Verenigde State van Amerika
land in Noord-Amerika / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Verenigde State van Amerika (dikwels afgekort tot Verenigde State, VS of VSA; Engels: United States of America of USA), in die omgangstaal ook net Amerika[n 1] genoem,[10] is 'n federale republiek in die Westelike Halfrond wat uit vyftig deelstate, 'n federale distrik, vyf groter selfregerende gebiede en enkele kleiner eilandbesittings in die Stille Oseaan en die Karibiese See bestaan. 48 van sy deelstate en die federale distrik lê in Sentraal-Noord-Amerika tussen die Stille Oseaan in die weste en die Atlantiese Oseaan in die ooste en word in die noorde deur Kanada en in die suide deur Meksiko begrens. Die deelstaat Alaska lê in die noordweste van die Noord-Amerikaanse vasteland en grens in die ooste aan Kanada, terwyl dit in die weste deur die Beringstraat van die Russiese Federasie geskei word. Die deelstaat Hawaii is 'n eilandgroep in die middel van die Stille Oseaan.
- Hierdie artikel handel oor die land in Noord-Amerika. Vir ander gelyknamige state, sien Verenigde State (dubbelsinnig).
| |||||
Nasionale leuse: In God We Trust (sedert 1956 amptelik) Ander tradisionele leuses: E Pluribus Unum (Latyn vir: "Uit baie, een") Annuit cœptis (Latyn vir: "Hy het ons ondernemings bevoordeel") Novus ordo seclorum (Latyn vir: "Nuwe orde van die eeue") | |||||
Volkslied: The Star-Spangled Banner Mars: The Stars and Stripes Forever[1] | |||||
Hoofstad | Washington, D.C. | ||||
Grootste stad | New York | ||||
Amptelike tale | Geen op federale vlak nie1 Engels (de facto)2 | ||||
Regering | Federale presidensiële grondwetlike republiek Joe Biden (D) Kamala Harris (D) Kevin McCarthy (R) John Roberts | ||||
Onafhanklikheid | van Groot-Brittanje 4 Julie 1776 1 Maart 1781 3 September 1783 21 Junie 1788 24 Maart 1976 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
9 857 306[2]</ref>[3] km2 (3/4de) 3 796 742 myl2 4,66 (2015)[4] | ||||
Bevolking - 2022-skatting - 2020-sensus - Digtheid |
333 287 557[5] (3de) 331 449 281[6] 33,6 / km2 (185ste) 87 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,921[8] (21ste) – baie hoog | ||||
Gini (2020) | 39,7[9] – hoog | ||||
Geldeenheid | Dollar ($) (USD ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
(UTC-05 tot -10) (UTC-04 tot -10) | ||||
Internet-TLD | .us .gov .mil .edu | ||||
Skakelkode | +1 | ||||
1. Engels is die amptelike taal van 28 deelstate. Engels en Hawaiis is beide amptelike tale in die deelstaat Hawaii. Verder het Nieu-Meksiko en Louisiana wette wat die gebruik van onderskeidelik Spaans en Frans toelaat. 2. Engels is die de facto taal van die Amerikaanse regering en die enigste taal wat deur 82% Amerikaners ouer as vyf tuis gepraat word. Spaans is die tweede mees gesproke taal. |
Die Verenigde State beslaan altesaam veertig persent van die Noord-Amerikaanse vasteland. Met meer as 9,8 miljoen vierkante kilometer (byna 3,8 miljoen vierkante myl) en 'n bevolking van sowat 331,4 miljoen is die VSA die derde grootste land ter wêreld ten opsigte van sy oppervlakte en bevolking. Sy grondgebied strek oor nege amptelike tydsones. Met 'n bruto binnelandse produk van meer as 26 855 miljard VSA-$ in 2023 is die VSA naas die Volksrepubliek China die tweede grootste ekonomie ter wêreld.[7]
Die Verenigde State van Amerika is 'n federale presidensiële grondwetlike republiek met 'n tweekamerparlement, die Kongres, wat uit die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers bestaan. Die hoofstad van die VSA is Washington, D.C., wat nie deel uitmaak van een van die vyftig deelstate nie, maar in die federale Distrik Columbia geleë is.
