Chris Chameleon
Suid-Afrikaanse sanger / From Wikipedia, the free encyclopedia
Chris Chameleon (1971-) is 'n Suid-Afrikaanse sanger, akteur en liedjieskrywer. Hy is op 28 Julie 1971, as Chris Mulder in Johannesburg gebore. Hy het in 1989 begin optree toe hy die eerste Dalro- Nasionale Akteurskompetisie gewen het. In die volgende vyf jaar het hy in meer as 20 televisiereekse gespeel. Hy was ook die hoofsanger van 'n musiekgroep met die naam Blue Chameleon, vanaf 1990 tot 1995, waarna hy Nederland toe is om daar vir 'n teatermaatskappy te werk.
Chris Chameleon | |
---|---|
Chris Chameleon in Mosselbaai, Suid-Afrika, Desember 2006 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Chris Mulder |
Ook bekend as | Chris Chameleon |
Gebore | 28 Julie 1971 (1971-07-28) (52 jaar oud) Johannesburg |
Genres | Volksmusiek Afrikaans |
Beroep(e) | Musikant |
Instrumente | Stem, kitaar |
Jare aktief | 2003 — hede |
Webwerf | www.chrischameleon.com |
In 1996 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en twee jaar lank agter die skerms as assistentregisseur gewerk. Aan die einde van 1997 het hy weer op die verhoog verskyn, as die voorman van die monki-punk-groep Boo!. Die groep het baie gewild geword, sowel in Suid-Afrika as in Europa. In die eerste 7 jaar van hulle bestaan het Boo! meer as 800 vertonings in 17 lande uitgevoer, insluitende Hongarye, Kroasïe en 14 van die Verenigde State van Amerika. Boo! het by vele Europese en Amerikaanse musiekfeeste opgetree met, onder andere, die White Stripes, Limp Bizkit, Slipknot, Franz Ferdinand, Cypress Hill en Coldplay. Die groep het ook ‘n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) vir Beste Popalbum in 2002 ontvang.
Tydens 'n Boo!-toer in Nederland het Chameleon 'n dokumentêre program oor Ingrid Jonker gesien: Het Uur van de Wolf. Toe die vervaardigers van 7de Laan hom vra om 'n liedjie van 'n Afrikaanse digter te toonset en in die sepie te sing, het hy op 'n gedig van Jonker besluit. Later in 2005 het hy die album Ek Herhaal Jou uitgebring met gedigte van Jonker wat hy getoonset het. Die album het goue status behaal (meer as 25 000 CD's verkoop) en Chameleon het in dié jaar landwyd daarmee getoer.
In Junie 2006 het hy die Engelse album Shine uitgereik. Later die jaar het die vervaardigers van 7de Laan hom genooi om weer in die sepie te speel. Die Afrikaanse album 7de Hemel, wat in dieselfde jaar uitgereik is en platinumstatus behaal het (meer as 50 000 CD's verkoop), bevat liedjies wat sy karakter Liam in die sepie gesing het.
In 2010 ontvang hy 'n SAMA-toekenning in die kategorie beste kontemporêre album (Afrikaans) vir Kyk Hoe Lyk Ons Nou.[1]
Sedertdien het verskeie CD’s en DVD’s van hom verskyn, waaronder Droomland (2013), wat hy saam met die Drakensberg-seunskoor opgeneem het.[2]