Obelisk
From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Obelisk (afgelei van die antieke Griekse ὀβελίσκος obeliskos;[1][2] verkleinvorm van ὀβελός obelos, "spit, spyker, spitspilaar"[3]) is 'n lang, vierkantige, smal monument wat van onder af nouer loop totdat dit eindig in 'n piramidevormige punt, die sogenaamde pyramidion. Obeliske is oorspronklik deur die Antieke Egiptenare gebou; hulle naam daarvoor was tekhenu. Die Grieke het die woord "obeliskos" gebruik om hulle te beskryf, en hierdie woord is oorgeneem in Latyn en uiteindelik die ander Europese tale.[4] Die antieke obeliske is monolities: hulle bestaan uit 'n enkele steen. Die meeste moderne obeliske bestaan egter uit meer as een steen, en sommige, soos die Washington-monument, is geboue.
Die woord stele word oor die algemeen gebruik vir ander monumentale, regop stene met geskrifte of beeldhouwerk.
Egipties
Obeliske was prominent in die argitektuur van die antieke Egiptenare, wat hulle in pare by die ingang van tempels geplaas het. Die Griekse woord "obelisk" wat vandag gebruik word, kom kom uit die geskrifte van Herodotus, die griekse reisiger, wat een van die eerste klassieke skrywers was om hierdie voorwerpe te beskryf. 'n Aantal antieke Egiptiese obeliske bestaan nou nog, asook die "Onvoltooide Obelisk" wat deels uitgekap in sy steengroef by Aswan staan. Hierdie obeliske is nou versprei regoor die wêreld, en minder as die helfte van hulle is steeds in Egipte.
Die oudste tempelobelisk wat nog in sy oorspronklike posisie staan is die 20,7 m hoë 120 ton rooi graniet obelisk van Senusret I van die 12de Dinastie by Al-Matariyyah in die moderne Heliopolis.[5]
Die obelisk simboliseer die songod Ra, en gedurende die kort godsdienstige hervorming van Akhenaten is dit gesien as 'n versteende straal van die Aten, die sonskyf. Dit is ook geglo dat Ra binne die struktuur bestaan het.
Benben was die heuwel wat ontstaan het uit die oerwaters Nu waarop die skeppingsgod Atum hom gevestig het, volgens die Heliopolitiese skeppingsmite van die Antieke Egiptiese godsdiens. Die Benben-steen (ook bekend as'n pyramidion) vorm die bopunt van die Egiptiese piramide. Dit is ook verwant aan die Obelisk.
Die New York Universiteit Egiptoloog Patricia Blackwell Gary en Astronomy senior redakteur Richard Talcott voer die hipotese aan dat die vorms van die antieke Egiptiese piramide en obelisk afgelei is van natuurlike verskynsels wat verband hou met die son, die songod Ra synde die oppergod van die Egiptenare.[6] Die piramide en obelisk sou daarvolgens geïnspireer wees deur die voorheen onderskatte astronomiese verskynsels wat verband hou met sonsopkoms en sonsondergang: die sodiaklig en "son pilare", onderskeidelik.
Die Antieke Romeine was sterk deur die obeliskvorm beïnvloed, tot dié mate dat daar nou meer as twee keer soveel obeliske in Rome staan as wat in Egipte oorbly. Almal het na die Romeinse tydperk geval, behalwe vir die Vatikaanobelisk, en is weer op verskillende plekke opgerig.
Die grootste en hoogste Egiptiese obelisk is die Lateraanse Obelisk in die stadplein by die westekant van die Lateraanse Basiliek in Rome, met 'n hoogte van 32,2 m en 'n gewig van 455 ton.[7]
Nie al die Egiptiese obeliske in die Romeinse Ryk is in Rome opgerig nie. Herodes die Grote het sy Roomse beskermhere nageboots deur 'n rooi graniet Egiptiese obelisk in die renbaan van sy nuwe stad Caesarea in die noorde van Judea op te rig. Hierdie een is ongeveer 12 m hoog en weeg ongeveer 100 ton.[8] Dit is deur argeoloë ontdek, en is weer op sy oorspronklike plek opgerig.