Die grondgebied van die Verenigde State is oorspronklik deur 'n verskeidenheid stamme van die Eerste Nasies bewoon. Met die Europese kolonisasie deur Britte, Franse en Spanjaarde en grootskaalse immigrasie van dwarsoor die wêreld het die VSA tot een van die etnies, sosiaal en godsdienstig mees diverse lande ter wêreld ontwikkel.[11]
Die Verenigde State is deur dertien kolonies gestig, wat na aanleiding van die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog hulle onafhanklikheid van Groot-Brittanje op 4 Julie 1776 verklaar en hulle grondwet, die Artikels van die Konfederasie, op 1 Maart 1781 bekragtig het. Die huidige grondwet is op 17 September 1787 aangeneem.[12] Die oppervlakte van die VSA is gedurende die 19de eeu deur gebiede, wat van Frankryk en Meksiko gekoop is, aansienlik uitgebrei. Met die ekonomiese agteruitgang van die Sowjetunie in 1991 het die VSA die enigste oorblywende supermoondheid geword wat 'n oorheersende ekonomiese, politieke, kulturele en militêre invloed dwarsoor die wêreld uitoefen.[13][14]
Die eerste dokumentêre verskyning van die frase United States of America was in 'n brief op 2 Januarie 1776, geskryf deur Stephen Moylan, 'n Kontinentale Leër-assistent van generaal George Washington, aan Joseph Reed, Washington se adjudant. Moylan het sy begeerte uitgespreek om te gaan "met volle en ruim magte van die Verenigde State van Amerika tot Spanje" om bystand in die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog te verkry.[15][16][17] Die eerste publikasie van die frase United States of America was in 'n anonieme essay in The Virginia Gazette in Williamsburg op 6 April 1776.[18]
Teen Junie 1776 het die naam United States of America verskyn in ontwerpe van die Artikels van Konfederasie en Ewige Unie, vervat deur John Dickinson, 'n Stigtingsvader uit Pennsilvanië,[19][20] en in die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring, hoofsaaklik geskryf deur Thomas Jefferson en goedgekeur deur die Tweede Kontinentale Kongres in Philadelphia op 4 Julie 1776.[19]
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Geografie van die Verenigde State.
As die wêreld se derde grootste nasie (totale area), het die Verenigde State 'n baie wisselende landskap: gematigde woudland aan die ooskus, mangrovewoude in Florida, die Great Plains in die middel van die land, die Mississippi-Missouri rivierstelsel, die Rotsgebergte (Rocky Mountains) wes van die vlaktes, woestyne en gematigde kusgebiede wes van die Rotsgebergte en reënwoude in die noord-weste. Die vulkaniese eilande van Hawaii en die pool-gebiede van Alaska maak die geografiese diversiteit net nog groter. Die naaste lande buite die Noord-Amerikaanse vasteland is die Britse oorsese gebied Bermuda in die ooste asook die onafhanklike eilandstate Bahamas en Kuba in die suidooste.
E Pluribus Unum – Uit Veelheid, Eenheid
Die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring van 1776 het op sentrale waardes soos lewe, vryheid en strewe na geluk gefokus; om nuut verworwe gebiede tot die ondergeskikte status van kolonies te beperk was gevolglik buite die kwessie. Met die Northwest Ordinance van 1787 is die prosedures vasgelê waarvolgens nuwe deelstate op gelyke voet met die dertien stigterstate tot die Unie kon toetree. Die bou van 'n nasie uit 'n verskeidenheid deelstate was 'n nuwe benadering wat in die Federale Grondwet bekragtig is. Die stapsgewyse proses, waarvolgens nuut verworwe gebiede as deelstate selfregering en verteenwoordiging op federale vlak behaal het, word onder die Stigtingsvaders se belangrikste nalatenskappe gereken.
