Fancourt
gholflandgoed in George, Wes-Kaap, Suid-Afrika From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Fancourt is ‘n wêreldbekende hotel en gholflandgoed buite George aan die Tuinroete van Suid-Afrika.
Ligging
Die luukse landgoedhotel is by 33° 57′ 11″ suid, 22° 24′ 26″ oos in Montagustraat in Blanco. Dit is aan die voet van die Montagupas en die Outeniquapas oor die Outeniquaberge. Aan die westekant van die gholfbane is ‘n hopplaas en aan die oostekant die dorp Blanco. Die Modderrivier loop deur die terrein.
Gholf
Rondom die hotel is verskeie gholfbane op ‘n terrein van 613 ha uitgelê. Die kompleks is ontwikkel volgens die model van die spoggerige residensiële buiteklubs by Hilton Head Island, Palm Beach en Alaqua Lakes in die Verenigde State van Amerika. ‘n Kenmerk is die goed versorgde tuine met sy rooibeuke-, magnolia- en akkerbome.
Geskiedenis
Henry Fancourt White het die oorspronklike herehuis in 1859 laat oprig toe hy aan die bou van die Montagupas gewerk het. Die huis, destyds bekend as Blanco Huis, vorm tans die kern van die hotel en is tot monument verklaar. Na White se dood het dit verskeie eienaars gehad en het dit vir 25 jaar as Homewood bekend gestaan. In 1903 koop Montagu White die huis wat deur sy pa meer as 40 jaar tevore gebou is en herdoop dit tot Fancourt ter ere van sy vader. Na Montagu White se dood het dit lank leeg gestaan en het die plaaslike bevolking beweer dat dit daar spook. Daarna was daar weer ‘n reeks eienaars, waarvan die laastes die breinchirurg dr. R.A. Krynauw en die filmmaker André Pieterse en sy vrou Helena was. Die huidige eienaars is dr. Hasso Plattner en sy vrou Sabine.
Vroeë eienaars
- Henry Fancourt White (*Yorkshire, 1811 - †Blanco, 6 Oktober 1866), padbouer, padinspekteur, lid vir Port Elizabeth in die parlement van die Kaapkolonie en stigter van Blanco in 1849
- Montagu White (*Surbiton, Surrey, 28 Augustus 1857 - †Blanco, 13 April 1916), staatsamptenaar. Op die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog was hy die ZAR se konsul-generaal in Londen en tydens die oorlog die konsulêre verteenwoordiger van die ZAR in die VSA. Hy en twee vriende sterf toe hulle giftige sampioene eet.
Remove ads
Bronnelys
- van Hoven, Lynette: Plattelandse weelde – Fancourt. In: Suid-Afrikaanse Panorama. Jaargang 36, nr. 2, Maart/April 1991. ISSN 0491-4783
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads