Lin Biao
ʼn maarskalk van die Volksrepubliek China wat deurslaggewend was in die Kommunistiese Party se oorwinning in die Chinese Burgeroorlog, veral in die noordooste From Wikipedia, the free encyclopedia
Remove ads
Lin Biao (5 Desember 1907 – 13 September 1971) was ’n maarskalk van die Volksrepubliek China wat deurslaggewend was in die Kommunistiese Party se oorwinning in die Chinese Burgeroorlog, veral in die noordooste. Hy was die generaal in twee beslissende veldtogte, waarna hy die Volksbevrydingsleër tot in Beijing gelei het. Hy het die Yangtzerivier in 1949 oorgesteek, die Kuomintang beslissend verslaan en beheer oorgeneem van die kusprovinsies in Suidoos-China.
Remove ads
Ná die oorlog
Ná die oorlog was hy aanvanklik nie aktief by die politiek betrokke nie; van 1954 af was hy die leier van ’n deel van die regering se burgerlike burokrasie as een van die adjunk-onderpremiers van die volksrepubliek. Lin het meer aktief in die politiek betrokke geraak toe hy in 1958 een van die ondervoorsitters van die Kommunistiese Party word. Hy was van 1959 af tegelykertyd onderpremier, ondervoorsitter en minister van verdediging. Hy was instrumenteel in die lê van die grondslag vir Mao Zedong se persoonlikheidskultus in die vroeë 1960's, en hy is in 1969 beloon vir sy diens in die Kulturele Rewolusie deurdat Mao hom benoem het as sy opvolger;[1] hy is ook aangestel as enigste ondervoorsitter van die party.

Lin is op 13 September 1971 dood toe sy vliegtuig in Mongolië neerstort. Die presiese omstandighede van hierdie "Lin Biao-voorval" is steeds ietwat duister. Die regering se amptelike verduideliking was dat Lin en sy gesin na die Sowjetunie wou vlug ná ’n sameswering teen Mao. Sy seun, Lin Liguo, en ander militêre samesweerders met hoë range het ’n plan in Sjanghai opgestel om Mao met geweld te onttroon. Hulle het dit "Breë Trekke vir Projek 571" genoem (wat in Mandaryns baie klink soos "Militêre Opstand"). Daar word betwis of Lin Biao by die proses betrokke was. Geleerdes soos Jin Qiu beeld Lin uit as ’n passiewe karakter wat deur lede van sy familie en sy ondersteuners gemanipuleer is.[2]
Die amptelike verslag word in twyfel getrek deur buitelandse geleerdes, wat vrae opper oor die Sowjetunie as Lin se keuse van bestemming, die vliegtuig se roete, die identiteit van die passasiers en of ’n staatsgreep werklik beplan is.[2]
Die Kommunistiese Party se sentrale komitee het inligting oor die gebeure weerhou, en die nuus van Lin se dood is eers twee maande ná die ongeluk bekend gemaak.[2] Ná sy dood is hy amptelik deur die party as ’n verraaier veroordeel. Sedert die laat 1970's word hy en die Bende van Vier bestempel as die grootste twee "teenrewolusionêre magte" van die Kulturele Rewolusie. Die regering het hulle amptelik blameer vir die chaos van dié tyd.
Remove ads
Verwysings
Eksterne skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Remove ads
