Bloemfontein
Die hoofstad van die Vrystaat, Suid-Afrika From Wikipedia, the free encyclopedia
Die hoofstad van die Vrystaat, Suid-Afrika From Wikipedia, the free encyclopedia
Bloemfontein is die hoofstad van die Suid-Afrikaanse provinsie Vrystaat en die land se sesde grootste stad. Dit is ook sedert 1910 Suid-Afrika se regterlike hoofstad (een van die land se drie hoofstede).[4] Suid-Afrika se hoogste hof, die Konstitusionele Hof, is egter sedert 1994 in Johannesburg gesetel.[5][6][7] Bloemfontein staan informeel as Bloem bekend en word in Suid-Sotho Mangaung ("plek van die jagluiperde") genoem en deur die Griekwas ǀʼAuxa ǃXās.[8] Die stad beslaan 'n oppervlakte van 236 vierkante kilometer en het 'n bevolking van sowat 528 000.[3] Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, waarvan dit deel is, het 'n bevolking van 747 431.[9] Bloemfontein lê op 'n hoogte van 1 395 m bo seevlak. Sedert 2023 dien Gregory Nthatisi van die African National Congress (ANC) as uitvoerende burgemeester van Bloemfontein en omstreke.[10]
Bloemfontein Mangaung (st) ǀʼAuxa ǃXās | |
---|---|
Stad | |
'n Uitsig oor Bloemfontein | |
Byname: Rosestad | |
Leuse(s): "Floreat" ("Laat dit blom") | |
Koördinate: 29°7′11″S 26°13′30″O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Vrystaat |
Munisipaliteit | Mangaung |
Stigting | 1846[1][2] |
Regering | |
• Burgemeester | Gregory Nthatisi (ANC) |
Oppervlak | |
• Stad | 236,17 km2 (91,19 vk. myl) |
• Metro | 6 283,99 km2 (2 426,26 vk. myl) |
Hoogte | 1 395 m (4 577 ft) |
Bevolking (2021) | |
• Stad | 528 000[3] |
• Skatting (2011) | 256 185 |
• Metro | 747 431 |
• Metrodigtheid | 120/km2 (300/vk. myl) |
Demoniem(e) | Bloemfonteiners |
Rasverdeling (2021) | |
• Wit mense | 29,8% |
• Indiërs/Asiërs | 0,8% |
• Bruin mense | 12,8% |
• Swart mense | 56,1% |
• Ander | 9,5% |
Taal (2021) | |
• Afrikaans | 42,5% |
• Suid-Sotho | 33,4% |
• Engels | 7,5% |
• Xhosa | 7,1% |
• Ander | 9,5% |
Poskode (strate) | 9300 |
Poskode (posbusse) | 9301 |
Skakelkode | 051 |
Webwerf | Mangaung-munisipaliteit |
Bloemfontein lê in die hart van die Vrystaat se sentrale plato en is een van die min stede met 'n wildtuin in sy sentrum, bo-op Naval Hill. Bloemfontein staan nog steeds vir sy blommeprag en die voormalige Rosefees bekend en het die bynaam Rosestad. Die stad is geleë in die middel van die land, waarvolgens dit ook "Sentraal-Suid-Afrika" genoem word.[11][12][13]
Die stad het sy oorsprong in 'n Britse fort en nedersetting wat in 1846 deur majoor Henry Douglas Warden in die destydse Transoranje-streek gevestig is. Dit het vervolgens as administratiewe setel van die Britse kolonie Oranjerivier-soewereiniteit (1848–1854) en die onafhanklike Boererepubliek Oranje-Vrystaat gedien wat in 1854 gestig is. Tussen Mei en Junie 1899 is die historiese Bloemfontein-konferensie hier gehou as 'n laaste vergeefse poging om 'n militêre konflik tussen die destydse Boererepublieke en die Britse Ryk te vermy. In die 20ste eeu het Bloemfontein tot die geografiese spilpunt van Suid-Afrika se spoorwegnetwerk ontwikkel. Sowat 160 km noordoos van Bloemfontein het 'n groot ekonomiese opswaai vanaf 1948 met die ontginning van die Vrystaatse Goudveld begin. Later, vanaf 1962, het die gebied sentraal gestaan in die verwesenliking van die Oranjerivierprojek met sy waterkragsentrales en besproeiingskemas.
Vandag is Bloemfontein 'n moderne stad met wolkekrabbers, winkelsentrums en restaurante; en die Sand du Plessis-teater as een van sy kenmerkendste argitektoniese besienswaardighede. Tegelykertyd het Bloemfontein sy kulturele erfenis bewaar en die stad spog met pragtige historiese geboue soos die Raadsaal, een van die mooistes in Suid-Afrika. In die stad is die Hoogste Hof van Appèl, Franklin-wildreservaat, Naval Hill, Maselspoort-ontspanningsoord en die Sand du Plessis-teaterkompleks geleë. Die stad beskik ook oor 'n aantal museums, waaronder die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, die Nasionale Vrouemonument, die Anglo-Boereoorlogmuseum, die Nasionale Museum en die Oliewenhuis Kunsmuseum. Bloemfontein spog ook met die eerste digitale planetarium in die Suidelike Halfrond, die Naval Hill-planetarium, en die Boyden-observatorium, 'n sterrekundige navorsingssterrewag.
Daar is onsekerheid oor die oorsprong van die stad se naam. Daar word aangeneem dit kom van die Nederlandse woorde bloem en fontein, dus "fontein van blomme".
