Nederland
land in die noordweste van die Europese vasteland / From Wikipedia, the free encyclopedia
Nederland (Nederlands: [ˈneːdərlɑnt], luister (hulp·inligting); Wes-Fries: Nederlân), informeel Holland,[8] is 'n land in die noordweste van die Europese vasteland en bestaan uit 12 provinsies. Dit word begrens deur die Noordsee in die noorde en weste, België in die suide en Duitsland in die ooste; in die Noordsee grens Nederland ook aan die Verenigde Koninkryk.[9] Die hoofstad is Amsterdam en die regeringsetel is Den Haag. Die Karibiese eilande Bonaire, Saba en Sint Eustatius maak ook deel van Nederland uit. Saam met die Karibiese eilande Aruba, Curaçao en Sint Maarten vorm Nederland die Koninkryk van die Nederlande. Die land se amptelike taal is Nederlands, met Wes-Fries as 'n tweede ampstaal in die provinsie Friesland, en Engels en Papiaments as sekondêre ampstale in die Karibies Nederland. Nederlandse Nedersaksies en Limburgs is erkende streekstale (gebesig onderskeidelik in die (noord)ooste en suidooste), terwyl Romani en Jiddisj erkende minderheidstale is.[10]
- Hierdie artikel handel oor die land in Europa, wat deel uitmaak van die Koninkryk van die Nederlande, vir ander gelyknamige state, sien Nederland (dubbelsinnig).
| |||||
Nasionale leuse: Je Maintiendrai (Frans) Ik zal handhaven (Nederlands) ("Ek sal handhaaf") | |||||
Volkslied: Wilhelmus | |||||
Hoofstad | Amsterdam | ||||
Grootste stad | Amsterdam | ||||
Amptelike tale | Nederlands, Wes-Fries | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike monargie Willem-Alexander Mark Rutte Rob Jetten Karien van Gennip Carola Schouten | ||||
Onafhanklikheid | van die Spaanse Ryk 26 Julie 1581 30 Januarie 1648 16 Januarie 1795 16 Maart 1815 15 Desember 1954 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
41 865[1][2] km2 (134ste) 16 164 myl2 18,41 (2023)[1] | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2011-sensus - Digtheid |
17 968 394[3] (67ste) 16 655 799[4] 520 / km2 (16de) 1 346,8 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,941[6] (10de) – baie hoog | ||||
Gini (2022) | 26,3[7](15de) – laag | ||||
Geldeenheid | Euro (€) (EUR ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
MET (UTC+01) MEST (UTC+02) | ||||
Internet-TLD | .nl | ||||
Skakelkode | +31 | ||||
Nederland se vier grootste stede is Amsterdam, Rotterdam, Den Haag en Utrecht.[11] Amsterdam is die land se mees bevolkte stad en amptelike hoofstad,[12] terwyl Den Haag die Stategeneraal, die Kabinet en die Hooggeregshof huisves.[13] Die Rotterdamse hawe is die besigste beide in Europa en buite Asië, net ná die Volksrepubliek China en Singapoer.[14] Die Amsterdamse Lughawe Schiphol is die belangrikste in Nederland en die derde besigste in Europa net ná Londen se Heathrow en Parys se Charles de Gaulle. Nederland is 'n stigtingslid van die Europese Unie, Eurosone, G10, NAVO, OESO en WHO, maar ook deel van die Schengengebied en die trilaterale Benelux. Dit huisves 'n aantal interregeringsorganisasies en internasionale howe, waarvan die meeste in Den Haag, wat vervolgens die "wetlike hoofstad van die wêreld" genoem word.[15]
Nederland beteken letterlik "Lae Lande" en verwys na sy lae hoogte en plat topografie, waarvan net sowat 50% 1 meter bo seevlak geleë is, en naastenby 26% benede seevlak.[16] Die meeste gebiede benede seevlak, bekend as polders, is tydens landherwinning verkry wat in die 14de eeu begin het.[17] In die omgangstaal of informeel word na Nederland as Holland verwys.[8] Met 'n bevolking van sowat 17,8 miljoen in 2023 op 'n oppervlakte van omtrent 41 500 km² — waarvan die landoppervlakte omtrent 33 600 km² — maak van Nederland met 'n bevolkingsdigtheid van 429/km² (totaal) en 529/km² (land) die twaalfde digsbevolkte land in die wêreld en die vyfde digsbevolkte in Europa. Nogtans is Nederland die wêreld se tweede belangrikste uitvoerder van voedsel en landbouprodukte (na die Verenigde State), danksy sy vrugbare grond, gematigde klimaat, intensiewe landbou en vindingrykheid.[18][19][20]
Nederland handhaaf sedert 1848 'n unitêre parlementêre grondwetlike monargie. Die land beskik oor 'n tradisie van Verzuiling en 'n lang geskiedenis van sosiale verdraagsaamheid; hulle het aborsie, prostitusie en genadedood gewettig en 'n liberale dwelmbeleid. Nederland het in 1870 die doodstraf in die burgerlike reg afgeskaf, hoewel dit eers heeltemal verwyder is totdat 'n nuwe grondwet in 1983 goedgekeur is. Nederland het reeds in 1917 die stemreg vir vroue ingevoer en in 2001 die eerste land geword om selfdegeslaghuwelike te wettig. Sy gemengde mark binne 'n gevorderde ekonomie het die elfde hoogste per kapita-inkoms wêreldwyd.[5] Nederland beklee wêreldwyd die eerste plekke wat persvryheid,[21] ekonomiese vryheid,[22] menslike ontwikkeling, lewenskwaliteit en geluk betref.[23][24] In 2019 het Nederland die tiende grootste ekonomie volgens BBP per capita gehad,[5] die tiende plek van menslike ontwikkeling[6] en die vyfde plek op die Wêreldgelukindeks beklee.[25]
Mense verwys dikwels na Nederland as Holland — die naam van die ou provinsie Holland en die gesamentlike naam van die twee huidige provinsies Noord- en Zuid-Holland, maar Holland is net 'n deel van Nederland, soos Engeland net 'n deel van die Verenigde Koninkryk is.
