Rugbywêreldbeker 1995
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Rugbywêreldbeker 1995 is van 25 Mei tot 24 Junie 1995 in Suid-Afrika beslis. Dit was die derde rugbywêreldbeker van die vierjaarlikse rugbywêreldkampioenskap wat deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangebied word en die eerste in Afrika. Dit was die eerste wêreldbekertoernooi in een van Suid-Afrika se gewildste sportsoorte; later het dié land ook die Krieketwêreldbeker 2003 en die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 aangebied. Dit was ook die eerste keer wat ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan weer aan ’n internasionale byeenkoms kon deelneem ná die lang stryd teen apartheid en as ’t ware die eerste groot toernooi vir en in Suid-Afrika ná die einde van dié politieke stelsel. Saam met die Afrikanasiesbeker 1996 was die Rugbywêreldbeker 1995 een van twee groot sportkompetisies in Suid-Afrika binne een jaar.
Rugbywêreldbeker 1995 | |
Toernooibesonderhede | |
---|---|
Gasheer | Suid-Afrika |
Datums | 25 Mei – 24 Junie |
Aantal nasies | 16 (52 kwalifiseer) |
Finale posisies | |
Kampioen | Suid-Afrika |
Naaswenner | Nieu-Seeland |
Derde plek | Frankryk |
Toernooistatistiek | |
Wedstryde | 32 |
Bywoning | 1 100 000 (gem. 34 375 per wedstryd) |
Drieë | 189 (gemiddeld 5.91 per wedstryd) |
Meeste punte | Thierry Lacroix (112)[1] |
Meeste drieë | Jonah Lomu Marc Ellis (7 drieë elk)[2] |
← 1991 |
1999 → |
Die toernooi se formaat van 1987 en 1991 het onveranderd gebly en 16 nasionale rugbyspanne het aan die Rugbywêreldbeker 1995 deelgeneem: die gasheer Suid-Afrika, die agt regstreekse kwalifiseerders van die 1991-toernooi (Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Kanada, Nieu-Seeland, Samoa en Skotland), asook die sewe beste spanne van die kwalifisering (Argentinië, Italië, die Ivoorkus, Japan, Roemenië, Tonga en Wallis). Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 is 32 wedstryde gespeel, waaronder 24 tydens die groepfase en agt tydens die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die spanne is in vier groepe van vier elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne in die groep gespeel het. Die twee beste spanne van elke groep het hierna vir die kwarteindrondte gekwalifiseer. Die nominale gasheer Wallis, die verdedigende kampioen Suid-Afrika, die naaswenner Nieu-Seeland en die derde-plek-span Frankryk het regstreeks vir die volgende Rugbywêreldbeker 1999 in die destydse Vyfnasies gekwalifiseer. Net soos Suid-Afrika het die Ivoorkus vir die eerste keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem. Namibië het vir die eerste keer aan ’n kwalifisering deelgeneem en vyf wedstryde gewen, maar hulle kon egter nie vir die Rugbywêreldbeker 1995 kwalifiseer nie nadat die beslissende wedstryd teen Marokko in ’n gelykop geëindig het.
Suid-Afrika het die eindstryd op Ellispark in Johannesburg teen Nieu-Seeland met 15–12 gewen, nadat ’n bykomende tien minute ekstra tyd toegestaan is toe die telling 9–9 was.[3] Suid-Afrika het daarmee ná Nieu-Seeland in 1987 die tweede gasheer geword wat die rugbywêreldbekertoernooi tuis gewen het en die derde agtereenvolgende kampioen van die Suidelike Halfrond geword, ná Nieu-Seeland in 1987 en Australië in 1991. Daarbenewens was dit die eerste eindwedstryd in dié toernooi se geskiedenis wat twee spanne van die Suidelike Halfrond gesien het. Frankryk het in die derde en Engeland in die vierde plek geëindig; interessant genoeg het die vier groepwenners as die vier beste spanne van die toernooi geëindig.
Die Rugbywêreldbeker 1995 het om verskeie redes geskiedenis gemaak: Dit was die eerste groot sporttoernooi op die Afrikavasteland, die eerste rugbywêreldbekertoernooi wat heeltemal in een land aangebied is en die laaste groot toernooi van rugby se amateurera; twee maande later het die IRVR met die professionalisering van dié sport begin. Die Rugbywêreldbeker 1995 word ook wyd onthou vir die samewerking van alle Suid-Afrikaners onder die bewind van Nelson Mandela se regering van nasionale eenheid. Die oorhandiging van die Webb Ellis-beker deur ’n in die Springboktrui geklede Nelson Mandela aan die Springbokkaptein Francois Pienaar is waarskynlik die bekendste gebeurtenis van die Rugbywêreldbeker 1995 en versinnebeeld die versoening tussen “swart” en “wit Suid-Afrikaners”. Die oomblik is glo een van die beroemdste finale van enige sportsoort.[4] Dit was ook die laaste toernooi met die aantal van 16 nasionale rugbyspanne; vir die volgende Rugbywêreldbeker 1999 is die aantal na 20 verhoog. Vir die eerste keer in ’n rugbywêreldbekertoernooi was ’n drie gelyk aan vyf punte; voorheen was dit vier. Daarbenewens het die Rugbywêreldbeker 1995 die opkoms van die Nieu-Seelander Jonah Lomu as ’n rugbyster gesien.