Skitiërs
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Skitiërs of Skithiërs was ’n antieke Iranse nomadiese volk van ruiters[1] wat op die steppe om die Swart- en Kaspiese See, toe bekend as Skitië, gewoon het. Hulle is later deur die nabyverwante Sarmate oorheers. Baie van die inligting wat oor hulle bekend is, kom van die Griekse historikus Herodotus (omstreeks 440 v.C.) en van opgrawings van voortreflike goue artefakte in Skitiese grafheuwels in die Oekraïne en Suid-Rusland.
Hul taal, Skities, word dikwels geklassifiseer as ’n lid van die Oos-Iranse tale. Daar word geglo hulle het oorspronklik van die Sentraal-Asiatiese streek Groter Iran (Persië) gekom.[2][3][4]
Argeologiese oorblyfsels van die Skitiërs sluit in grafheuwels, of koergans – sommige eenvoudig, ander oordadige grafkelders met wapens, perdetuie, Skitiese kuns, goud, sy en diere-offerandes, plek-plek ook met vermoedelik menslike offerandes.[5][6] Mummifiseringstegnieke en ysgrond het gehelp om die oorblyfsels goed bewaar te laat bly.
Argeoloë kan onderskei tussen drie periodes van antieke Skitiese oorblyfsels:
- 1ste periode - voor-Skitiese en aanvanklike Skitiese tydperk: van die 9de tot die middel van die 7de eeu v.C.
- 2de periode – vroeë Skitiese tydperk: van die 7de tot die 6de eeu v.C.
- 3de periode – klassieke Skitiese tydperk: van die 5de tot die 6de eeu v.C.