Nederland en die Lae Lande
Beide die streek Lae Lande (bestaande uit België, Nederland en Luxemburg) en die land Nederland het dieselfde toponiem. Plekname met Neder (of lage), Nieder, Nether (of low) en Nedre (in Germaanse tale) en Bas of Inferior (in Romaanse tale) word dwarsdeur Europa gebruik. Hulle word soms in 'n deiktiese verhouding tot 'n hoër grond wat vervolgens Upper, Boven, Oben, Superior of Haut genoem word, geplaas. In die geval van die Lae Lande/Nederland is die geografiese ligging van die laer streek min of meer stroomaf en naby die see. Die geografiese ligging van die boonste streek het oor die tyd heen egter aansienlik verander, afhangende van die ligging van die ekonomiese en militêre mag wat die Lae Lande oorheers het. Die Romeine het tussen die Romeinse provinsies stroomaf Germania Inferior (hedendaags dele van België en Nederland) en stroomop Germania Superior (hedendaags dele van Duitsland) onderskei. Die benaming "laag" vir die streek het in die 10de eeu weer verskyn, toe die Hertogdom Neder-Lotharinge die meeste van hierdie gebied beslaan het.[26][27] Maar hierdie keer is die ooreenstemmende "boonste" streek Opper-Lotharinge in die hedendaagse Noord-Frankryk geleë.
Die hertoë van Boergondië, wat die Lae Lande in die 15de eeu beheer het, het die term les pays de par deçà ("die lande hier") vir die Lae Lande in teenoorstelling van les pays de par delà ("die lande daar") vir hul oorspronklike tuisland Boergondië in die hedendaagse sentraal-oostelike Frankryk gebruik.[28] Onder Habsburgse heerskap het Les pays de par deçà in pays d'embas ("land hieronder") verander,[29] 'n deiktiese uitdrukking in verhouding tot ander Habsburgse besittings soos Hongarye en Oostenryk. Dit is in Nederlandse kontemporêre amptelike dokumente as Neder-landen vertaal.[30] Vanuit 'n streeksoogpunt was Niderlant in die laat Middeleeue ook die gebied tussen die riviere Maas en Ryn. Die gebied Oberland ("Hoogland") was in hierdie deiktiese konteks die gebied rondom Keulen.
Vanaf die middel-16de eeu het die "Lae Lande" en "Nederland" hul oorspronklike deiktiese betekenis verloor. Albei was nes Vlaandere waarskynlik die mees gebruikte benamings 'n pars pro toto vir die Lae Lande, veral in die Romaanse tale van Europa. Die Tagtigjarige Oorlog (1568–1648) het die Lae Lande in 'n onafhanklike noordelike Nederlandse Republiek (of verlatyns as Belgica Foederata, "Federale Nederland", die voorloper van Nederland) en 'n Spaansbeheerde Suidelike Nederlande (verlatyns as Belgica Regia, "Koninklike Nederland", die voorloper van België) verdeel. Die Lae Lande verwys nou in sy geheel na die drie lande Nederland, België en Luxemburg, alhoewel dié term in die meeste Romaanse tale na Nederland verwys. Dit word sinoniem met die meer neutrale en geopolitiese term Benelux gebruik.
Holland
In verskeie tale, insluitende Afrikaans, word na Nederland soms as Holland verwys. Die streek Holland bestaan uit Noord- en Zuid-Holland, twee van die nasie se twaalf provinsies, voorheen 'n enkele provinsie, nog vroeër, die County Holland, 'n oorblyfsel van die ontbinde Friese Koninkryk. Na die agteruitgang van beide die Hertogdom Brabant en die County Vlaandere het Holland die ekonomies en polities leidende county in die Lane Lande geword. Die klem op Holland tydens die stigting van die Nederlandse Republiek, die Tagtigjarige Oorlog en die Anglo-Nederlandse oorloë van die 16de, 17de en 18de eeue het van Holland die pars pro toto van die hele land gemaak, wat nou as informeel[31] of selfs inkorrek beskou word.[32][33] Die gebruik van die term Holland vir die hele Nederland word deur die meeste Nederlanders verwerp.[verwysing benodig] Nogtans word die naam "Holland" vir die Nederlandse nasionale sokkerspan, insluitende in Nederland gebruik,[34] en die Nederlandse regering se internasionale webwerwe vir beide toerisme en handel lui "holland.com" en "hollandtradeandinvest.com".[35][36] In 2020 het die Nederlandse regering egter aangekondig dat hulle in die toekoms net as "Nederland" sal optree.[37]
Staatskundige geskiedenis van die Nederlande | ||
Noordelike Nederlande | Suidelike Nederlande | Heilige Romeinse Ryk & Duitse Bond |
Goue van Oos-Francië | Goue van Wes-Francië | Goue van Oos-Francië |
Gelre |
Vlaandere |
Luik |
1384 Boergondiese Nederlande | ||
1482 Habsburgse Nederlande | ||
1543 Sewentien Provinsies (vanaf 1566 in opstand) | ||
1588 Republiek die Sewe Verenigde Nederlande |
1585 Spaanse Nederlande | |
1713 Oostenrykse Nederlande | ||
1795 Bataafse Republiek | 1794 Eerste Franse Republiek | |
1806 Koninkryk Holland | ||
1810 | 1804 | |
Eerste Franse Keiserryk | ||
1813 Vorstendom die Nederlande | 1814 Generaal- Goewernement | |
1815 Verenigde Koninkryk die Nederlande |
1815 Groothertogdom Luxemburg | |
1830 Koninkryk die Nederlande | 1830 Koninkryk België | 1848 & 1867 Groothertogdom Luxemburg |
Voorgeskiedenis (voor 800 v.C.)
Met die einde van die laaste Ystydperk het die huidige tydperk begin, die Holoseen (9700 v.C. – hede). Gedurende hierdie tydperk het die temperatuur en daarmee saam die seevlak gestyg, wat tot die oorstroming van die Noordseebeken gelei het. Die moerasagtige rivierdelta wat later Nederland genoem sou word, was egter nog min aantreklik en die bewoning daarvan bly aanvanklik beperk op aangepaste jagter-versamelaars. Vanuit Suidwes-Asië het tussen 8000 en 6700 jaar gelede landbou oor die hele Europa begin versprei. Aangesien die deltagebied 'n randgebied was, het die Neolitikum relatief laat begin en was veral beperk op die hoër loessgronde. Nedersettings het begin vorm, maar stede, soos hulle in die sentrum van die Ou Wêreld begin vorm het, was nog heeltemal onbekend.
