Yskor, of die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie Beperk, is in 1928 deur Hendrik van der Bijl begin as 'n staatsorganisasie ingevolge die Yster- en Staalwet, Nr. 11 van 1928, met sy eerste werke in Pretoria. Dit is gestig as 'n statutêre parastatale organisasie met die doelstelling om yster en 'n reeks staalprodukte te vervaardig en werksgeleenthede te skep vir gemeenskappe wat naby sy bedrywighede is. Die eerste staal is op 4 April 1934 by die Pretoriawerke vervaardig. Die wêreld se behoefte aan staal en die plaaslike vervaardiging van talle benodigdhede het 'n skerp toename in die vraag na staal tot gevolg gehad wat die uitbreiding van die onderneming genoodsaak het.