Een van die gewilde koloniale legendes lui 'n os met die naam Bloem het behoort aan Rudolphus Martinus Brits, een van die eerste boere, wat naby 'n fontein op sy plaas deur 'n leeu gevang is.
'n Waarskynliker verhaal is dié oor Jan Bloem II (1775–1858), 'n Griekwa-leier wat hom daar gevestig het.[14][15] Sy vader was Jan Bloem, 'n vlugteling van die Kaapkolonie, waar hy na bewering gesoek is in verband met die moord op sy eerste vrou. Bloem was bekend as 'n goeie skut en het 'n rol gespeel in die opleiding van Griekwavegters tydens die Griekwaoorloë in die 18de eeu. Sy seun het later die leier van die streek geword.
Die Suid-Sotho-naam Mangaung beteken "die plek waar die jagluiperds dwaal". Die Griekwa-naam, ǀʼAuxa ǃXās, verwys na Jan Bloem II.
Daar word dikwels na die stad verwys as die "Rosestad" danksy die verskeidenheid rose wat goed in die klimaat aard en jaarliks van die lente tot diep in die herfs 'n blommeprag oplewer.
Die Bloemfonteingebied is oorspronklik deur San, Griekwas en Basotho bewoon voordat die eerste Voortrekkers hulle in die 1830's hier gevestig het. Een van die eerste Afrikaners, wat omstreeks 1840 'n plaas in die streek bewoon het, was Johannes Nicolaas Brits (* 1790). Volgens oorlewering het Brits sy plaas na aanleiding van 'n fontein met blomme "Bloemfontein" genoem.
Alhoewel Bloemfontein later merendeels deur Afrikaners bewoon is, is die nedersetting in 1846 deur 'n Britse Leër-majoor, Henry Douglas Warden, as 'n Britse fort en buitepos in die Transoranje-streek gestig – 'n gebied met voldoende watervoorrade wat destyds deur !Orana (sogenoemde "Korana" van die ǀHõaǁʼaes, ǀHũdiǁʼaes, Einiǁʼaes en ander), Kaapkolonietrekboere, Griekwas (destyds "Basters" genoem), Basotho en Rolong bewoon is. Warden het die plek hoofsaaklik gekies weens die nabyheid tot die hoofroete na Winburg, die uitgestrekte oop terrein en die feit dat dit destyds vry van perdesiekte was. Brits het sy plaas vervolgens vir £37 10s aan majoor Warden verkoop.[16]
Die gebied rondom Bloemfontein is op 3 Februarie 1848 amptelik deur die Britse regering geannekseer en het vervolgens as die Oranjerivier-soewereiniteit (1848–1854) bekendgestaan, met Bloemfontein as administratiewe setel. Die dorp is in 1850 die eerste keer as 'n woongebied verklaar, vier jaar voor die stigting van die Oranje-Vrystaat (1854–1902) waarvan Bloemfontein die regeringsetel geword het. Die dorpsgebied is deur Andrew Hudson Bain opgemeet. Sy reghoekige uitleg het voorsiening gemaak vir lang strate wat parallel met die plaaslike rivier in noord-suidelike rigting geloop het en kort strate. Die nedersetting het geleidelik na terreine noord van die rivier uitgebrei. In 1851 het die bevolking op sowat 300 te staan gekom en daar was sowat sestig woonhuise.
Die Eerste Raadsaal is in 1849 in St Georgesstraat gebou waar dit aanvanklik as skoolgebou en vergadersaal gedien het, maar ook vir kerkdienste gebruik is. Die eerste Nederduitse Gereformeerde gemeente is reeds in 1848 gestig en kon in Mei 1852 hul nuwe kerkgebou, die bekende tweetoringkerk, in Kerkstraat inwy. In dié tyd het ook die eerste Rooms-Katolieke, Anglikaanse en Metodistegemeentes in Bloemfontein ontstaan wat hul kerkdienste almal in die Eerste Raadsaal gehou het. Die Metodiste-predikant, wat in 1850 in Bloemfontein aangekom het, het ook kerkdienste vir die bruin en swart bevolking gehou, al moes hulle hiervoor in 'n meer beskeie gebou, 'n eenvoudige hut, vergader. Die eerste Rooms-Katolieke kerkgebou is in 1852 naby die regeringskantore in St Georgesstraat opgerig. Die eerste dagblad, The Friend of the Sovereignty and Bloemfontein Gazette, het op 10 Junie 1850 verskyn. "Die Volksblad", later Volksblad, uit die Media24-stal was die laaste oorblywende dagblad wat in Bloemfontein vervaardig en na die hele Vrystaat en Noord-Kaap versprei is. Dit is tans slegs aanlyn beskikbaar.
Terwyl die nedersetting aanhou groei het, is ook steeds meer besighede in Bloemfontein gevestig. In Junie 1850 is die eerste munisipale amptenaar benoem. Nogtans het die dorp in dié tyd nog geen volle munisipale status gehad nie en was die infrastruktuur maar gebrekkig. 'n Beperkte posdiens tussen Bloemfontein en Colesberg is reeds in 1846 deur majoor Warden gevestig, en kort daarna het ander posroetes gevolg.
Die eerste amptelike poskantoor is in 1875 in die Ou Parlementsgebou op Markplein ingerig. Toe dit te klein geraak het, is dit deur 'n groter gebou op dieselfde plek vervang. Die gebou troon steeds sedert sy opening op 22 Junie 1892 oor Hoffmanplein in die sentrale stad.