Die voorgeskiedenis van die huidige Nederland is gekenmerk deur die see en riviere wat die laagliggende gebied gereeld oorspoel het. Die oudste menslike oorblyfsels (Neanderdaller) is in hoërliggende gebiede gevind, naby Maastricht, en volgens ramings sowat 250 000 jaar oud.[38] Aan die einde van die Weichsel-Ystydperk het die Nomadiese laat Neopaleolitiese Hamburg-beskawing (ca. 13 000–10 000 v.C.) in die gebied begin rendiere met spere jaag, maar die latere Ahrensburg-beskawing (ca. 11 200–9500 v.C.) het van pyl en boog gebruik gemaak. Van die Mesolitiese Maglemose-beskawing (ca. 8000 v.C.) is die wêreldwyd oudste kano in Drenthe gevind.[39]
Die inheemse laat Mesolitiese jagter-versamelaars van die Swifterbantbeskawing (ca. 5600 v.C.) was verbind aan die Suid-Skandinawiese Ertebølle-beskawing en sterk geheg aan riviere en oop water.[40] Tussen 4800 en 4500 v.C. het die Swifterbant-mense van die naburige Bandkeramiese beskawing die gebruik van veetelt begin oorneem, en vanaf 4300 tot 4000 v.C. die gebruik van landbou.[41] Die Tregterbekerbeskawing (ca. 4300–2800 v.C.), wat verwant was aan die Swifterbantbeskawing, het dolmen, groot steengraafmonunente in Drenthe, opgerig. Daar was 'n vinnige en gladde oorgang van die Tregterbekerlandboubeskawing na die pastoralistiese Pan-Europese Toubekerbeskawing (ca. 2950 v.C.). In die suidweste het die Seine-Oise-Marne-beskawing — wat verwant was aan die Vlaardingenbeskawing (ca. 2600 v.C.), 'n skynbaar meer primitiewe beskawing van jagter-versamelaars — tot in die Neolitiese tydperk voortbestaan, voordat hulle ook deur die Toubekerbeskawing vervang is.
Vir die daaropvolgende Klokbekerbeskawing (2700–2100 v.C.) is verskeie oorsprongsgebiede vermoed, insluitende die Iberiese Skiereiland, Nederland en Sentraal-Europa.[42] Hulle het metaalwerk in koper, goud en later brons ingevoer en internasionale handelsroetes geopen wat nog nie voorheen gesien is nie, soos die ontdekking van koperartefakte weerspieël, aangesien dié metal normaalweg nie in Nederlandse bodem aangetref word nie. Uit die groot aantal vondse van skaars bronsartefakte in Drenthe blyk dit, dat dié stad in die bronstydperk (2000–800 v.C.) 'n belangrike handelsentrum was. Die Klokbekerbeskawing het plaaslik ontwikkel in die Doringdraadbekerbeskawing (2100–1800 v.C.) en later die Elpbeskawing (ca. 1800–800 v.C.),[43] 'n argeologiese beskawing uit die Midde-Bronstydperk met erdewerk van 'n lae gehalte as 'n kenmerk. Die aanvanklike fase van die Elpbeskawing is gekenmerk deur grafheuwels (1800–1200 v.C.) wat baie ooreenstemmings toon met kontemporêre grafheuwels van Noord-Duitsland en Skandinawië en glo verwant was aan die Grafheuwelbeskawing in Sentraal-Europa. In die daaropvolgende fase is, na aanleiding van die Urnveldbeskawing (1200–800 v.C.) se gebruike, dooies veras, hul as in urne geplaas en op velde begrawe. Die suidelike gebiede is daarna deur die verwante Hilversumbeskawing (1800–800 v.C.) gekenmerk, wat blykbaar van die vorige Doringdraadbekerbeskawing kulturele bande met Brittanje geërf het.
Kelte, Germaanse stamme en Romeine (800 v.C.–410 n.C.)
Vanaf 800 v.C. het die Ystertydperk-Keltiese Hallstatt-beskawing invloedryk geword en die Hilversumbeskawing vervang. Ystererts het 'n mate van welvaart meegebring en was dwarsdeur die land beskikbaar, insluitende moerasyster. Smede het met brons en yster van nedersetting tot nedersetting gereis en goedere op aanvraag versinsel. Die Vorstengraf van Oss (700 v.C.) is gevind in 'n grafheuwel, die grootste van sy aard in Wes-Europa en het 'n ysterswaard met 'n inlegsel van goud en koraal bevat. Deur die invoering van nuwe tegnologieë vir metaalverwerking kon voedsel meer doeltrefend versamel word, wat tot die stigting van 'n elite gelei het wat hulself met anderer sake besig gehou het. Die belangrikste spesialisasie was dié van spirituele leiers wat gevare kon raaksien of selfs kon afwend. Daarrondom het sentra van toenemende welvaart ontstaan, aanvanklik om die gode tevrede te stel. Ter beskerming is tydelike krygers as 'n soort weermag aangestel, wat egter gaandeweg meer mag verkry het. Relatief egalitêre samelewings het op die manier adellik met 'n aristokratiese bestuur geword. Dit was onder andere van toepassing op die Kelte, vir wie die latere Nederland 'n randgebied was en die aansluitende Tène-beskawing (ca. 450 v.C. tot en met die Romeinse tydperk in die eerste eeu v.C.). Aangetrokke deur die Keltiese welvaart het in die tweede eeue v.C. Germane — waarvan die onderskeid met die Kelte nie baie duidelik is nie — na weste getrek.
Die verslegtende klimaat in Skandinawië rondom 850 v.C. het in 650 v.C. verder vererger en glo die migrasie van Germaanse stamme uit die noorde aangehits. Teen die tyd was die migrasie afgesluit en rondom 250 v.C. het 'n aantal algemene kulturele en taalkundige groepe ontstaan.[44][45] Die Noordsee-Germaanse Ingaewone het die noordelike deel van die Lae Lande bevolk. Hulle sou later in die Frisii en die vroeë Sakse ontwikkel.[45] 'n Tweede groep, die Weser-Ryn-Germane (of Istwaeone), het langs die Middel-Ryn en Weser uitgebrei en die Lae Lande suid van die groot riviere bevolk. Dié groep het stamme bevat wat later in die Saliese Franke sou ontwikkel.[45] Die Keltiese La Tène-beskawing het oor 'n wyer gebied uitgebrei, insluitende die suidelike dele van die Lae Lande. Sommige geleerdes het al gespekuleer dat dalk 'n derde etniese identiteit en taalgroep, nòg Germaans nòg Kelties, in Nederland tot die Romeinse verowering bestaan het, die Ystertydperk-Noordwesblokbeskawing,[46][47] wat uiteindelik deur die Kelte in die suide en die Germaanse volke uit die ooste opgeneem is.
