die Afrikaanse Taalvereniging, medestigter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en voorsitter van die eerste kommissie om Afrikaanse spelreëls op te stel. Brümmer het 'n sprankelende humorsin gehad wat met diepe erns gepaard gegaan het. Hy was 'n fynbeskaafde en ewewigtige mens, maar kon vlymskerp wees in sy kritiek en het 'n saak wat hom ter harte gaan, reguit en onomwonde gestel. Hy was 'n gewilde prediker en redenaar wat dikwels by volksfeeste opgetree het. Sy liefhebbery was tuinmaak en stap en hy het tot op hoë leeftyd blakende gesondheid geniet.