Die vervoer van goedere was 'n ander belangrike vraagstuk. Bloemfontein was in die 1850's nog 'n taamlik afgeleë nedersetting in Suid-Afrika. Aanvanklik kon boumateriale, klere, huishoudelike goedere en meubels slegs in beperkte hoeveelhede met ossewaens vanuit Port Elizabeth en Oos-Londen se seehawens na Bloemfontein vervoer word. Goedere wat nie plaaslik vervaardig kon word nie, was gevolglik skaars en duur.
Die Britse bewind was in die beginjare allesbehalwe gevestig en verhoudinge tussen die verskillende bevolkingsgroepe gespanne. So is majoor Warden ontslaan en op 23 Julie 1852 deur Henry Green vervang.
Nòg die Britse Koloniale Kantoor te Londen nòg die meerderheid Nederlandssprekende bewoners van die Oranjerivier-soewereiniteit was werklik tevrede met die politieke situasie in die kolonie, en so het die Britte besluit om hulle aan die gebied te onttrek. Op 30 Januarie 1854 is die Republiek van die Oranje-Vrystaat gestig en Bloemfontein tot sy hoofstad verklaar. Die Boererepubliek Oranje-Vrystaat se gebied het gestrek tussen die Oranje- en Vaalriviere en sy grense is in 1848 bepaal deur die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland, toe die Oranjerivier-soewereiniteit gestig is met 'n Britse resident in Bloemfontein.
As die hoofstad van die Oranje-Vrystaat het die groei en vestiging van die republiek ook Bloemfontein se ontwikkeling aangewakker. Die stad het talle openbare geboue opgerig wat tot vandag toe gebruik word, vergemaklik deur die republiek se bestuur en vergoeding deur die Britte vir die verlies van die diamantryke Griekwaland-gebied.[17] Die ou Oranje-Vrystaat-presidentswoning, die Ou Presidensie, is vandag 'n museum en kultuurruimte in die stad.
Nuwe administratiewe strukture is in 1859 in die dorp gevestig en in 1880 het Bloemfontein munisipale status verwerf. Robert Innes is as die eerste burgemeester verkies, terwyl die destydse bevolking op 2 567 beraam is. Bloemfonteiners kon ekonomiese voordeel trek uit die opening van die Kimberley-diamantveld in die 1860's as verblyfplek vir delwers uit ander landsdele op hul pad na die Noord-Kaap. Die verskaffing van dienste aan diamantdelwers was die eerste stap in Bloemfontein se 19de-eeuse ekonomiese groeifase.
Later het 'n aantal finansiële en handelsondernemings hulle hoofkwartiere hier gevestig. Bloemfontein het daarna tot 'n belangrike vervoerspilpunt ontwikkel, veral nadat die spoorwegverbinding tussen Kaapstad en Johannesburg, wat destyds in aanbou was, in 1890 tot by Bloemfontein gevorder het. Die spoorlyn het die stad van 'n sentraal geleë spoorwegstasie voorsien en dit was vir die Britte van kritieke belang in die latere besetting van die stad.
Die skrywer J.R.R. Tolkien is op 3 Januarie 1892 in Bloemfontein gebore. Sy familie het die Oranje-Vrystaat egter verlaat nadat sy vader, Arthur Tolkien, oorlede is toe Tolkien drie jaar oud was (in 1895).[18] Hy het aangeteken dat sy vroegste herinneringe aan "'n warm land" was.[19]
In 1899 is die Bloemfontein-konferensie gehou wat gepoog het om die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog te vermy. Deel van die onderhandelinge was die ontmoeting tussen die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), Paul Kruger, en Sir Alfred Milner. Dié twee staatsmanne is deur die staatshoof van die Oranje-Vrystaat, president Steyn, na Bloemfontein genooi om die dreigende militêre konflik tussen die ZAR en die Britse Ryk af te weer. Dit het egter misluk en oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek.
Op 13 Maart 1900, ná die Slag van Paardeberg, het Britse magte die stad oorgeneem en 'n konsentrasiekamp naby gebou om Boerevroue en -kinders aan te hou. In 1913 is die Nasionale Vrouemonument opgerig aan die buitewyke van die stad ter herdenking van al die Boereburgerlikes wat tydens die oorlog in die konsentrasiekampe gesterf het.[20][21] Die heuwel in die stad is Naval Hill genoem na die vlootkanonne wat die Britte ingebring het om die posisie teen aanvalle te versterk.[22]
Op 31 Mei 1910, presies agt jaar nadat die Boere die Verdrag van Vereeniging onderteken het om die Anglo-Boereoorlog tussen die Britse Ryk en die twee Boererepublieke (die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat) te beëindig, is die Unie van Suid-Afrika gestig.[23] Weens onenigheid oor die ligging van die unie se hoofstad is 'n kompromie bereik waarvolgens Bloemfontein die setel geword het van die Hoogste Hof van Appèl en dit het dus die unie se regterlike hoofstad geword.[24] Bloemfontein het ook 'n finansiële vergoeding ontvang.[25] Bloemfontein, wat in die sentrum van die nuutgestigte staat geleë was, het destyds nie oor 'n noemenswaardige nywerheidsbasis beskik nie, maar het nogtans danksy enkele belangrike onderwysinstellings 'n nasionale rol as opvoedkundige sentrum gespeel.
