Penisverlenging
From Wikipedia, the free encyclopedia
Penisverlenging of penisvergroting is enige tegniek wat ten doel het om die menslike penis te vergroot. Sommige metodes verleng die penis, ander maak die penisskag dikker en nog ander vergroot die eikel (glans of kop). Tegnieke sluit in chirurgie, aanvullings, olies en plakkers, asook fisieke metodes soos pomp, "melk" en strek.
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |

Chirurgiese penisverlengingsmetodes kan doeltreffend wees, maar daar is 'n risiko van komplikasies en dit word nie medies aanbeveel nie tensy die penis van mikrogrootte is. Min wetenskaplike navorsing is oor nie-ingrypende metodes gedoen, en by die meeste is daar 'n gebrek aan bewyse van doeltreffendheid. Daar is egter beperkte wetenskaplike bewyse dat 'n mate van verlenging teweeggebring kan word deur lang strekkings.[1] Sommige kwaksalwersprodukte verbeter die ereksie, wat verbruikers met penisvergroting kan verwar.
Chirurgiese metodes

Daar is verskeie chirurgiese maniere om die penis te vergoot, maar die meeste kan aansienlike komplikasies oplewer.[2] Dit geld veral wanneer ongelisensieerde dokters dit uitvoer.[3]
Chirurgiese metodes sluit in die inspuiting van vetselle in die penis of die oorplanting van vetselle op die penis. Eersgenoemde kan lei tot swelling en misvorming; soms is die verwydering van die penis noodsaaklik. Laasgenoemde kan doeltreffend wees, maar die toename in grootte kan mettertyd verdwyn. Draagverbande kan die sagte penis vergroot, maar nie die stywe penis nie,[4] en kan probleme skep met seksuele funksie.[5]
Ander middels kan ook in die penis ingespuit word.[6][7] Weens die groot risiko en onsekerheid daaraan verbonde, is professionele medici gewoonlik skepties oor penisvergroting en probeer hulle dit vermy.[8][9] In 2019 is in 'n studie in Sexual Medicine Reviews bevind chirurgiese metodes is gewoonlik ondoeltreffend en kan die fisieke én geestelike gesondheid skade berokken.[10]
Mediese dokters behandel mikropenisse wel met chirurgie.[5] In sulke gevalle kan chirurgie urinerings- en seksuele funksies verbeter.[11]
Aanvullings
Pille, plakkers en olies om die penis te vergroot word aanlyn verkoop. Sulke produkte word gewoonlik as ondoeltreffend beskou.[12]
Fisieke tegnieke
Fisieke tegnieke behels verlengingstoestelle, gewigte en vakuumdruk. Daar is ook 'n aansienlike oorvleueling tussen tegnieke om die penis te vergroot en tegnieke vir ander, verwante doeleindes, soos die omkeer van impotensie, die verlenging van ereksies en die verhoging van sekuele klimaks.
Penispompe

'n Vakuum-ereksietoestel, algemeen bekend as 'n "penispomp", skep 'n negatiewe druk wat bloed in die penis intrek en dit laat vergroot.[13][14] Mediesgoedgekeurde pompe, waarmee erektiele disfunksie behandel kan word, beperk die maksimumdruk, terwyl pompe wat deur mense gebruik word om die penis te vergroot, 'n gevaarlike druk kan bereik wat penisweefsel kan beskadig.[15]
Om swelling te behou nadat die toestel se lugdigte seël gebreek is, moet 'n mens die basis van die penis toedruk, maar ná 30 minute kan dit die penis permanent beskadig en erektiele disfunksie veroorsaak.[16] Penispompe is nie in kliniese toetse doeltreffend bevind vir penisvergroting nie.[17][18]
Melking
Melking (Engels: jelqing, milking) word op 'n halfstywe penis toegepas. Dit is die gelyktydige druk en streling van die penisskag met die hand, van die basis tot die eikel. Ondanks baie vertellings van sukses, betaan daar geen mediese bewyse daarvoor nie.[19] Joernaliste het dié metode as biologies onwaarskynlik beskryf,[20] of selfs onmoontlik, hoewel dit nie sommer die penis kan beskadig nie.[21] Tog kan melking, as dit baie woes gedoen word, skeure, letsels, disfigurasie en ongevoeligheid veroorsaak.[19][20]
Strekking

Strekking of traksie (Engels: traction) is die gebruik van 'n toestel wat vir lang rukke aan die eikel van die penis trek. Teen 2013 is die meeste navorsing gedoen oor die gebruik daarvan om die kromming en krimping van die penis weens Peyronie se siekte teen te werk, hoewel daar ook geskrifte is oor die uitwerking op mans met kort penisse.[22]
Daar is wetenskaplike bewyse dat die lengte van die penis ietwat vergroot kan word deur lang strekkings.[1] Daar is ook bewyse dat die verlenging onbeduidend kan wees.[23]
Verwysings
Skakels
Wikiwand - on
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.