Normaalskool, Steynsburg
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Normaalskool, Steynsburg was 'n opleidingsentrum vir onderwysers op die Noordoos-Kaapse dorp Steynsburg van omstreeks 1909, toe die eerste drie kwekelinge deur die plaaslike Gereformeerde gemeenteskool ingeneem is, tot 1950 toe dit gedwing is om weens 'n afname in die getal studente te sluit. Dit is in 1926 deur die Kaaplandse onderwysdepartement oorgeneem en het van sy amptelike stigting in 1914 tot sy sluiting einde 1950 sowat 850 laerskool-onderwysers opgelei.
Die Normaalskool was een van die ses oudste onderwyskolleges in Kaapland. Grahamstad s'n is in 1897 gestig, dié op Robertson in 1910 en in die Paarl in 1913. In 1914 het die kolleges op Cradock en King William's Town saam met dié op Steynsburg gevolg en voor 1920 nog vier: Oudtshoorn (1915), Graaff-Reinet (1917), Stellenbosch (1918) en Uitenhage (1919).[1]
Al enkele faktor wat tot die kollege se sluiting aanleiding gegee het, was die daling in die studentetal. Hoewel die Normaal, soos dit algemeen bekendgestaan het, altyd die steun van die Gereformeerde Kerkverband geniet het, selfs nadat dit in 1926 deur die Kaaplandse onderwysdepartement oorgeneem is, het baie Gereformeerde ouers van voornemende onderwysstudente veral uit Kaapland, die Normaalskool se natuurlike voedingsbron, hul kinders elders laat leer. Steynsburg was waarskynlik net te afgeleë of dalk was die dorp te klein om 'n aantreklike leersentrum vir studente te wees wat meer geleenthede vir ontspanning, vermaak, kultuur en sport in groter sentra kon geniet. Destyds was daar immers onderwyskolleges op talle vername dorpe in Kaapland, soos Wellington, Oudtshoorn, die Paarl en Graaff-Reinet, wat veel meer aan voornemende studente as 'n dorpie soos Steynsburg kon bied.
Die sluiting van die Normaal was op die oog af die einde van alles waarvoor lidmate van veral die Gereformeerde kerk Steynsburg byna 40 jaar lank geveg, geoffer en gebid het. Tog het die sowat 850 studente wat met die jare hier studeer het, 'n onmeetbare invloed op die onderwys en sodoende ook op die nageslag uitgeoefen, want waarskynlik die meeste van hulle was ambassadeurs wat die beginsels waarvoor die inrigting op Steynsburg al die jare gestaan het, aan leerlinge in die hele land en verder oorgedra het.