Op 8 Januarie 1912 het swart afgevaardigdes van dwarsoor Suid-Afrika in Bloemfontein vergader om die voorloperorganisasie van die African National Congress (ANC), die Native National Congress (NNC), in die lewe te roep. Die Unie van Suid-Afrika het nie burgerregte aan swart Suid-Afrikaners toegestaan nie, wat aanleiding gegee het tot die organisasie se stigting. Sy hoofdoel was om te veg vir gelyke regte van swart Suid-Afrikaners.[26] Tydens die implementering van die paswette het die stad groot betogings gesien wat Suid-Afrikaanse owerhede gedwing het om vroue vir byna vier dekades van dié wette vry te stel.[27] Die afkondiging van die Naturelle-grondwet – die eerste in 'n reeks vroeë apartheidswette wat grondbesit deur swart Suid-Afrikaners beperk het – in die wit Suid-Afrikaanse parlement is daardeur verhinder.
Ná Barry Hertzog se uittrede uit die Suid-Afrikaanse Party in 1913 het hy van 1 tot 9 Januarie 1914 met sy ondersteuners in Bloemfontein vergader om die Nasionale Party te stig en dié party se beginsels neer te lê.[28] Die Nasionale Party het gegroei en in 1948 die Suid-Afrikaanse regering oorgeneem en die beleid van rasseskeiding geïmplementeer, bekend as apartheid.
In 1945 het Bloemfontein stadstatus verwerf en op 18 Maart 1950 is die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in die stad gevestig.
Die segregasie van woonbuurte in Bloemfontein het in die 19de eeu reeds begin met die aanvaarding van Ordinansie 1 van 1860. Daarvolgens mag geen "nieblanke" sonder geskrewe toestemming van die eienaar (Britse regering) bly op grond in dorpe waar plaaslike munisipaliteite nog nie bestaan het nie. Op 3 Junie 1861 het die raad die volgende drie terreine in Bloemfontein aangewys: Die swart bevolking moes na die gebied regs van die buurt bekend as Kaffirfontein trek, bruin mense na die Waaihoek- swart buurt aan die oostelike buitewyke van die stad. Die inwoners van dié gebiede moes "hutbelasting" betaal, sowel as belasting op weiregte.[29] Dit het die fondament gelê vir die toepassing van woonbuurtsegregasie soos gevisualiseer deur die argitekte van apartheid, wat in 1948 in werking getree het.
Toe die Nasionale Party die algemene verkiesing van 1948 gewen het, het hulle die apartheidsbeleid begin implementeer. Dié beleid was gebaseer op afsonderlike ontwikkeling vir etniese groepe en rasseskeiding is afgedwing. Toe die regering die Groepsgebiedewet van 1950 uitvaardig, het die Bloemfonteinse munisipaliteit veranderings in werking gestel in die rasse-opset van die stad. Die munisipaliteit het die Cape Stands-woongebied afgebreek waar die stad se bruin bevolking gewoon het en het die inwoners na Heidedal geskuif. Omdat bruin en swart so naby aan mekaar gewoon het, het gemengde huwelike algemeen voorgekom, en dit het gelei tot 'n gedeeltelik gemengde bevolking in Heidedal en Mangaung. In 1952 het Bloemfontein nuwe woongebiede vir die swart bevolking begin bou. Nuwe woongebiede is gestig om 'n skeiding te tref tussen die rassegroepe, soos die Basoeto, Xhosas en Tswanas. Die gebiede was saam bekend as Mangaung.[29]
Phahameng, 'n Suid-Sotho-township, was in 1956 die eerste formele behuisingsprojek wat deur die munisipaliteit goedgekeur is. Fisieke buffers soos die spoorlyn en paaie tussenin is gebruik om die swart etniese groepe, die wit mense en die bruine mense van mekaar te skei. Tussen 1952 en 1968 is 11 000 huise, waarvan sowat 6 000 deur die regering geboude huurhuise, in Mangaung gebou.[30]
In 1968 het Mangaung 'n ernstige tekort aan huise gehad, met sowat 3 000 tot 6 000 eenhede wat benodig is. Om die probleem op te los is in 1979 'n uitbreiding, Botshabelo, van 55 km na oos bygevoeg. Die Bloemfonteinse munisipaliteit het alle swart verstedeliking na Thaba Nchu en Botshabelo gekanaliseer. Dié is ontwikkel as 'n bron van goedkoop arbeid vir die stad. 'n Gesubsidieerde busdiens is ingestel en Botshabelo is tot 'n desentralisasiepunt verklaar wat beteken dit is aangewys as 'n nywerheidsontwikkelingspunt om die afstand tussen die werkplek en die woonplek te verminder. In 1988 het sowat 14 500 mense elke dag tussen Botshabelo en Bloemfontein gependel. Dit het beteken dat 55% van Botshabelo se arbeidsmag buite die stad werksaam was.[31]
In 1994, ná apartheid, het Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu deel van die Motheo-distriksmunisipaliteit geword. Op 18 Mei 2011 is dié munisipaliteit ontbind en Mangaung is opgradeer tot 'n metropolitaanse munisipaliteit met Bloemfontein as hoofsetel. Tot in 1994 was die stad Suid-Afrika se alleenlike regterlike hoofstad. Dit bly die setel van die Hoogste Hof van Appèl (voorheen die Appèlafdeling van die Hooggeregshof). Die stad is ook 'n administratiewe sentrum met baie privaat hospitale en opvoedkundige instellings.
Die Vrystaatse Provinsiale Regeringsgebou in Bloemfontein huisves ook die setel van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit wat in 2011 van 'n plaaslike munisipaliteit opgegradeer is. Die Vierde Raadsaal huisves die Vrystaatse provinsiale wetgewer.[32] Sedert die stigting van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit in 2000 het die African National Congress elke verkiesing gewen en is die regeringsparty in die munisipaliteit, hoewel hul aantal stemme met elke verkiesing afgeneem het. Sedert 26 April 2023 dien Gregory Nthatisi as die uitvoerende burgemeester van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit en daarmee van Bloemfontein.
Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit verkies 'n munisipale raad vir 'n tydperk van vyf jaar deur middel van 'n gemengde-lede-proporsionele-verteenwoordiging-stelsel (MMP) waarin wyke individuele raadslede kies saam met diegene wat uit partylyste benoem word. Kiesers het twee stemme: een vir 'n verteenwoordiger om 'n wyksraadslid te word en die ander vir 'n politieke party. Laasgenoemde stem verdeel setels in die munisipale raad onder partye, terwyl eersgenoemde stem setels onder die individuele verteenwoordigers verdeel.
Bloemfontein is geleë by 29 grade suiderlengte en 26 grade oosterbreedte in Sentraal-Suid-Afrika aan die suidelike rand van die Hoëveld op 'n hoogte van 1 400 m bo seevlak. Dit grens aan die halfdorre streek van die Karoo. Die gebied is oor die algemeen plat met koppies hier en daar, en die algemene plantegroei is Hoëveldse grasland.
Bloemfontein het 'n koue halfdroë klimaat (Köppen BSk), met warm somerdae en koue, droë winters. Bloemfontein ontvang gemiddeld 559 mm reën per jaar, gewoonlik in die somermaande, dikwels as sterk, maar kortstondige middag-/aanddonderstorms wat 'n tydelike verligting van die hitte is. Die stad is droog en stowwerig in die winter met ysige nagte en meestal ligte, sonnige dae. Ryp is baie algemeen, terwyl sneeu skaars is. Sneeuval is in Augustus 2006 aangemeld en weer op 26 Julie 2007 by die lughawe. So onlangs as Augustus 2020 en Julie 2021 het baie ligte sneeu oor die stad geval met ietwat swaarder sneeuval op 4 Junie 2024. Boonop sorg die stad se hooglandhoogte vir buitengewone daaglikse temperature van ongeveer 15–20 °C. Gemiddelde dagtemperature wissel van 16 °C in Junie tot 32 °C in Januarie. Die omgewing is die koudste in Julie wanneer die kwik in die loop van 'n winternag gemiddeld tot -2 °C daal.
Weergegewens vir Bloemfontein (1991−2020) | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Hoogste maksimum (°C) | 39,3 | 38,9 | 34,7 | 33,3 | 29,5 | 24,5 | 26,5 | 28,6 | 33,6 | 34,8 | 36,6 | 37,7 | 39,3 |
Gemiddelde maksimum (°C) | 30,8 | 29,8 | 27,9 | 24,2 | 21,3 | 18,1 | 18,2 | 20,9 | 25,2 | 27,4 | 28,8 | 30,5 | 25,2 |
Gemiddelde temperatuur (°C) | 22,9 | 22,2 | 20,0 | 15,8 | 11,8 | 8,2 | 7,9 | 10,7 | 14,9 | 18,3 | 20,1 | 22,2 | 16,2 |
Gemiddelde minimum (°C) | 15,1 | 14,6 | 12,1 | 7,3 | 2,2 | −1,7 | −2,3 | 0,4 | 4,7 | 9,1 | 11,4 | 13,8 | 7,2 |
Laagste minimum (°C) | 5,6 | 4,3 | 0,8 | −2,6 | −8,7 | −9,1 | −9,6 | −9,7 | −6,7 | −2,9 | −0,1 | 3,3 | −9,7 |
Neerslag (mm) | 91,8 | 83,1 | 77,0 | 43,6 | 19,0 | 12,5 | 5,3 | 9,9 | 11,6 | 45,5 | 64,8 | 71,3 | 535,2 |
Sonskynure (u/d) | 9,6 | 8,8 | 8,3 | 8,3 | 8,6 | 8,3 | 8,8 | 9,2 | 9,3 | 9,4 | 9,9 | 10,3 | 9,1 |
Reëndae (d) | 8,9 | 7,8 | 7,2 | 5,2 | 2,4 | 1,4 | 0,7 | 1,3 | 1,6 | 4,6 | 5,8 | 7,5 | 54,4 |
Humiditeit (%) | 55 | 62 | 64 | 66 | 62 | 62 | 57 | 50 | 46 | 50 | 52 | 52 | 56,5 |
Bron: NOAA (humiditeit 1961–1990),[33][34] Suid-Afrikaanse Weerdiens (neerslag)[35] |
Kultureel is die stad toonaangewend. Skeppende werk op die gebied van uitvoerende kuns, beeldende kuns, letterkunde en skilderkuns word gedoen. Die stad is sentrum vir die Vrystaat Kunswedstrydvereniging.
Teaters: Sand du Plessis; Sterrewag; Wynand Mouton; Scaena; Odeion; André Huguenot; Stadskouburg. Die Sand du Plessis-teater is een van die grootste en mees moderne in die Suidelike Halfrond met 'n kapasiteit van ongeveer 1 000. Die teater huisves ook die Vrystaatse Simfonieorkes (VSSO).
Museums: Nasionale Museum; Suid-Afrikaanse Oorlogsmuseum (voor 30 November 2015 bekend as Oorlogsmuseum); Freshford; Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN); Oliewenhuis; Nasionale Vrouemonument.