Die Amerikaanse metode van staatsbou het twee belange, wat van oudsher strydig was, met mekaar versoen – dié van vryheid (liberty) en dié van ryksgesag (empire) – en 'n politieke bestel verwesenlik wat deur Thomas Jefferson treffend beskryf is as 'n empire for liberty – 'n federale staat wat vryheid as sy hoofdoelwit nastreef. Die politieke bestel het oor 'n tydperk van meer as twee eeue onveranderd gebly, ongeag die ingrypende veranderinge wat die Unie sedert sy stigting ondergaan het. Die Verenigde State se geografiese uitgestrektheid en die groot verskeidenheid etniese, kulturele en godsdienstige agtergronde van sy bewoners was in die tyd van die Stigtingsvaders nog so onvoorspelbaar soos die land se ongekende ekonomiese en tegnologiese vordering van 'n agrariese staat tot 'n hoogs geïndustrialiseerde en verstedelikte supermoondheid.[21]
Politieke geografie
Die vastelandse Verenigde State (sonder Alaska en Hawaii) word in geografiese opsig in 'n aantal streke verdeel:
- Die Nieu-Engeland-State met Maine, New Hampshire, Vermont, Massachusetts, Rhode Island en Connecticut,
- Die Middel-Atlantiese State met New York, New Jersey, Delaware, Maryland, Virginië, Wes-Virginië en Pennsilvanië,
- Die Suidoostelike State met Noord-Carolina, Suid-Carolina, Georgia, Arkansas, Tennessee, Kentucky, Florida, Alabama, Mississippi en Louisiana,
- Die Midwes-State met Ohio, Indiana, Illinois, Michigan, Wisconsin, Minnesota, Iowa en Missouri,
- Die Groot-Vlaktes-State met Noord-Dakota, Suid-Dakota, Kansas en Nebraska,
- Die Bergstate met Idaho, Montana, Colorado, Wyoming en Utah,
- Die Suidwestelike State met Oklahoma, Texas, Nieu-Meksiko en Arizona, en
- Die Verre-Weste-State met Washington, Oregon, Kalifornië en Nevada.
Die grootste deelstate is ten opsigte van
- Oppervlak: Alaska met 1 723 337 vierkante kilometer (665 384 vierkante myl)[2] en
- Bevolking: Kalifornië met 'n bevolking van 39 538 223 in 2020.[6]
Die kleinste deelstate is ten opsigte van
- Oppervlak: Rhode Island met 4 001 vierkante kilometer (1 545 vierkante myl)[2] en
- Bevolking: Wyoming met 'n bevolking van 576 851 in 2020.[6]
Die deelstate Nevada, Arizona, Florida, Colorado, Utah, Georgia en Texas het in die laaste dekades die grootste relatiewe bevolkingsgroei getoon, terwyl die deelstate Kalifornië, Texas, Florida, Georgia, Arizona en Noord-Carolina die grootste absolute bevolkingsgroei ervaar het. Die bevolking van Wes-Virginië, Noord-Dakota en die Distrik Columbia het afgeneem. Die grootste stede in die VSA is New York, Los Angeles, Chicago, Houston en Philadelphia.
Die volgende kaart toon die ses amptelike sensusgebiede (Pasifiese Streek [Pacific – blou], Bergstreek [Mountain – rooi], Midweste [Midwest – oranje], Suide [South – geel], Noord-Oos [Northeast – violet] en Afhanklike Gebiede [Territories – groen]), vyftig deelstate en afhanklike gebiede van die Verenigde State:
Deelstate |
|
|
|
|
Nie getoon nie |
Fisiese geografie
Die Noord-Amerikaanse vasteland word volgens fisiese besonderhede in vier groot streke verdeel: Die Kanadese Skild met die Laurentiese Plato, die Appalachestreek, die Binnelandse Vlaktes en die bergagtige Weste. Vir die gebied van die Verenigde State word hierdie streke verder verdeel in sewe fisiografiese streke: Die Vlaktes van die Atlantiese Kus en die Golf van Meksiko, die Appalachiese Hooglande, die Binnelandse Vlaktes, die Binnelandse Hooglande, die Rotsgebergte, Die Intermontane Streek met die Groot Bekken en die Pasifiese Bergreekse. 'n Verdere streek, die Laurentiese Plato, beslaan slegs 'n klein gedeelte van die VSA se oppervlak in die gebied van die Groot Mere.
Die huidige terrein van die noordelike Verenigde State is deur gletsers gevorm, wat die noorde van die vasteland in die laaste Ystydperk bedek het. Die vroeëre suidelike kant van die yslaag word nog steeds deur 'n reeks eindmorenes gekenmerk, wat vanaf die eiland Long Island aan die Atlantiese ooskus in westelike rigting tot by die Rotsgebergte loop. Die gebiede noord van hierdie lyn is bedek met ou gletserafsettings. In die berggebiede van die noordweste en in Alaska het die berggletsers duidelike spore van erosie gelaat. Uitgestrekte gletsermere het groot gebiede in die weste bedek, waarvan die Groot Soutmeer in Utah net 'n oorblyfsel is.
