Die nasionale vlag van Suid-Afrika is op 20 April 1994 in die Staatskoerant afgekondig en op 27 April 1994 amptelik in gebruik geneem. Die vlag is reghoekig en het ’n ewe groot rooi (bo) en blou (onder) horisontale band, wat deur ’n middelste groen band geskei word. Die groen band vertak in ’n horisontale Y-vorm, waarvan die twee bene in die hoeke aan die vlagpaal se kant eindig. Binne-in die twee groen bene is ’n swart driehoek, wat met goue strepe geskei word. Die rooi en blou band word deur wit strepe van die groen band geskei. Die bane aan die wapperkant het ’n verhouding van 5:1:3:1:5.
Die vlag van Suid-Afrika tussen 1928 en 1994 is oorspronklik deur die Unie van Suid-Afrika (1928–1961) en later deur die Republiek van Suid-Afrika gebruik. Dit is tot in 1990 ook in Suidwes-Afrika gebruik, aangesien dié gebied onder Suid-Afrikaanse gesag was. Die vlag is op die Prinsevlag gebaseer en vertoon die vlag van die Verenigde Koninkryk, die vlag van die Oranje-Vrystaat en die vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek in ’n kleiner middelblok vertoon. Die vlag se bynaam is die Oranje, Blanje, Blou.