Die eerste skrywer wat die kus van Holland en Vlaandere beskryf het, was die Griekse aardrykskundige Pitheas, wat in ca. 325 v.C. beskryf het dat in hierdie gebiede "meer mense in die stryd teen water omkom as in die stryd teen mense."[48] Tydens die Galliese Oorloë tussen 57 tot 53 v.C. is die gebied suid en wes van die Ryn deur Romeinse troepe onder Julius Caesar verower.[47] Met die aankoms van die Romeine het die Protohistorie van die Lae Lande begin. Caesar beskryf twee belangrike Keltiese stamme wat in die hedendaagse Suid-Nederland was: die Menapii en die Eburone. Hy beskryf ook hoe hy twee Germaanse stamme in die gebeid van die Betuwe vernietig het in wat nou die slag van Kessel genoem kan word. Ná aanvanklike pogings om die Ryk tot aan die Elbe uit te brei, het vanaf 47 n.C. die Ryn die permanente noordelike grens, oftewel Limes, van die Romeinse Ryk geword. Noemenswaardige stede het langs die Limes Germanicus ontstaan: Nijmegen en Voorburg. Oorspronklik deel van Gallia Belgica het die gebied suid van die Limes deel van die Romeinse provinsie Germania Inferior geword. Die gebied noord van die Ryn, bevolk deur die Frisii, het buite die Romeinse Ryk gebly (maar nie buite sy teenwoordigheid en gesag nie), terwyl die Germaanse grensstamme Batawiërs en Cananefates in die Romeinse kavallerie gedien het.[49] Die Batawiërs het tydens die Bataafse rebellie in die vierkeiserjaar van 68/69 n.C. teen die Romeine in opstand gekom, maar hulle is eindelik verslaan. Gedurende die daaropvolgende twee eeue, tot rondom 250, was dit vreedsaam in die Rynprovinsies. Met die opname in die Romeinse Ryk het 'n tydperk van ekonomiese groei en 'n sterk bevolkingstoename begin, die Pax Romana ("Romeinse vrede"). Deur die uitbreiding van die padnetwerk en die skeepvaart het die mobiliteit en daarmee saam die handel toegeneem, ondersteun deur die toenemende beskikbaarheid van muntgeld. Die Romeinse pantheon is bekendgestel, maar voordat die Christendom die oorheersende godsdiens geword het, was daar veral 'n mengelmoes van Heidense kultusse. Die Batawiërs het later met ander stamme gemeng en die Konfederasie van die Saliese Franke gevorm, wie se identiteit in die eerste helfte van die derde eeu verskyn het.[50] Die Saliese Franke verskyn in Romeinse tekste as beide bondgenote en vyande. In die vierde eeu is hulle deur die Konfederasie van die Sakse uit die ooste gedwing om oor die Ryn in Romeinse gebied te beweeg. Vanaf hul nuwe tuiste in Wes-Vlaandere en Suid-Nederland het hulle die Engelse Kanaal oorgesteek. Romeinse troepe het vrede in die gebied herstel, maar hulle het die Franke nie verdryf nie; die Franke is tot in die bewind van keiser Julianus (358) gevrees, toe die Saliese Franke toegelaat is om hulle as foederati ("bondgenote") in Toxandrië te vestig.[50] Daar is vermoed dat ná verslegtende klimaatstoestande en die Romeinse ontrekking uit die gebied die Frisii as laeti ("krygsgevangenes") in ca. 296 verdwyn en die kusgebied vir die volgende twee eeue grootliks onbevolk agtergelaat het.[51] Onlangse opgrawings in Kennemerland toon egter duidelike bewyse vir 'n permanente bewoning.[52][53]
Vroeë Middeleeue (411–1000)
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Frankiese Ryk.
Die Germaanse druk op die Limes het egter toegeneem. Die Volksverhuising, wat sowat twee eeue geduur het, het 'n tydperk van instabiliteit ingelui. In 406 is die Ryngrens oorgesteek. Daarop het 'n tydperk van agteruitgang gevolg, waarvan die Romeinse Ryk nie meer kon herstel nie en die fragmentasie van Europa wat tot op hede te siene is, het begin. Die bevolking en handel het afgeneem; geld het in onbruik verval. Nadat die Romeinse regering in die gebied in duie gestort het, het die Franke hul gebiede in talle koninkryke uitgebrei. Teen die 490's het Clovis I al hierdie gebiede in die Suidelike Nederlande verower, in een Frankiese Ryk verenig en vanaf daar sy veroweringe in Gallië voortgesit. Tydens hierdie uitbreiding het die Franke suid migreer en eindelik die Vulgêrlatyn van die plaaslike bevolking oorgeneem.[45] Die kulturele kloof het met die feit toegeneem, dat Franke ook in hul oorspronklike tuisland in die noorde (d.w.s. Suid-Nederland en Vlaandere) aangebly het, en Ou Frankies bly praat het, wat teen die negende eeu in Oudnederlands sou ontwikkel.[45] 'n Nederlands-Franse taalgrens het vervolgens ontstaan.[45][54]
Noord van die Franke het die klimatiese toestande verbeter en gedurende die Volksverhuising het Sakse en die nou verwante Angele, Jute en Frisii hulle in die kusgebiede gevestig.[55] Baie het na Engeland aanbeweeg en bekend geword as Angelsakse, maar na diegene wat aangebly het, is as Friese verwys en hul tale word Fries genoem, na die land wat voorheen deur Frisii bevolk is.[55] Fries is eens langs die hele Suidkus van die Noordsee gebesig, en dit is onder die lewende tale van die kontinentale Europa steeds die taal wat die naaste verwant is aan Engels. Teen die sewende eeu het 'n Friese koninkryk (650–734) onder die konings Aldgillis en Redbad met sy sentrum in Utrecht verskyn,[55][56] terwyl Dorestad 'n bloeiende handelssentrum was.[57][58] Tussen 600 en ongeveer 719 het die Friese en Franke dikwels oor hierdie stede in oorlog gekom. In 734 is die Friese in die Slag van die Boarn ná 'n reeks oorloë eindelik verslaan. Met die goedkeuring deur die Franke het die Angelsaksiese sendeling Willibrord die Friese gekersten. Hy het die Aartsbisdom van Utrecht gestig en die eerste biskop van die Friese geword. In 754 is sy opvolger, Sint Bonifatius, egter deur die Friese in Dokkum vermoor.