Bloemfontein, die Rosestad, het jaarliks in Oktober 'n Rosefees gehou. In hierdie koel maand blom rose in die Vrystaat op hulle beste.[36] Die meeste bedrywighede het by die Loch Logan-waterfront in die stad plaasgevind.[37][38] Die fees het roosliefhebbers van die hele Suid-Afrika en wêreldwyd met 'n groot tentoonstelling van rose en ander plaaslike gebeure gelok.[39] Die fees het van Bloemfontein 'n gewilde jaarlikse bymekaarkomplek vir duisende mense gemaak.[40]
Die eerste Rosefees het in 1976 plaasgevind, toe stadraadslede besluit het 'n Rosefees sal geskik wees vir die Rosestad. In 1976 het die feesgebeure oor 'n paar dae plaasgevind en bedrywighede in die Sanlam-plaza ingesluit wat met rose verband hou. Die fees het daarna aansienlik uitgebrei.[38] Tuinmakers is genooi om deel te neem aan kompetisies wat gefokus het op die ontwerp en verbetering van tuine in die stad. Inwoners het ook hulle tuine vir die algemene publiek oopgestel.[40]
Die meeste festiwiteite het plaasgevind by die Loch Logan-waterfront, die grootste winkelsentrum in Sentraal-Suid-Afrika. Dit strek oor sowat 80 000 m² en bied inkopies, vermaak, sport en kultuur in Bloemfontein.[41] Die waterfront het blomme vertoon van plaaslike kwekerye asook die amptelike munisipale vertoning deur die parkdepartment wat die Mangaung Munisipaliteit georganiseer.[39][40] Die Vrystaatse Roosvereniging se roossnykompetisie met sowat 700 deelnemers jaarliks is ook by die waterfront beslis, saam met die Mej. Volksblad Roosknoppie-kompetisie vir meisies tussen drie en vier jaar oud, georganiseer in samewerking met die Volksblad-koerant.[36] Verder is 'n Mej. Bloemfontein Roos-kompetisie gehou.
Die Roosoggend Hoogtee is gewoonlik aangebied by die Urth-tuinsentrum waar tee en lekkernye bedien is. Die Urth-tuinsentrum is 'n klein- en groothandel kwekery geleë by Kenneth Kaunda-straat in Bloemfontein.[42] Die kroning van die koning en koningin van die rose het in die jaar van die benoeming plaasgevind.[43]
Die Mangaung Rose Klassieke Fietstoer was 'n padwedren wat tydens die jaarlikse fees beslis is. Dié geleentheid is organiseer deur AfriCycle Tours en die datums is jaarliks aangekondig. Die wedren het weggespring by die Urth en die wedrenafstande in 22 km, 56 km en 106 km ingesluit.[44][45]
Die Kom ons Groen Bloem-uitstalling was ook deel van die Rosefees en het "groen" en plaaslike organiese besighede die geleentheid gebied om hul besighede te bevorder.[46] Dit het die tentoonstelling van verskillende produkte en dienste ingesluit wat 'n groen omgewing ondersteun, soos sonkrag, gryswaterstelsels, groentetonnels, JoJo-tenkstelsels, ens.[47]
Volgens die 2011-sensus het die stad 'n bevolking van 556 000 gehad (meer as 'n verdubbeling sedert 111 697 in 2001), van wie 56% swart mense en 30% wit mense was. Die res was 12,8% bruin mense en 0,8% Asiate.
Afrikaans is die belangrikste huistaal in die stad wat deur 43 persent van sy bewoners gebesig word. Die ander groot huistaal is Suid-Sotho (33 persent).
Soos orals in Suid-Afrika bevat Bloemfontein townships van die apartheidsera. Manguang is die elfde en Botshabelo die 13de grootste in Suid-Afrika en die grootstes in die Vrystaat.[48]
Joodse families het ’n belangrike rol in die totstandkoming en ontwikkeling van die Vrystaatse hoofstad gespeel. Isaac Baumann van Hesse-Cassel (1813–1881), een van die eerste nedersetters wat in 1848 grond in die nuwe dorpsgebied gekoop het, het die eerste winkel opgerig. Die vroegste Groot Versoendag- (Jom Kippoer) dienste is in 1871 in sy huis gehou. In 1873 is huwelike ingevolge Joodse gebruike in die Oranje-Vrystaat gewettig. ’n Hebreeuse gemeente is in 1876 gestig en ’n sinagoge in 1903 opgerig. Die eerste president (1902–’24) daarvan was Wolf Ehrlich. Namate die Oos-Europese element toegeneem het, het die gemeenskapsleierskap geleidelik na hulle toe oorgegaan. Hierin het Jacob Philips en Henry Bradlow ’n belangrike rol gespeel.
Jode het ’n aktiewe aandeel aan munisipale aangeleenthede gehad. Baumann was die tweede voorsitter van Bloemfontein se munisipale raad, die voorloper van die dorpsraad. Sy seun Gustav was die eerste landmeter-generaal van die Oranje-Vrystaat. Moritz Leviseur, wat deelgeneem het aan die Basoeto-oorlog (1865–’66), het die dorp se eerste hospitaal help stig en ook die Nasionale Museum. Sy vrou, Sophie, het Ouma Looks Back geskryf, herinnerings aan die vroeë dae, en het bekend geword as die “Grand Old Lady of Bloemfontein”.
Wolf Ehrlich, ’n vriend van die Boeregeneraal en latere eerste minister J.B.M. Hertzog, het as senator in die Suid-Afrikaanse parlement gedien. Bloemfontein het drie Joodse burgemeesters gehad: Ehrlich (1906–’07 en 1911–’12), Ivan Haarburger (1912–’14) en Sol Harris (1929).
Die gemeenskap het ’n goed ontwikkelde netwerk instellings gehad, waaronder ’n doelmatige gemeenskapsentrum vir kultuur- en opvoedingsaktiwiteite. In 1965 is ’n groot nuwe sinagoge gebou. In 1956 het die Hebreeuse gemeente, Chevra Kaddisha, talmoed tora, en liefdadigheidsinstellings saamgespan om die Verenigde Hebreeuse Instellings van Bloemfontein te vorm.
