Anna Scheepers
From Wikipedia, the free encyclopedia
Sen. Anna Elizabeth Prinsloo Scheepers (Delareyrust, 18 Maart 1914 – 13 November 1999) was ’n Suid-Afrikaanse vakbondleier, onder andere langer as 35 jaar presidente van die Klerewerkersunie van Suid-Afrika (KWU) en in 'n stadium ook van die Nasionale Unie van Sigaret- en Tabakwerkers van Suid-Afrika. Sy was, saam met Johanna Cornelius en Bettie du Toit, een van die mees vooraanstaande Afrikanervroue in die vakbondbeweging.[1]
Die KWU het onder haar leiding gestry vir regverdiger vergoeding en 'n korter werkweek. Hulle kon daarin slaag om in 1949 drie weke se betaalde verlof per jaar vir werkers beding, iets wat voorheen nie bestaan het nie. Vantevore was hul enigste betaal verlof Kersdag en Meidag. In 1949 is nog drie openbare vakansiedae bygevoeg. Die vakbond het twee fondse opgerig, dié vir hulp aan siekes en werkloses. Die KWU het hom beywer vir 'n beter lewe vir sy lede en amper geheel en al op sy eie krag en die morele ondersteuning van ander vakbondlede staatgemaak. Sommige werkgewers het die vakbond gerespekteer, terwyl ander dit gevrees het, maar sy lede is met respek behandel omdat hulle hulle altyd tot die vakbond kon wend wanneer hulle sleg behandel is.[2]