Alexandrië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Hierdie artikel handel oor die stad in Egipte. Vir die woonbuurt/township in Suid-Afrika, sien Alexandra. Die dorp Alexandria is in die Oos-Kaap.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Egipte |
Goewernoraat | Alexandrië |
Koördinate | 31°12′N 29°55′O |
Gestig in | April 334 v.C. |
Bevolking: | |
- Totaal (Februarie 2013) | 4 546 231 |
- Metropolitaanse gebied | 4 600 000 |
Tydsone | EET UTC +2 | Somertyd: +3 |
Goewerneur | Sayed Labeeb |
Amptelike Webwerf | Alexandrië |
Alexandrië (Grieks: Ἀλεξάνδρεια [Alexándreia], Latyns: Alexandria, Kopties: Rakotə, Arabies: Al-ʼIskandariya, Egipties-Arabies: Iskindireyya) is die tweede grootste stad van Egipte en sy belangrikste seehawe aan die Middellandse See met sowat vyf miljoen inwoners. Die stad huisves onder meer die Bibliotheca Alexandrina of Nuwe Biblioteek van Alexandrië en het danksy die aardgas- en oliepypleidings vanuit Suez tot 'n beduidende nywerheidsentrum ontwikkel. Dit beskik naas Kaïro oor die enigste internasionale lughawe in Egipte.
Die stad is die belangrikste van sowat driehonderd nedersettings wat die naam van Alexander die Grote dra en het danksy die invloedryke Ptolemeïese koningshuis tot een van die beduidendste metropole van die antieke wêreld en as hoofstad van Egipte tot die kulturele sentrum van die Hellenistiese wêreld ontwikkel.
Die stad se ekonomiese welvaart was veral aan die handel te danke; hier is invoere uit die ooste gehanteer en graan na Rome en later Konstantinopolis verskeep. Sy kosmopolitiese bevolking het 'n belangrike Joodse gemeente ingesluit. Sy argitektuur en instellings, soos die Vuurtoring van Alexandrië (die eerste ter wêreld en een van die Sewe Wonders van die Wêreld) en die Biblioteek van Alexandrië, die grootste van die antieke wêreld, was van die beroemdstes van die Klassieke Oudheid.