In Konstantinopel in 390 NC het die Bisantynse Keiser Theodosius 'n obelisk na die stad laat verskeep, en het dit in sy renbaan opgestel, waar dit die Kruistogte en die Seljuks oorleef het, en nou nog in die Hippodroomplein in die moderne Istanbul staan. Dit was oorspronklik 29 m hoogen het 380 ton geweeg, maar sy onderste helfte, wat glo ook eens in Istanbul gestaan het, is nou verlore. Die oorblywende obelisk is 20 m hoog.[9]
Die mees bekende obelisk in rome is waarskynlik die 25 m hoë, 331 ton obelisk op Sint Pieter se Plein in Rome. Die obelisk het sedert 37 NC op die muur van die Sirkus van Nero gestaan, oorkant Sint Pieter se Basiliek:
- "Die ouer Plinius in sy Natuurgeskiedenis verwys na die obelisk se vervoer uit Egipte na Rome op bevel van die Keiser Gaius (Caligula) as 'n uitstaande gebeurtenis. Die skip wat dit gedra het, het 'n groot mas van dennehout gehad, wat vier mans se arms nie kon omsingel nie. Een honderd en twintig koringmate lensies was nodig as ballas. Nadat sy doel vervul is, was die reuse skip nie meer nodig nie. Daarom is dit gevul met klippe en sement, en gesink om die fondasie van die voorste kaai van die nuwe hawe by Ostia ."[10]
Die heroprigting van die obelisk het selfs vir Michelangelo as 'n onbegonne taak voorgekom, maar Sixtus V was vasbeslote om dit voor van Sint Pieter se basiliek op te rig, waarvan die middeskip nog gebou moes word. Hy het 'n volgrootte houtmodel binne enkele maande van sy verkiesing laat oprig. Domenico Fontana, die assistent van Giacomo Della Porta in die Basiliek se konstruksie, het die Pous 'n hout modelhyskraan en 'n swaar modelobelisk uit lood gegee, wat Sixtus self kon oplig deur 'n slingertjie met sy vinger te draai. Fontana het die opdrag vir die projek gekry.
Die obelisk, half-begrawe in die puin van die eeue, is eers op sy plek uitgegrawe. Dit het toe van 30 April tot 17 Mei 1586 geduur om dit op rollers tot by die Piazza te bring: die werk het byna 1000 mans, 140 karperde en 47 hyskrane geverg. Die heroprigting, op 14 September, die Fees van die Opheffing van die Kruis, is deur 'n groot skare toegeskou. Dit was 'n groot ingenieursprestasie, wat Fontana se reputasie gemaak het. Hy het die operasie in 'n boek beskryf wat met koperetswerke geïllustreer is: Della Trasportatione dell'Obelisco Vaticano et delle Fabriche di Nostro Signore Pappa Sisto V (1590).[11][12] Die boek self het 'n nuwe standaard in die kommunikasie van tegniese inligting gestel, en het daaropvolgende argitektoniese publikasies beïnvloed deur sy noukeurige akkuraatheid.[13] Voordat dit weer opgerig is, is die onheil uit die obelisk gedryf. Dit word gesê dat Fontana spanne van aflosperde gehad het sodat, indien die onderneming sou misluk, hy sou kon ontsnap. Toe Carlo Maderno die Basiliek se skip gebou het, moes hy die as daarvan effens krom bou, om dit met die obelisk in lyn te kry.
Drie verder obeliske is opgerig in Rome onder Sixtus V: die een agter Santa Maria Maggiore (1587), die reuse obelisk op die Lateraanse Basiliek (1588), en die een op die Piazza del Popolo (1589).[14]
'n Obelisk staan voor die kerk van Trinità dei Monti, bo-aan die Spaanse Trappe. Nog 'n obelisk in Rome bevat beeldhouwerk wat dit laat voorkom asof dit op die rug van 'n olifant gedra word. Rome het een van sy obeliske verloor: die Boboli obelisk wat die tempel van Isis versier het, en wat in die 16de eeu herontdek is. Die Medici het dit vir die Medici Villa geëis, maar in 1790 het hulle dit na die Boboli Tuine aan die Palazzo Pitti in Florence geskuif, en het 'n replika agtergelaat.
