Slangkop-vuurtoring
vuurtoring in Suid-Afrika / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Slangkop-vuurtoring is 'n vuurtoring by Slangkoppunt in Kommetjie op die Kaapse Skiereiland. Dit is op 4 Maart 1919 in gebruik geneem nadat 'n kommissie wat in 1906 deur die goewerneur in die Kaap, sir Francis Hely-Hutchinson, aangestel is, aanbevelings gemaak het vir veiligheidsmaatreëls om die suidkus van die Kaapkolonie.[1]
Dit is 'n 33 meter hoë, wit geverfde gietystertoring. Dit is die hoogste metaaltoring in Suid-Afrika.[2] Die toring is in Brittanje gebou en ontwerp en na Suid-Afrika verskeep waar dit aanmekaargesit en opgerig is. Hoewel dit reeds in 1916 voltooi is, is dit weens die Eerste Wêreldoorlog eers in 1919 in gebruik geneem.
Die oorspronklike 500 000 C.D.-lig is deur 'n driemantel-petroldamplamp van 55 mm verskaf. Dit is in 1936 deur 'n 4 kW elektriese lamp vervang wat die ligkrag tot 16 000 000 C.D. vermeerder het. In 1974 is dit weer vervang met 'n 1,5 kW-lamp wat die ligkrag na ongeveer 5 000 000 C.D. verminder het. Die vuurtoring is in 1979 ten volle geoutomatiseer, wat dit moontlik gemaak het om die bemanning van drie tot een te verminder.