Keiser Karel die Grote (768–814) het na die Friese in die noorde eindelik ook die Sakse in die ooste verslaan; waarop 'n tweede kerstening plaasgevind het. In die volgende eeue sou die Christendom aan die omstandighede aanpas en die samelewing volledig deurdring. Onder Karel die Grote was die Lae Lande nie meer 'n randgebied nie; dit het egter naby die sentrum van die Frankiese Ryk geleë. Die Frankiese Karolingiese Ryk het homself op die Romeinse Ryk geskoei en 'n groot deel van Wes-Europa beheer. In 843 is dit egter in drie dele verdeel: Oos-, Middel- en Wes-Frankiese Ryk. Die grootste deel van die hedendaagse Nederland het deel gevorm van die Middel-Frankiese Ryk, 'n swak koninkryk onderhewig aan talle afskortings en anneksasiepogings deur sy sterker bure. Dit het van Friesland in die noorde tot die Koninkryk Italië in die suide gestrek. Rondom 850 het Lotarius I van die Middel-Frankiese Ryk die Wiking Rorik van Dorestad as heerser oor die grootste deel van Friesland erken.[59] Toe die Middel-Frankiese Ryk in 855 opgedeel is, is die land noord van die Alpe aan Lotarius II oorhandig en het vervolgens bekend gestaan as Lotaringe. Ná sy afsterwe in 869 is Lotaringe in Bo- en Benede-Lotaringe verdeel; laasgenoemde het die Lae Lande ingesluit wat in 870 as 't ware deel gevorm het van die Oos-Frankiese Ryk, hoewel dit effektief onder beheer was van Wikings, wat toegeslaan het op die grotendeels weerlose Friese en Frankiese dorpe langs die Friese kus en riviere. Rondom 879 het 'n ander Wiking-veldtog onder Godfrid, hertog van Friesland die Friese eilande binnegeval. Die veldtogte deur die Wikings het die gesag van die Franse en Duitse here in die gebied laat krimp. Weerstand teen die Wikings, al dan nie, is ontbied deur plaaslike adellikes, wie se mag vervolgens toegeneem het, en wat tot die opbreking van Benede-Lotaringe in verskeie halfonafhanklike state gelei het. Een van hierdie plaaslike adellikes was Gerolf van Holland, wat die gesag in Friesland oorgeneem het nadat hy gehelp het om Godfrid te vermoor en die Wikingherskap beëindig het.
Hoë Middeleeue (1000–1384)
Die Heilige Romeinse Ryk (die opvolger van Oos-Francië en toe Lotaringe) het gedurende die 10de en 11de eeu die grootste deel van die Lae Lande beheer, maar was nie in staat om politieke eenheid te bewerkstellig nie. Magtige plaaslike adellikes het hul stede, graafskappe en hertogdomme in privaat koninkryke omgeskep en min sin van verpligting teenoor die keiser gehad. Holland, Hainaut, Vlaandere, Gelre, Brabant en Utrecht was in 'n toestand van 'n byna voortdurende oorlog of het paradoksaal genoeg personele unies gevorm. Die taal en kultuur van die grootste deel van die bevolking wat in die Graafskap Holland gebly het, was oorspronklik Fries. Toe die Frankiese vestiging vanaf Vlaandere en Brabant gevorder het, het die gebied vinnig Oudnederlands geword. Die res van Frisië in die noorde (nou Friesland en Groningen) het sy onafhanklikheid bewaar en oor sy eie instellings beskik (gesamentlik die "Friese vryheid" genoem), wat gegrief het op die instelling van die feodale stelsel.
Rondom 1000 n.C., as gevolg van 'n aantal landboulike ontwikkelinge, het die ekonomie spoedig begin groei, en die hoër produktiwiteit het landbouers in staat gestel om meer land te bewerk of om handelaars te word. Stede het rondom kloosters en kastele gegroei, en 'n merkantiele middelklas het in hierdie stedelike gebiede begin ontwikkel, veral in Vlaandere en later ook in Brabant. Ryk stede het ook sekere voorregte van die monarg vir hulleself begin koop. In praktyk het dit beteken dat Brugge en Antwerpen kwasi-onafhanklike republieke in hul eie regte geword het wat later in van die belangrikste stede en hawens van Europa sou ontwikkel.
Rondom 1100 n.C. het landbouers uit Vlaandere en Utrecht onbewoonde moerasagtige land in die Westelike Nederland begin dreineer en bewerk wat die opkoms van die Graafskap Holland as magssentrum teweeg gebring het. Gedurende die Hoekse en Kabeljause twiste (Nederlands: Hoekse en Kabeljauwse twisten) tussen 1350 en 1490 is oor die titel Graaf van Holland gebaklei. Die Kabeljause faksie het uit die meer progressiewe stede bestaan, terwyl die Hoekse faksie deur konserwatiewe adellikes gevorm is. Hierdie adellikes het hertog Filips die Goeie van Boergondië — wat ook graaf van Vlaandere was — genooi om Holland te verower.
Boergondiese, Habsburgse en Spaanse Nederlande (1384–1581)
In 1433 is die meeste van die Keiserlike en Franse leengoedere in die hedendaagse Nederland en België in 'n personele unie onder Filips die Goeie, Hertog van Boergondië, verenig. Die Huis van Boergondië en hul Habsburgse erfgename sou die Lae Lande vanaf 1384 tot 1581 beheers. Voor die Boergondiese unie het die Nederlanders hulself met hul stad, waarin hulle gebly het, of hul plaaslike hertogdom of graafskap geïdentifiseer. Die Boergondiese tydperk het die pad na nasieskap gebaan. Die nuwe heersers het Nederlandse handelsbelange verdedig, wat toe spoedig ontwikkel het. Die vloot van die Graafskap Holland het die vloot van die Hansebond herhaaldelik verslaan. Amsterdam het gegroei en gedurende die 15de eeu die primêre handelshawe in Europa vir graan uit die Baltiese lande geword. Amsterdam het graan aan die belangrikste stede in België, Noord-Frankryk en Engeland verskaf. Hierdie handel was noodsaaklik, aangesien Holland homself nie langer aan graan kon voorsien nie. Gronddreinering het die veen van die voormalige vleilande laat afneem tot 'n vlak wat te laag was om dreinering te handhaaf.
