Ionië is ’n antieke streek aan die sentrale kus van Anatolië in die hedendaagse Turkye: die streek die naaste aan Izmir, of die historiese Smyrna. Dit het bestaan uit die mees noordelike streke van die Ioniese Bond van Griekse nedersettings. Dit was nooit ’n verenigde staat nie en is genoem na die Ioniërs, wat hulle in die Argaïese tydperk hoofsaaklik aan die kus en op die eilande van die Egeïese See gevestig het.
Die Ioniese Opstand, en gepaardgaande opstande in Aeolis, Doris, Siprus en Karië, was militêre opstande deur verskillende kusstreke van Klein-Asië teen die Persiese bewind, wat geduur het van 499 v.C. tot 493 v.C.. Die kernoorsaak van die rebellie was die ontevredenheid van die Griekse stede van Klein-Asië met die tiranne wat deur Persië oor hulle aangestel is, benewens die individuele optrede van twee Milesiaanse tiranne, Histiaeus en Aristagoras.
Die Ioniese See is 'n gedeelte van die Middellandse See wat deur Italië begrens word aan die westekant, Griekeland aan die oostekant en Albanië na die noorde. Na die suide word dit verbind met die Middellandse See.