Organiese molekules
From Wikipedia, the free encyclopedia
Indien die inhoud van lewende selle ontleed word, word daar behalwe water groot hoeveelhede koolhidrate, vette en proteïene aangetref. Laasgenoemde 3 is klasse organiese molekules; dit is molekules wat uit hoofsaaklik koolstof, waterstof en suurstof bestaan en van lewende organismes afkomstig is.
Plante moet al hul organiese molekules self vervaardig, terwyl diere die meeste uit voedsel moet verkry en 'n gedeelte ook kan sintetiseer. Die molekules verrig noodsaaklike strukturele, metaboliese en reguleringsfunksies in lewende organismes en kan daarom ook as biomolekules bekend staan. Koolhidrate is die algemeenste en wydste verspreide groep organiese molekules in die natuur en word in plante, diere, swamme en bakterieë aangetref.
'n Monosakkaried (enkelsuiker), glukose, is die eerste organiese molekule wat deur fotosintetiserende plante en bakterieë gesintetiseer word en die molekule word gebruik om al die ander organiese molekules te vervaardig. Koolhidrate is koolstofverbindings met die algemene formule (CH2O)n, waar n = 3 of meer; ander chemiese kenmerke is dat koolhidrate altyd hidroksielgroepe (-OH-groepe), asook keto-groepe (C=O-groepe) bevat.
Die meeste groot en ingewikkelde koolhidrate (polisakkariede) word vervaardig deur ʼn aantal glukose-eenhede (monosakkariedeenhede) in ʼn ketting aan mekaar te voeg. Verskille in die verbindings en vertakkings van die ketting veroorsaak die vorming van verskillende polisakkariede, wat elk kenmerkende funksies verrig, soos sellulose wat stewigheid aan plante verleen en stysel wat as reserwe-energiebron geberg word. Vette en olies word in 'n verskeidenheid vorme in lewende organismes aangetref en kan ook as lipiede bekend staan.
Die algemeenste lipied in dierselle word trigliseried genoem en bestaan uit drie vetsure (verskillende groottes karboksielsure) wat deur esterverbindings aan ʼn gliserolmolekule gekoppel is. Olies verskil van vette omdat olies se vetsure onversadig is (daar is dubbelverbindings tussen 2 koolstofmolekules). Lipiede is ʼn belangrike reserwe-energiebron, want meer energie kan per eenheid massa geberg word as in soortgelyke hoeveelhede koolhidrate of proteïene. Die molekules het ook belangrike strukturele funksies omdat hulle ʼn bestanddeel van selmembrane is, en hulle kan ook van vitamiene en hormone deel uitmaak.
Proteïene het ʼn verskeidenheid funksies en is daarom waarskynlik die belangrikste organiese molekules. Omdat die molekules sulke verskillende funksies verrig, het hulle ook ʼn baie groot verskeidenheid vorme. Hulle word buite selmembrane, as deel van selmembrane, en binne die selle van plante, diere, swamme en bakterieë gevind.
Proteïene fungeer in selmembrane as strukturele bestanddele wat die deurgang van stowwe bepaal en moontlik maak, terwyl hulle binne die selle ensieme kan wees wat reaksies reguleer en daartoe bydra dat die intra-sellulêre (binne die sel) toestand konstant bly. 'n Groot aantal ensieme word aangetref omdat elke reaksie deur net 'n spesifieke ensiem gekataliseer word. Proteïene bepaal die struktuur van vere, die huid, hoewe, sy, spinnerakke en spiere. Ander proteïene, soos hemoglobiene en hemosianiene, vervoer stowwe in die liggame van mense en diere.
Die immunoglobiene dien as teenliggaampies om soogdiere en die mens te help om siektes te bestry. Baie hormone is proteïene, soos insulien, wat help om die glukose-metabolisme te reguleer, terwyl baie toksiene, byvoorbeeld slanggif, ook 'n proteïen is. Ondanks die proteïene se verskillende vorme, is almal saamgestel uit slegs 20 verskillende kombinasies aminosure. Hierdie aminosure kan in verskillende kombinasies in kettings van wisselende lengte gevoeg word.