Daar was ook onder meer ’n OVS- provinsiale komitee van de Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes en die OVS- en Noord-Kaapse Sionistiese Raad. Ook het die stad ’n klein Hervormde groep gehad. In 1967 het die Joodse gemeente 1 347 getel uit ’n totale bevolking van 119 000. Daarna het die gemeenskap, soos almal landwyd buiten in Johannesburg, Kaapstad en Durban, geleidelik gekwyn. In 1997 is die sinagoge verkoop en het die gemeenskap oorgetrek na die nou ontbinde Hervormde gemeente se tuiste. Teen 2004 het net 180 Jode in Bloemfontein oorgebly.[51]
Bloemfontein se woonbuurte sluit in Heidedal in die ooste en suidooste, Bainsvlei, Woodland Hills, Brandwag, Ehrlichpark, Fauna, Fichardtpark, Fleurdal, Gardeniapark, Generaal De Wet, Hospitaalpark, Kiepersol, Lourierpark, Park-Wes, Pellissier, Uitsig, Universitas, Westdene, Wilgehof en Willows in die suide. In die sentrum bevind hom Bloemfontein Sentraal.
Wes van Bloemfontein is daar Langenhovenpark en noord van die stad Arboretum, Baysvalley, Bayswater, Dan Pienaar, Heliconhoogte, Heuwelsig, Hillsboro, Hillside, Hilton, Naval Hill, Navalsig, Noordhoek, Pentagonpark, Panoramapark en Waverley.
In die noordooste kan Roodewal en Vallombrosa gevind word. Die hoofsaaklik swart woonbuurte is Rocklands, Phahameng, Phelindaba, Bloemanda, Bochabela, JB Mafora en die historiese Batho met die Maphikela-huis, waar die ANC gestig is. Oos van Bloemfontein is Botshabelo en Thaba Nchu.
Bloemfontein se nasionale en streekpaaie is soos volg: Die N1, 'n hoofpad wat tussen Kaapstad in die suidweste en Johannesburg en Zimbabwe in die noorde loop, loop wes van die stad verby. Die N8 loop oos/wes en verbind Bloemfontein met Kimberley en Maseru, die hoofstad van Lesotho. Bloemfontein is ook die noordelike eindpunt van die N6 wat rofweg suidwaarts loop na die hawestad Oos-Londen. By 'n kruising net voor die stad word die N6 die M30. Dié pad eindig in 'n wisselaar met die N1.
Daar is ook tweesyfer-R-roetes. Die R64 is die ou pad na Kimberley deur Dealesville en Boshof. Dit eindig by die N1. Die R30 eindig by die N1 noord van die stad. Dit is die pad na Welkom en loop deur Brandfort en Theunissen. Dit loop verder na Rustenburg.
Drie driesyfer-R-roetes begin in Bloemfontein. Die R706 begin by die N8 in die middestad en loop suidwes na Jagersfontein en Fauresmith. Die R702 begin ook by die N8 in die middestad, maar loop suidoos na Dewetsdorp en Wepener. Die derde R-roete, die R700, begin suid van die middestad by die M30 en loop noord. Dit kruis die N8 en N1 op pad na Bultfontein.
Bloemfontein het daarbenewens verskeie metropolitaanse of M-roetes. Dié paaie word onafhanklik van dié in ander stede in Suid-Afrika genommer.
Bloemfontein is ook goed verbind met spoorweë. 'n Treinspoor is in 1890 gebou om Bloemfontein met Kaapstad te verbind. Omdat Bloemfontein sentraal geleë is, lê dit aan die groot spoorroete tussen Kaapstad en Johannesburg, terwyl treine daagliks na en van stede soos Gqeberha, Oos-Londen en ander stede loop.
Bloemfontein het twee lughawens: die New Tempe Aerodrome en die Bram Fischer Internasionale Lughawe. Die Tempe-lughawe het geen geskeduleerde vlugte nie, maar word as 'n opleidingsgerief vir vlieëniers en skole gebruik. Bram Fischer het geskeduleerde vlugte na al die groot Suid-Afrikaanse stede.
In Oktober 2016 het die Mangaung-munisipaliteit en verskeie taxiverenigings 'n ooreenkoms bereik oor die Geïntegreerde Vervoernetwerk, wat tans in aanbou is. Die projek bestaan uit twee fases – in die eerste fase word buslane in die stad gebou en in die tweede fase bushaltes en -stasies.[52]
Onderwys is 'n belangrike sektor in Bloemfontein se sosiale en ekonomiese lewe. Bloemfontein beskik oor talle leerinstellings, van kleuterskole tot universiteite en kolleges. Klasse word van skool tot skool in verskillende tale aangebied, met sommige wat selfs al hul klasse in twee tale onderrig. Die onderrigtale is veral Afrikaans, Engels en Suid-Sotho.
Verder is daar die Motheo FET-kollege wat drie hoofkampusse (Thaba N'chu, Hillside View en Bloemfontein) en satellietkampusse in Zastron, Philippolis en Botshabelo behels.