Onder die Habsburger Karel V, keiser van die Heilige Romeinse Ryk en Koning van Spanje, is alle leengoedere in die huidige Nederland verenig in die Sewentien Provinsies, wat ook die grootste deel van die huidige België, Luxemburg en bykomende gebiede in die huidige Frankryk en Duitsland ingesluit het (met uitsondering van die Prinsbisdom Luik). Gedurende hierdie periode het die Protestantisme in Nederland sterk opgekom. Dit was vir die seun van Karel V, Filips II, 'n streng katoliek, onverteerbaar. Die Spaanse inkwisisie het meedoënloos in die Nederlande geheers met onthoofdinge en brandstapels om die ketters uit te roei. Dit het groot ontevredenheid in Nederland veroorsaak en tot 'n opstand gelei. Stadhouer Willem van Oranje het probeer om Filips II te oortuig om die inkwisisie te staak en vir godsdiensvryheid gepleit. Filips II het egter 'n Spaanse leër gestuur om die opstand te onderdruk. Willem van Oranje het teen sy wil leier van die opstand geword, wat in 1568 tot die Tagtigjarige Oorlog sou ontwikkel. Die opstand het nes godsdienstige ook politieke en ekonomiese oorsake gehad.[60] Die vlak van felheid aan albei kante kan met die berig van 'n Nederlandse kronis verduidelik word:[61]
Daar is meer as een keer gesien hoe mans hul eie broers ophang wat in die geledere van die vyand gevange geneem is … 'n Spanjaard het in hul oë opgehou om mens te wees. By een geleentheid het 'n sjirurg by Veer die hart van 'n Spaanse gevangene uitgesny, dit aan die voorkant van 'n vaartuig vasgespyker en die inwoners gevra om hul tande daarin te kom vasmaak, wat baie met groot tevredenheid gedoen het.
Die aanvoerder van die Spaanse leër, Fernando Álvarez de Toledo, het genadeloos gepoog om die Protestantse beweging in die Nederlande te onderdruk. Nederlanders is deur die "Bloedraad" en sy Spaanse soldate "lewend verbrand, gewurg, onthoof of begrawe". Afgesnyde koppe en onthoofde lyke is langs strate en paaie vertoon om die bevolking tot onderdanigheid te terroriseer. De Toledo het met die regstelling van 18 600 mense gespog,[62][63] maar hierdie syfer sluit nie diegene in wat deur oorlogvoering en hongersnood omgekom het nie.
Die eerste groot belegging was De Toledo se poging om Haarlem te verower en daarmee Holland in twee te sny. Dit het vanaf Desember 1572 tot die volgende somer geduur, toe Haarlemers op 13 Julie eindelik oorgegee het met die belofte dat die stad van plundering gespaar sou bly. Dit was 'n bepaling wat De Toledo nie kon eerbied nie, toe sy soldate, kwaad van die verskuldigde betaling en die ellendige omstandighede wat hulle gedurende die lang, koue maande van die veldtog verduur het, gemuit het.[64] Op 4 November 1576 het Spaanse tercio's Antwerpen verower en dit aan die ergste plundering in die Nederlandse geskiedenis onderwerp. Die burgers het verset, maar hulle is oorwin; seweduisend van hulle is afgemaai; duisend geboue is afgebrand; mans, vrouens en kinders is in 'n bloedwaan doodgemaak deur soldate wat skree Santiago! España! A sangre, a carne, a fuego, a sacco! ("Sint James! Spanje! Tot bloed, tot die vleis, tot vuur, tot brand!)[65]
As gevolg van die Brandstigting van Antwerpen het afgevaardigdes uit die Rooms-Katolieke Brabant, Protestantse Holland en Zeeland in Gent ooreengekom om hulle by Utrecht en Willem van Oranje te skaar, alle Spaanse soldate uit Nederland te dryf en 'n nuwe regering vir die Nederlande te vorm. Juan van Oostenryk, die nuwe Spaanse goewerneur, is aanvanklik gedwing om toe te gee, maar hy het binne maande tot aktiewe vyandighede teruggekeer. Toe die gevegte hervat is, het die Nederlanders by koningin Elizabeth I van Engeland vir hulp gevra, maar sy het aanvanklik by haar verpligtinge teenoor die Spanjaarde uit die Verdrag van Bristol in 1574 gestaan. Die resultaat was dat in 1578 die volgende grootskaalse geveg in Gembloers plaasgevind het, wat die Spaanse magte maklik gewen en minstens 10 000 rebelle doodgemaak het, terwyl die Spaanse min verliese gely het.[66] Ná die nederlaag van Gembloers het die suidelike van die Sewentien provinsies (vandag in Noord-Frankryk en België) hulself van die rebelle in die noorde gedistansieer en met die Unie van Arras in 1579 hul lojaliteit teenoor Filipps II van Spanje beklemtoon. In reaksie daarop het die noordelike van die Sewentien provinsies die Unie van Utrecht (ook in 1579) gesluit en hulself verplig om mekaar te ondersteun in hul verdediging teen die Spaanse leër.[67] Die Unie van Utrecht word beskou as die grondslag van die moderne Nederland, alhoewel die staatsvorm nog herhaaldelik sou verander.
In 1579 het Spaanse troepe Maastricht afgebrand, meer as 10 000 burgerlikes vermoor en sodoende die rebellie verder aangehits.[68] Op 26 Julie 1581 het die noordelike provinsies se Stategeneraal die Wet van afswering (Plakkaat van Verlatinghe) goedgekeur, waarin hulle hul onafhanklikheid verklaar en Filips II as heersende monarg in die noordelike provinsies amptelik afgesit het.[69] Hierdeur is vir die eerste keer 'n "deur God geïntroneerde koning" afgesit.[70] Deur die gebreek aan 'n ander geskikte heerser is met die Justificatie of Deductie in 1588 die soewereiniteit aan die Stategeneraal oorgedra en die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande met 'n Stadhouer as staatshoof gestig. Die Spaanse koning Filips II kon uit die hulpbronne uit Spanje, Spaans-Amerika, Spaans-Italië en Spaans-Nederland voordeel trek. Die Protestantse koningin Elizabeth I van Engeland het met die Nederlandse stryd teen die Spaanse gesimpatiseer en 'n weermag van 7 600 soldate ter ondersteuning van die Nederlanders in hul oorlog teen die Rooms-Katolieke Spanje ontplooi.[71] Engelse troepe onder die Earl of Leicester en toe Lord Willoughby het teen die Spaanse in Nederland onder Alexander Farnese in 'n reeks grootliks besluitelose optrede te staan gekom en sodoende 'n groot hoeveelheid aan Spaanse troepe vasgebind en aan die Nederlanders tyd gegee om hul verdediging te herorganiseer.[72] Die oorlog het tot in 1648 geduur, toe Spanje onder koning Filips IV op 15 Mei 1648 in die Vrede van Münster die onafhanklikheid van die sewe noordelike provinsies eindelik erken het. Met hierdie vredesverdrag is ook die Dertigjarige Oorlog in die Heilige Romeinse Ryk beëindig en Switserland se onafhanklikheid erken. Dele van die suidelike provinsies het de facto kolonies van die nuwe republikeinse merkantiele ryk geword, maar in Spaanse hande gebly. Die grens wat nou die grens tussen Nederland en België is, is so vasgelê.
