Twerskajastraat (Russies: Тверская улица [tvʲɪrˈskajə ˈulʲɪt͡sə] Tverskaja oelitsa), tussen 1935 en 1990 bekend as Gorkistraat (улица Горького oelitsa Gorkogo), is die hoofstraalpad van Moskou. Dit loop in noordwestelike rigting vanuit die sentrale Manezjnaja-plein (digby die Kremlin geleë) oor 'n afstand van sowat twee kilometer tot die Tuinring waar dit oorgaan in die Eerste Twerskaja-Jamskaja-straat, die Leningradski-Laan en die Leningradskoje-snelweg - die beginpunt van die M10 na Sint Petersburg.
Vroeër is na Twerskaja dikwels verwys as die "Tsarestraat" - Russiese heersers wat amptelike besoeke aan Moskou gebring of om ander redes vanuit die nuwe hoofstad Sint Petersburg na die Moskwametropool gereis het, het Moskou op Twerskaja binnegekom - so ook Pieter die Grote. Vir die gerieflikheid van tsare was Twerskaja een van die eerste steen-geplaveide strate in Moskou.
Die meeste Moskowiete sal na Twerskaja as dié of tenminste een van Moskou se hoofstrate verwys, al is van die beste restaurante en winkels in die systrate geleë.