![cover image](https://wikiwandv2-19431.kxcdn.com/_next/image?url=https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/8/8f/Vatnaj%25C3%25B6kull.jpeg/640px-Vatnaj%25C3%25B6kull.jpeg&w=640&q=50)
Vatnajökull
From Wikipedia, the free encyclopedia
Vatnajökull (Yslands: [ˈvahtnaˌjœːkʏtl], letterlik: "Watergletser") is die grootste gletser van Ysland en in die suidooste van die eiland geleë. Met 'n oppervlakte van 8 100 vierkante kilometer bedek Vatnajökull meer as agt persent van Ysland wat van hom die tweede grootste gletser in Europa ná die Austfonna op die eiland Nordaustlandet in die Noorse besitting Svalbard maak. Sy ysmassa het 'n gemiddelde dikte van 400 meter, met uiterstes van 1 000 meter, en oortref met 'n totale inhoud van 3 000 kubieke meter selfs dié van Austfonna. Albei gletsers behoort tot die sogenaamde yskap-tipe.
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/8/8f/Vatnaj%C3%B6kull.jpeg/320px-Vatnaj%C3%B6kull.jpeg)
![Thumb image](http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/6/6a/VatnajoekullDetailSkaftafell.jpg/640px-VatnajoekullDetailSkaftafell.jpg)
Die vulkaan Hvannadalshnúkur, die hoogste bergspits van Ysland (2 119 meter) is naby die Nasionale Skaftafellpark aan die suidelike rand van Vatnajökull geleë. Ná die uitbreiding van die nasionale park op 12 September 2005 behels dit meer as die helfte van die Vatnajökull-gebied.
Net soos by talle ander Yslandse gletsers lê ook onder die Vatnajökull 'n aantal vulkane, waarvan sommige by die aktiefstes op die eiland gereken word. Die vulkane word deur 'n vallei met 'n diepte van tussen 500 en 800 meter van mekaar geskei. Die vulkaanmere, waaronder Grímsvötn, was in 1996 die oorsprong van 'n grootskaalse gletserloop, terwyl die vulkaan, wat regstreeks onder die mere geleë is, in November 2004 'n kortstondige, maar nogtans hewige uitbarsting veroorsaak het. Tydens die laaste koue periode van die huidige Ystydperk was daar talle vulkaniese uitbarstings onder die gletser.
Teen die begin van die 21ste eeu het Vatnajökull se oppervlakte duidelik begin krimp, moontlik as gevolg van klimaatsverandering en onlangse vulkaniese aktiwiteit.