Nederlandse republiek (1581–1795)
- Die hoofartikels vir hierdie afdeling is: Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande, Goue Eeu en Nederlandse koloniale ryk.
Ná hul onafhanklikheidsverklaring het die provinsies Holland, Zeeland, Groningen, Friesland, Utrecht, Overijssel en Gelderland 'n Konfederasie gevorm. Al hierdie hertogdomme, heerskappye en provinsies was outonoom en het hul eie regerings gehad, die Provinciale Staten. Die Stategeneraal, die konfederale regering, was in Den Haag gesetel en het uit verteenwoordigers van elkeen van die sewe provinsies bestaan. Die ylbevolkte streek Drenthe was ook deel van die republiek, hoewel dit nie aan een van die provinsies behoort het nie. Daarbenewens het die republiek gedurende die Tagtigjarige Oorlog 'n aantal sogenoemde generaliteitslande in Vlaandere, Brabant en Limburg beset. Hul bevolking was meestal Rooms-Katoliek, hierdie gebiede het nie oor hul eie regeringsstrukture beskik nie en is as 'n buffersone tussen die Republiek en die Spaanse Nederland gebruik.[73]
Die Nederlandse Republiek het die feodale stelsel verwerp en 'n kapitalistiese struktuur gekry. Dit het gelei tot sterk vooruitgang in die ekonomie en wetenskap. Die windmeule is ontwikkel en maak industrie en ook, nog belangriker, die inpoldering van land moontlik waardeur gebiede onder die seespieël vinnig drooggemaak kon word. Ontwikkeling in die skeepsboukuns het handel met verafgeleë lande moontlik gemaak. Tydens die Goue Eeu, wat vir die grootste deel van die 17de eeu aangehou het, het die Nederlandse koloniale ryk tot een van die belangrikste seevarende en ekonomiese magte gegroei, langs Portugal, Spanje, Frankryk en Engeland. Wetenskap, weermag en kuns (veral die Nederlandse skildery) was onder die mees bekende wêreldwyd. Teen 1650 het die Nederlanders oor sowat 16 000 handelskepe beskik.[74] Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie het kolonies en handelsposte dwarsdeur die wêreld gestig, en selfs die suidelike dele van Taiwan beheer (1624–1662 en 1664–1667). Die Nederlandse nedersetting in Noord-Amerika het in 1614 met die stigting van Nieu-Amsterdam in die suidelike deel van die huidige Manhattan begin. Op 6 April 1652 het die Nederlander Jan van Riebeeck Kaapstad in die Nederlandse Kaapkolonie gestig. Die Nederlandse kolonies in Suid-Amerika is langs die talle riviere in die vrugbare Guyanavlaktes gestig, waaronder die Kolonie Surinam (nou Suriname). In Asië het die Nederlanders Nederlands-Indië (nou Indonesië) en die enigste handelspos in Japan, Dejima, gestig. Gedurende die tydperk van Proto-industrialisering het die Nederlandse koloniale ryk 50% van die tekstiel- en 80% van die sy-invoere uit die Indiese Mogolryk ontvang, veral uit sy mees ontwikkelde streek Bengal Subah.[75][76][77][78]
Baie ekonomiese historici beskou die Nederlande as die eerste volledige kapitalistiese land wêreldwyd. In die vroegmoderne Europa het dit die welvarendste handelstad (Amsterdam) en die eerste voltydse aandelebeurs gehad. Die vindingrykheid van sy handelaars het gelei tot die ontwikkeling van versekerings- en aftreefondse, maar ook verskynsels soos die konjunktuur, die wêreld se eerste kapitaalinflasie, die tulpemanie van 1636–1637, en die wêreld se eerste beerklopjagter, Isaac Le Maire, wat pryse ondertoe gedwing het deur voorraad te stort en dan teen afslag terug te koop.[79] Die internasionale mag van Nederland het so vinnig toegeneem dat die Engelse besorg geraak het en in 1652 die eerste van die vier Engels-Nederlandse oorloë uitgebreek het, waartydens die Nederlanders in die tweede van hul kolonie Nieu-Nederland ontneem is. In 1672 – in Nederlands bekend as Rampjaar – het die Nederlandse Republiek gelyktydig oorlog teen Frankryk, Engeland en drie Duitse bisdomme gevoer. Op see kon hulle die Engelse en Franse vlote suksesvol daarvan verhinder, om die westelike oewers te bereik. Op land is hulle egter amper volledig deur die uit die ooste komende Franse en Duitse leërs beset. Hulle het daarin geslag om die gety te draai deur dele van Holland te laat oorstroom, maar hulle kon nooit hul ou glorie terugkry nie en het gedurende die 18de eeu 'n algemene agteruitgang beleef, met ekonomiese mededinging deur Engeland en 'n langdurige twis tussen die twee hooffaksies in die Nederlandse samelewing, die Republikeinse Staatsgezinden, en die ondersteuners van die stadhouer, die Prinsgezinden.[80]
Bataafse Republiek en Koninkryk (1795–1890)
- Die hoofartikels vir hierdie afdeling is: Bataafse Republiek, Koninkryk van Holland, Verenigde Koninkryk van die Nederlande en Koninkryk van die Nederlande.
In die derde Engels-Nederlandse oorlog is die Engelse oorwin en stadhouer Willem III van Oranje-Nassau het die Engelse troon bestyg. Die ekonomiese sentrum het egter na Londen verskuif. Dit het tot ontevredenheid in die republiek gelei, en baie burgers het vir die oorgang na 'n sterker demokratiese bedeling gepleit wat tot 'n vierde oorlog gelei het. Dit het die republiek so verswak, dat dit teen die Franse rewolusionêre troepe geen weerstand kon ontbied nie. Met die gewapende ondersteuning deur die rewolusionêre Frankryk het Nederlandse Republikeine op 19 Januarie 1795 die Bataafse Republiek uitgeroep, wat op die Franse Republiek geskoei was en die Nederlanders in 'n eenheidstaat saamgevat het. Die stadhouer Willem van Oranje moes na Engeland vlug. Die Engelse het die Franse besetting gebruik en enkele kolonies, waaronder die Nederlandse Kaapkolonie van Nederland gevat. In 1806 is die Koninkryk van Holland deur Napoleon Bonaparte as 'n marionetkoninkryk met sy broer Louis Bonaparte as koning gestig om die Nederlande meer effektief te beheer. Koning Louis Bonaparte het egter probeer om die Nederlandse belangstellings teen dié van sy broer te beskerm en hy is op 1 Julie 1810 gedwing om te abdikeer. Die keiser het 'n weermag ontplooi en die Nederlande het deel van die Franse Keiserryk geword totdat Napoleon gedurende herfs 1813 in die Slag van Leipzig verslaan is.