Die oostelike en die Golfkusgebiede
Die kusvlaktes van die Atlantiese ooste en die Golf van Meksiko strek van Long Island tot by die Rio Grande aan die Texaans-Meksikaanse grens. Die kuslyn word deur talle eilande, riviermondings, baaie, sandtonge en strandmere oorheers. Eilande soos Long Island, Nantucket en Martha's Vineyard maak deel uit van die kusvlakte en is eers ná die Ystydperk as gevolg van die stygende seevlak tot eilande omskep. Die natuurlike hawens van die noordooste, soos New York- en Chesapeakebaai, het reeds in die koloniale tydperk die landing van setlaars en later seevervoer en handel met Europa vergemaklik. Suid van die groot kape van Noord-Carolina soos Kaap Fear, Kaap Hatteras en Kaap Lookout is groot natuurlike baaie en hawens skaars. Die kuslyn van die Golfgebied met sy strandmere word deur die uitgestrekte Mississippidelta oorheers.
Wes van die Atlantiese kusvlakte verrys die heuwelagtige Piedmontstreek met sy talle watervalle as 'n soort oorgangsgebied tussen die kusstreek en die Appalache-gebergte. Hierdie bergreeks was miljoene jare gelede nog 'n magtige gebergte, wat intussen deur erosie geslyp is. Die Appalagge loop vanuit die suidooste van Kanada in westelike rigting tot by die Golfkusvlaktes van Alabama. Slegs langs Nieu-Engeland se rotsige kuslyn strek die bergreeks plek-plek tot by die Atlantiese Oseaan. Die gebied van die Appalache en die Adirondack-gebergte van New York maak in geologiese opsig deel uit van die Kanadese Skild en behels die grootste hooglande van die oostelike Verenigde State. Die hoogste bergspits in die ooste is Mount Mitchell in die Swart Berge (Black Mountains) van Noord-Carolina met 'n hoogte van 2 037 meter (6 684 voet) bo seevlak.
Die Binnelandse Vlaktes en Hooglande
Die Binnelandse Vlaktes strek oor 'n lengte van sowat 1 600 kilometer (1 000 myl) van die Appalache tot by die Rotsgebergte in die weste en van Kanada in die noorde tot by die kusvlaktes van die Golf van Meksiko. Hulle geologiese onderlaag van sedimentêre gesteentes verwys na die feit dat die vlaktes vroeër 'n groot binnelandse see was; die gesteentes se ryk olie- en gasvoorkomste het van die deelstate Texas en Oklahoma (en die Kanadese prairie-provinsies) die belangrikste olieprodusente in Noord-Amerika gemaak. Die gebied word deur die Mississippi-Missouri-rivierstelsel gedreineer – een van die grootstes ter wêreld.
In geografiese opsig word die vlaktes in drie hoofstreke verdeel – die vrugbare sentrale vlaktes – wat tot die belangrikste landbougebied van die VSA ontwikkel het – met die Mississippivallei, die gebied van die Groot Mere en die Groot Vlaktes, 'n boomlose plato van uitgestrekte grasvelde, wat geleidelik van die laer vlaktes tot by die voorgebergtes van die Rotsgebergte verrys. In die randgebied van die Rotsgebergte bereik hierdie gebied reeds 'n hoogte van sowat 1 600 meter, en sy ekonomiese sentrum en hoofstad van die deelstaat Colorado, Denver, word weens sy ligging soms ook die Milehigh City genoem. Die Swart Berge of Black Hills in Suid-Dakota is die enigste hoër geleë gebied, wat midde-in die vlaktes verrys.
Die Binnelandse Hooglande lê wes van die Mississippi tussen die Binnelandse Vlaktes en die kusvlaktes van die Golf van Meksiko en bestaan uit die Ozark-plato in die noorde en die Ouachita-berge in die ooste.
Die Mississippi se dreineringsgebied strek oor sowat 3,3 miljoen vierkante kilometer, en met 'n lengte van meer as 4 000 kilometer behoort die rivier, wat deur die Indiane Missi Sepe of "Vader van die Waters" genoem is, tot die langstes ter wêreld. Die Missouririvier, wat in die Mississippi uitmond, bereik dieselfde lengte. Die Mississippi mond in 'n geweldige delta, wat jaarliks met meer as tagtig meter groei, en met talle syriviere, sogenaamde passes, in die Golf van Meksiko uit.