Dit is veral die private sektor wat Bloemfontein se ekonomie aandryf. Bloemfontein se aandeel aan die nasionale BBP, indiensneming en bevolking is die laagste onder die maatstafgroep van Suid-Afrikaanse en Suider-Afrikaanse stede en bevind hom net onder dié van Gqeberha. Die stad se aandeel aan die nasionale BBP beloop 1,73%, sy aandeel aan die nasionale indiensneming beloop 1,86% en sy aandeel aan die nasionale bevolking beloop 1,67%. Bloemfontein se BBP-groei met 0,57% in 2015 was in die onderste helfte van die maatstafgroep aan stede. Soos ander groot stede in Suid-Afrika het Bloemfontein se BBP-groei die afgelope paar jaar stadig maar seker afgeneem.[53]
Die stad huisves twee van Suid-Afrika se voorste konstruksie- en infrastruktuurmaatskappye. Raubex Group Bpk. is in 1974 gestig en sedert Maart 2007 gelys op die JSE[54] en Ruwacon Edms Bpk. wat in 1999 gestig is.[55]
Van die ander groot maatskappye sluit in die kleinhandelafdelingswinkel Kloppers, gestig in 1967[56] en EconoFoods Edms Bpk. wat in 1996 gestig is.[57]
Bloemfontein het 'n groot en uiteenlopende Christelike bevolking. Die stad huisves verskeie kerke en denominasies:
Die stad het ook 'n groot Joodse bevolking wat hulle in die middel-19de eeu begin vestig het.[59]
Bloemfontein beskik oor twee groot begraafplase:
Op 7 Oktober 2010 is verskeie grafstene op die Joodse begraafplaas in Bloemfontein geskend met swastikas en antisemitiese graffiti.[61] Op 10 April 2012 is Bloemfontein se geskiedkundige Memorium-begraafplaas gevandaliseer, met 35 grafstene wat omgestoot en onwelvoeglike graffiti wat op die mure van die aangrensende Ohel gesmeer is. Die graffiti het beelde van geldsakke en diamante ingesluit, sowel as van 'n kru getekende Magen David, na bewering as deel van 'n antisemitiese daad.[62]
Daar is ook die ou Phahameng-begraafplaas wat uit die 1960's dateer en tydens die apartheidsera uitdruklik gereserveer was vir Afrikane en 'n Heldeakker bevat waar vryheidsvegters ter ruste gelê is. Die Heide Heights-begraafplaas in Heidedal was tydens die apartheidsera gereserveer vir bruin mense, maar alle rasse kon hul dooies begrawe ná 1994. Dié begraafplaas is gesluit omdat dit vol was.
Die Vrystaatstadion en die omliggende sportkompleks is van die vernaamste sportgeriewe in Bloemfontein en die Vrystaat. Dit is al tydens geleenthede soos die Rugbywêreldbeker 1995, Afrikanasiesbeker 1996, FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2009 en die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 gebruik. Die stad beskik ook oor ander sportplekke, insluitende sportgeriewe van die Universiteit van die Vrystaat, skole en ander sportklubs. Van die ander stadions in Bloemfontein sluit in Mangaung-ovaal, Dr. Petrus Molemela-stadion en Clive Solomons-stadion.
Bloemfontein is saam met die nabygeleë Botshabelo die tuiste van Bloemfontein Celtic wat in die Premiersokkerliga meeding.
Bloemfontein se Vrystaatstadion huisves twee rugbyspanne: die Cheetahs wat van 2017 tot 2020 in die Verenigde Rugbykampioenskap meegeding het[66] en die Vrystaat Cheetahs wat in die plaaslike Curriebeker speel. Die Vrystaat Cheetahs kon in 2005 die Curriebeker inpalm, nadat hulle die Blou Bulle geklop het, in 2006 het hulle die eindstryd teen die Blou Bulle getrek en kon die Curriebeker in 2007 behou toe hulle die Goue Leeus geklop het. Vervolgens was die Vrystaat Cheetahs tot in 2008 die kampioene, wanneer hulle versuim het om die eindstryd vir die eerste keer sedert 2004 te bereik. In 2009 kon die Vrystaat Cheetahs die eindstryd bereik, maar hulle was nie in staat om die Blou Bulle op Loftus Versfeld te verslaan nie. In 2016 het die Vrystaat Cheetahs die beker ná 'n perfekte seisoen ingepalm en die Blou Bulle tuis in Bloemfontein geklop.
Die Knights-krieketspan verteenwoordig die Vrystaat en die Noord-Kaap op Mangaung-ovaal wat tot die Vrystaatstadionkompleks behoort. Bloemfontein is 'n gereelde aanbieder van internasionale en plaaslike kriekettoernooie.[67] Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 is vyf wedstryde op Bloemfontein se Mangaung-ovaal beslis.
Die stad het een van die mees aktiewe sweefvluggemeenskappe in Suid-Afrika en die wêreld en hulle gebruik die New Tempe-lughawe in die noorde van Bloemfontein.
Bloemfontein het 'n veldrenbaan (tempe) wat deur die Bloemfontein-veldrenklub bestuur word en dit het ook 'n knortjorbaan gehad (M&F Raceway) wat vroeg in 2015 gesluit is.
Bloemfontein beskik oor 'n omvattende skietsentrum 20 km suid van die stad, wat die meeste vorme van skietsport bied, insluitend verskeie kleiteiken-, pistool- en geweerdissiplines. Bloemfontein se skietsportgemeenskap het talle provinsiale en nasionale verteenwoordigers opgelewer.
Bloemfontein se metaalsilhoeëtskietbaan is een van die beste metaalsilhoeëtskietbane ter wêreld. Drie internasionale IMSSU-wêreldkampioenskappe is reeds hier aangebied:
Bloemfontein het twee rotsklimklubs met 'n muur en rotsgrot.[70]
Baie bekende mense word met Bloemfontein geassosieer:
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.