William Frederick, seun van die laaste stadhouer, het in 1813 na Nederland teruggekeer en homself tot Soewereine Prins van die Nederlande verklaar. Twee jaar later het die Kongres van Wene die Suidelike Nederlande by die noorde gevoeg om 'n sterk land aan die noordelike grens van Frankryk te stig; hulle het ook Nederlands-Indië teruggekry, maar nie die Kaapkolonie nie. William Frederick het in 1815 hierdie verenigde Nederlande tot 'n koninkryk verhef en homself as koning Willem I van Nederland geproklameer. Daarbenewens het Willem in ruil vir sy Duitse besittings oorerflike Groothertog van Luxembourg geword. Sedert 1581 het die Suidelike Nederlande van die noorde in kulturele opsig egter verskil en die Franstalige burgers in die suide het in opstand gekom. Die lae populariteit van koning Willem I het dit moontlik gemaak dat sy die Vlaamse boerebevolking vir hulle saak kon win. In 1830 breek in Brussel 'n opstand uit en die staat België word uitgeroep. Die suide het in 1830 as België onafhanklik geword (in 1839 deur die Noordelike Nederland erken, toe die Koninkryk van die Nederlande volgens 'n dekreet gestig is). Die huidige staatsvorm van Nederland het in 1848 ontstaan, toe die mag aan die parlement toegeken is. Die personele unie tussen Luxemburg en Nederland is in 1890 ontbind, nadat Willem III sonder oorblywende manlike erfgenaam oorlede is. Opvolgingswette het verhoed dat sy dogter koningin Wilhelmina die volgende Groothertogin kon word.
Die Belgiese Rewolusie tuis en die Java-oorlog in Nederlands-Indië het die Nederlande amper aan die rand van bankrotskap gebring. In 1830 is egter die Kultuurstelsel ingevoer; in Nederlands-Indië moes 20% van die dorpsgrond gewy word aan regeringsgewasse vir uitvoer. Dié beleid het aan die Nederlanders enorme rykdom besorg en die kolonie selfonderhoudend gemaak.
In 1863 het die Nederlande slawerny in sy kolonies afgeskaf.[81] Slawe in Suriname het eers in 1873 volledige vryheid verkry, aangesien die wet bepaal het dat daar 'n verpligte oorgang van tien jaar moes plaasvind.[82]
Wêreldoorloë en later (1890–hede)
Nederland was in staat om gedurende die Eerste Wêreldoorlog neutraal te bly, deels omdat die invoer van goedere deur Nederland noodsaaklik was vir die Duitse oorlewing tot die Britse Vloot se blokkade in 1916.[83] Dit het tydens die Tweede Wêreldoorlog verander, toe Nazi-Duitsland Nederland op 10 Mei 1940 binnegeval het. Die Rotterdamse Blitz het die hoofgroep van die Nederlandse leër gedwing om vier dae later oor te gee. Tydens die Duitse besetting is meer as 100 000 Jode[84] saamgetrek en na Nazi-konsentrasiekampe vervoer; net min van hulle het die Holocaust oorleef. Nederlandse werkers is vir dwangarbeid in Duitsland in diens geneem, burgerlikes in die weerstand is in vergelding vir aanvalle op Duitse soldate vermoor en die platteland is vir kos geplunder. Alhoewel daar duisende Nederlanders was wat hul lewens op die spel geplaas het deur Jode vir die Duitsers weg te steek, het meer as 20 000 Nederlandse fasciste by die Waffen-SS aangesluit,[85] en aan die Oosfront geveg.[86] Politieke medewerkers was lede van die fascistiese NSB, die enigste wettige politieke party in die besette Nederland. Op 8 Desember 1941 het die Nederlandse regering in ballingskap oorlog teen Japan verklaar,[87] maar hulle kon nie die Japannese besetting van Nederlands-Indië verhoed nie.[88] In 1944–45 was die Eerste Kanadese leër, wat Kanadese, Britse en Poolse soldate ingesluit het, verantwoordelik vir die bevryding van 'n groot deel van Nederland.[89] Kort na die Bevrydingsdag het die Nederlanders 'n koloniale oorlog teen die nuwe Republiek Indonesië gevoer.
In 1954 het die Wet vir die Koninkryk van die Nederlande (Statuut voor het Koninkrijk der Nederlanden), wat die gevolg was van internasionale druk om dekolonisering uit te voer, die politieke struktuur van Nederland hervorm. Die Nederlandse kolonies Surinam en Curaçao het saam met die Europese land op 'n gelyke basis lande binne die koninkryk geword. Indonesië het sy onafhanklikheid in Augustus 1945 verklaar (erken in 1949), en was derhalwe nooit deel van die hervormde koninkryk nie. Suriname het in 1975 gevolg. Ná die oorlog en die opkomende Koue Oorlog het Nederland die tydperk van neutraliteit verlaat en nouer bande met sy buurlande aangeknoop. Nederland was een van die stigtingslede van Benelux, Navo, Euratom en die Europese Steenkool- en Staalgemeenskap, wat later in die EEG (Gemeenskaplike mark) en later die Europese Unie sou ontwikkel.
Emigrasiepogings wat deur die regering ná die oorlog aangemoedig is om die bevolkingsdigtheid te verminder het 500 000 Nederlanders aangespoor om die land te verlaat.[90] Die 1960's en 1970's was gekenmerk deur groot sosiale en kulturele veranderinge, soos 'n vinnige deversuiling wat gekenmerk is deur die verval van die ou verdeeldheid op politieke en godsdienstige gebied. Jongmense, en veral studente, het tradisionele sedes verwerp en aangedring op veranderinge in sake soos vroueregte, seksualiteit, ontwapening en omgewingskwessies. In 2002 is die euro as geldeenheid ingevoer en in 2010 is die Nederlandse Antille ontbind. Daar is 'n referendum op elke eiland gehou om hul toekomstige status te bepaal. Vervolgens het die eilande Bonaire, Sint Eustatius en Saba (die BES-eilande) nouer bande met Nederland gesluit. Dit het ná die ontbinding van die Nederlandse Antille tot die inkorporasie van die drie eilande by Nederland as spesiale munisipaliteite gelei. Die spesiale munisipaliteite word onder die sambreelterm Karibiese Nederland saamgevat. Sedertdien vorm Nederland saam met Aruba, Curaçao en Sint Maarten die Koninkryk van die Nederlande.