Die Westelike Bergreekse, die Intermontane Streek en die Groot Bekken
Die Rotsgebergte is 'n magtige bergreeks wes van die Groot Vlaktes, wat vanaf Kanada tot by die noordwestelike Verenigde State en verder tot by Nieu-Meksiko in die suide strek en met talle hoë bergspitse pronk, waarvan Mount Elbert op 4 399 meter (14 433 voet) die hoogste is. Die gebergte maak deel uit van die Sirkumpasifiese Berggordel, wat vanaf Asië oor die Aleoetiese Eilande dwarsdeur die weste van die Noord- en Suid-Amerikaanse vastelande tot by Antarktika loop. Die Noord-Amerikaanse waterskeiding loop langs die kruin van die Rotsgebergte; riviere oos van die bergreeks maak deel uit van die Mississippi-Missouri- en ander Atlantiese rivierstelsels, terwyl riviere wes van die Rotsgebergte in die Stille Oseaan uitmond.
Die Rotsgebergte word onderverdeel in die Noordelike Rotsgebergte (Northern Rockies), die Sentrale Rotsgebergte (Middle Rockies), die Wyoming-Bekken en die Suidelike Rotsgebergte (Southern Rockies).
Die Intermontane Streek, 'n droë gebied met platos, bekkens en kleiner bergreekse, lê tussen die Rotsgebergte en die westelike bergreekse. Die Columbia-plato in die noorde is deur vulkaniese lava gevorm, en die Columbiarivier, wat die gebied saam met sy takriviere dreineer, het diep canyons in die plato gesny. Die uitgestrekte Colorado-plato, wat deur die Coloradorivier en sy takriviere gedreineer word, pronk met die beroemde Grand Canyon, wat deur die rivierwater in die sedimentêre gesteente gesny is en as een van die grootste natuurwonders ter wêreld beskou word.
Die gebied wes van die platos is feitlik 'n halfwoestyn en word deur bekkens en kleiner bergreekse gekenmerk. Hier lê ook die laagste punt van Noord-Amerika, die Death Valley ("Doodsvallei"), sowat 86 meter (282 voet) benede seevlak. Die Groot Bekken is die grootste van sy soort in die gebied, met die Humboldt as sy belangrikste rivier en 'n groot aantal soutmere, waaronder ook die Groot Soutmeer van die deelstaat Utah. Die riviere in hierdie bekken mond nie in die oseane uit nie, maar binnelands. Die Groot Soutmeer is net 'n oorblyfsel van 'n magtige soetwatermeer uit die Ystydperk.
Die Pasifiese Bergstelsel lê tussen die Intermontane Streek en die Stille Oseaan, met bergreekse, wat parallel met die kuslyn in noord-suidelike rigting loop en deur geologiese breuke en vulkanisme gevorm is. Die Kusgebergte met sy talle vulkaniese bergspitse strek van Suidwes-Kanada in suidelike rigting tot in Noord-Kalifornië, van waar die Sierra Nevada-bergreeks verder suidwaarts loop. Mount Whitney is die hoogste bergpiek in dié reeks met 4 418 meter (14 495 voet).
Die Pasifiese Kusgebiede
Wes van die Kusgebergte en die Sierra Nevada lê 'n laer bergreeks, wat langs die Pasifiese kuslyn loop, en 'n aantal valleie sos die Sentrale Vallei van Kalifornië, Oregon se Willamettevallei en die vlaktes van die Puget Sound in die deelstaat Washington. Die Pasifiese kusvlaktes beslaan net 'n smal strook, en in baie plekke strek die bergreekse regstreeks tot by die see. Daar is min eilande of baaie en ander natuurlike hawens soos San Franciscobaai, Puget Sound of San Diegobaai langs die kuslyn.
Alaska en Hawaii
Alaska word gewoonlik in vier fisiografiese streke verdeel: die Arktiese Vlaktes in die noorde, die kusvlaktes van die Arktiese Oseaan, die Rotsgebergte met die Brooks Range-bergreeks as sy mees noordelike gedeelte, die gebied van die Sentrale Bekkens en Hooglande met die Yukonrivierbekken en die Pasifiese Gebergte, wat langs die suidelike kuslyn loop en die hoogste bergspits van Noord-Amerika behels, Denali, wat 6 194 meter (20 320 voet) bo seevlak verrys.
Die eilande langs die suidooskus van Alaska en die Aleoete-argipel maak deel uit van die Pasifiese Gebergte, wat hier gedeeltelik in die Stille Oseaan versink het. Vulkaniese werking en aardbewings is tipiese kenmerke van hierdie eilandgroepe. Die eilande self is net soos die Hawaii-eilandketting die bergspitse van vulkane, wat vanaf die Pasifiese seebodem verrys. Die Hawaii-argipel se enigste aktiewe vulkane is Mauna Kea en Mauna Loa op die hoofeiland Hawaii.