Verskeie ander Egiptiese obeliske is elder opgerig. Die bekendste voorbeelde buite Rome is die paar 21 m hoë, 187 ton obeliske in Londen en New York Stad wat as Cleopatra se Naalde bekend staan, en die 23 m 227 ton obelisk op die Place de la Concorde in Parys.[15]
Daar is antieke Egiptiese obeliske in die volgende plekke:
- Egipte – 8
- Farao Thutmosis I, Karnak Tempel, Luxor
- Farao Ramses II, Luxor Tempel
- Farao Hatshepsut, Karnak Tempel, Luxor
- Farao Senusret I, Al-Masalla gebied van Al-Matariyyah distrik in Heliopolis, Kaïro
- Farao Ramses III, Luxor Museum
- Farao Ramses II, Gezira Eiland, Kaïro, 20,4 m[16]
- Farao Ramses II, Kaïro Internasionale Lughawe, 17 m
- Farao Seti II, Karnak Tempel, Luxor,
- Frankryk – 1
- Farao Ramses II, Luxor Obelisk, in die Place de la Concorde, Parys
- Israel – 1
- Cesaréa obelisk
- Italië – 13 (insluitende die een in die Vatikaanstad)
- Pole – 1
- Turkye – 1
- Farao Tuthmosis III, die Obelisk van Theodosius in die Hippodroom, Istanbul, saam met die Bisantynse Ommuurde Obelisk en die Slang Pilaar
- Verenigde Koninkryk – 4
- Farao Tuthmosis III, "Cleopatra se Naald", op Victoria Embankment, Londen
- Farao Amenhotep II, in die Oostelike Museum, Universiteit van Durham
- Farao Ptolemeus IX, Philae obelisk, by Kingston Lacy, naby Wimborne Minster, Dorset
- Farao Nectanebo II, Britse Museum, Londen (paar van obeliske)
- Verenigde State Van Amerika – 1
- Farao Tuthmosis III, "Cleopatra se Naald", in die Central Park, New York
Assiries
Obeliskmonumente is ook bekend uit die Assiriese beskawing, waar hulle opgerig is as openbare monumente om die prestasies van die Assiriese koning te herdenk.
Die Britse Museum beskik oor vier Assiriese obeliske:
Die Wit Obelisk van Ashurnasirpal I is ontdek deur Hormuzd Rassam in 1853 te Ninevé. Die obelisk is opgerig deur óf Ashurnasirpal I (1050-1031 VC) óf Ashurnasirpal II (883-859 VC). Die obelisk dra 'n geskrif wat verwys na die koning se beslaglegging van goedere, mense en beeste, wat hy teruggebring het na die stad van Ashur. Die reliëfs van die Obelisk beeld tonele uit van militêre veldtogte, jag, oorwinningsfeeste en huldeblyk aan die koning.
Die Rassam Obelisk, vernoem na sy ontdekker Hormuzd Rassam, is gevind op die vesting van Nimrud (antieke Kalhu). Dit is opgerig deur Ashurnasirpal II, maar net fragmente bly oor. Die oorblywende dele van die reliëfs beeld tonele uit waar huldeblyk uit Sirië en die weste aan die koning oorgegee word.[18]
Die Swart Obelisk is ontdek deur Sir Austen Henry Layard in 1846 op die vesting van Kalhu. Die obelisk is deur Shalmaneser III opgerig, en die reliëfs beeld tonele van huldeblyk sowel as die twee heersers, Jehu die Israelit en Sua die Gilsaneaan, wat gebare van onderwerping aan koning Shalmaneser maak. Die reliëfs op die obelisk gaan gepaard met epigrafe, en daarbenewens het die obelisk ook 'n langer inskripsie wat een van die laaste weergawes van Shalmaneser III se annale vaslê, naamlik die tydperk vanaf die begin van sy heerskappy tot sy 33ste jaar as koning.
