Vir die verkenning van Halley se Komeet is ’n laat verandering in die Wenera-ruimteprogram aangebring nadat die VSA se Halley-sending in 1981 gekanselleer is. ’n Latere Wenera-sending is gekanselleer en die Venus-deel van die Wega 1-sending ingekort. Die tuig is die Wega genoem, ’n samestelling van die Russiese woorde Венера (Wenera) en Галлей (Gallei) vir "Venus" en "Halley" onderskeidelik. Die ontwerp van die tuig was gebaseer op dié van die vorige Wenera 9 en 10.
Wega 1 het op 11 Junie 1985 en Wega 2 op 15 Junie 1985 by Venus gearriveer en elk ’n landingseenheid van 1500kg vrygelaat. Die eenhede het elk ’n landingstuig en ballonverkenner gehad.
Die landingstuie was identies aan die vyf vorige Wenera-tuie s’n en moes die atmosfeer en oppervlak verken. Die werking van die Wega 1 se tuig is belemmer deur ’n sterk rukwind 20km van die oppervlak af en het geen sukses gehad nie. Die Wega 2 se tuig het op 15 Junie 1985 geland en 56 minute lank data na die aarde gestuur.
Ballonne
Die twee ballonne was ontwerp om 54km bo die oppervlak te sweef – in die aktiefste laag van die planeet se wolkestelsel. Die instrumente het 46 uur lank temperatuur, druk, windsnelheid en digtheid gemeet.
Remove ads
Die Halley-sending
Nadat hulle die landingseenhede vrygestel het, het Venus se swaartekrag die Wega-moederskepe in die rigting van Halley se Komeet gestuur.
Wega 1 het op 6 Maart die naaste aan die komeet gekom (sowat 8890km van die kern) en Wega 2 op 9 Maart (sowat 8030km). Die komeet is net verken in die drie uur waarin die tuie die naaste daaraan was. Hulle moes die fisieke kenmerke van die kern, soos die grootte, vorm en temperatuur, en die struktuur en dinamiek van die newelkring (die gas naaste aan die kern) meet. Hulle het saam sowat 1500 beelde van die komeet na die aarde gestuur. Die data is deur ’n internasionale span wetenskaplikes bestudeer.