Net soos byvoorbeeld Sentraal-Europa word groot dele van die Noord-Amerikaanse vasteland oorheers deur westelike winde en 'n opeenvolging van laagdrukgebiede (siklone), wat in die gebied van die Aleüte-eilandgroep ontstaan en afwissel met hoëdrukgebiede. Net soos ander gebiede in die gemiddelde breedtegrade, word ook die Verenigde State deur onbestendige weer en 'n opeenvolging van koue en warmfronte gekenmerk. Die siklone of koue fronte, wat gewoonlik in westelike rigting oor die vasteland beweeg, verskil van sy Europese eweknieë soms deur hulle tregtervormige werwels of tornados – atmosferiese versteurings, wat dikwels groot skade berokken.
'n Tweede belangrike verskil is die ligging van die grootste gebergtes. Terwyl die Europese Alpe in wes-oostelike rigting loop en die suide van Europa teen koue fronte uit die noorde beskerm, loop Noord-Amerika se grootste bergreekse, die Kusgebergte en die Rotsgebergte, in noord-suidelike rigting en verhinder dus dat vogtige en gematigde lugmassas vanuit die Stille Oseaan na die binneland kan beweeg. Die hooglande tussen die Sierra Nevada en die Rotsgebergte lê gevolglik net soos die Groot Vlaktes in die reënskadu van hierdie bergreekse. Hierdie besonderse reliëf verklaar ook die feit dat groot woestyngebiede soos die Mojave- en Gilawoestyn net enkele honderd kilometer van die kus af lê.
Die weskus van die VSA is 'n tipiese winterreënstreek, waarvan 'n klein gedelte in Kalifornië deur 'n Mediterreense klimaat gekenmerk word. Die koeler klimaatstreke van die noordelike deelstate Oregon en Washington is die natste in die land met 'n jaarlikse reën- en sneeuvalle van soms meer as 2 500 millimeter. Die Verenigde State bestaan dus rofweg uit 'n droë gedeelte in die weste en 'n humiede gedeelte in die ooste. Die oostelike landsdele het hulle vogtige klimaat aan die invloed van die Golf van Meksiko en die Atlantiese Oseaan te danke. Die suidelike deelstate is baie vogtig en het hulle swaar reënvalle op tussen sewentig en tagtig dae per jaar aan donderstorms en 'n aantal orkane in die najaar te danke. Die weer in die suide is dikwels baie warm en bedompig. Die hitte en verstikkende bedompigheid van die somermaande was 'n belangrike rede vir die gebruik van slawearbeid op die plantasies van die suide.
Die mees digbevolkte gebiede van die sogenaamde manufacturing belt, die groot historiese nywerheidsgebiede, lê in die vogtige en gematigde klimaatstreke tussen die Mississippirivier in die ooste en die Atlantiese Oseaan in die weste. Die oostelike gedeelte was oorspronklik 'n gebied van uitgestrekte bosse, terwyl die Groot Vlaktes, die hartland van Amerika, deur grasvelde gekenmerk word. Hierdie vlaktes maak reeds deel uit van die droër westelike gebiede, maar is feitlik 'n soort oorgangsgebied met periodes van hoër en laer reënvalle. Die eerste verkennings van die gebied teen die middel van die 19de eeu het gedurende 'n vogtige periode plaasgevind en die oortuiging laat posvat dat die vlaktes 'n uiters geskikte gebied vir akkerbou en veeteelt sou wees. Die eerste setlaars het later egter besef dat reënvalle in die vlaktes wisselvallig is en die gebied deur periodieke droogtes geteister word.
Die bergreekse van die weste kry baie reën en spog met uitgestrekte bosgebiede. Danksy besproeiing is daar 'n florerende landbousektor in 'n aantal valleie.
Die gebrek aan 'n soort kontinentale versperring in die vorm van 'n bergreeks, wat dwarsoor die vasteland in oos-westelike rigting loop, lei daartoe dat koue fronte uit die poolgebiede en warm fronte met tropiese lugmassas uit die suide ongehinderd oor die Groot Vlaktes kan beweeg. Vogtige, warm lugmassas bereik soms selfs die suide van Kanada en bevorder die groot aantal donderstorms en bedompige weer in die Amerikaanse Midweste. Weerstoestande verander skielik, en met die sogenaamde Northers beweeg uitgestrekte koue fronte soms na die uiterste suide, waar hulle byvoorbeeld sitrusplantasies in Florida bedreig. Florida en ander deelstate in die suide lê daarnaas in 'n gebied, wat dikwels deur orkane getref word.