Die Gebroe Obelisk is ook ontdek deur Rassam in Ninevé. Slegs die bopunt van hierdie monoliet is herbou in die Britse Museum. Die obelisk is die oudste bekende obelisk van Assirië, en dateer uit die 11de eeu VC.[19]
Axumiet (Ethiopië)
'n Aantal obeliske is geskep deur die antieke Axumitiese Koninkryk wat in die noorde van die hedendaagse Ethiopië bestaan het. Een is die 21 m hoë stele van Koning Ezana, die laaste een wat opgerig is, en die enigste behoue Axumitiese obelisk. Die mees bekende Axumitiese obelisk is die 24 m hoë sogenaamde Obelisk van Axum. Dit is rondom die 4de eeu NC uitgesny, maar het met verloop van tyd neergestort en het in drie dele opgebreek. Dit is in 1935 in hierdie toestand deur Italiaanse soldate gevind, na die Tweede Italo-Abessiniese Oorlog. Dit is geplunder en in 1937 teruggeneem na Rome, waar dit in die Piazza di Porta Capena opgerig is. Italië het volgens 'n 1947 VN-ooreenkoms onderneem om die obelisk terug te bring, maar het eers in 1997 die ooreenkoms herbevestig, na jare van druk en verskeie omstrede skikkings. In 2003 het die italiaanse regering het die eerste stappe geneem om dit terug te bring, en in 2008 is dit uiteindelik weer in Ethiopië opgerig.
Die grootste bekende obelisk, die Groot Gedenksteen by Axum, het nie bly staan nie. Dit was oorspronklik 33 m hoog, het 'n basis van 3×2 m breed, en weeg 520 ton, en is dus een van die grootste enkele stene wat ooit in die menslike geskiedenis gewerk is; die grootste is óf by Baalbek óf die Ramesseum. Die obelisk het waarskynlik reeds tydens sy oprigting of kort daarna omgeval, en daardeur 'n groot deel van die massiewe grafkelder onder hom verwoes. Sulke obeliske word eintlik stelae genoem, of in die oorspronklike taal hawilt of hawilti, aangesien hulle nie in 'n piramide eindig nie. Hulle is gebruik om grafte en ondergrondse begrafnis kamers te merk. Die grootste grafmerkers was vir die koninklike begrafniskamers, en is versier met multi-verdieping valse vensters en deure, terwyl die adel kleiner, minder versierde stelae gehad het. Alhoewel slegs 'n paar grotes nog staan, is daar honderde kleineres in sogenaamde "stele velde".
Antieke Rome
Die Romeine obeliske in 'n antieke Egiptiese styl laat bou. Voorbeelde sluit in:
- Arles, Frankryk —die Arles Obelisk, in die Place de la République, 'n 4de eeu obelisk van Romeinse oorsprong
- Benevento, Italië — Romeinse obeliske[20][21]
- München — obelisk van Titus Sextius Africanus, Staatliches Museum Ägyptischer Kuns, Kunstareal, 1ste eeu NC, 5,8 m hoog
- Rome — vyf antieke Romeinse obeliske Sien Lys van obeliske in Rome.
Bisantyns
- Ommuurde Obelisk, Hippodroom van Konstantinopel. Gebou deur Konstantyn VII Porphyrogenitus (905-959) en oorspronklik bedek met vergulde brons plate.
Pre-Columbiaanse Amerikas
Die prehistoriese Tello Obelisk, gevind in 1919 by Chavín de Huantar in Peru, is 'n monolitiese stele met obeliskagtige proporsies. Dit is uitgekap in 'n lae reliëfontwerp met Chavín simbole, soos bande van tande en dierkoppe. Dit was lank in die Museo Nacional de Arqueología, Antropología e Historia del Perú in Lima, en is later geskuif na die Museo Nacional de Chavín, wat in Julie 2008 geopen is. Die obelisk is vernoem na die argeoloog Julio C. Tello, wat dit ontdek het, en beskou was as die "vader van die Peruaanse argeologie." Hy was Amerika se eerste inheemse argeoloog.[22]