Cottesloe-kerkeberaad
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Cottesloe-kerkeberaad was ’n beraad van 80 afgevaardigdes van agt Suid-Afrikaanse lidkerke van die Wêreldraad van Kerke van 7 tot 14 Desember 1960 in die gelyknamige Johannesburgse voorstad. Destyds was die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (Kaapland) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal lede van die Wêreldraad van Kerke. Die beraad het regstreeks voortgespruit uit die protesoptog van duisende swart mense op 21 Maart 1960 in Sharpeville in die Vaaldriehoek en die daaropvolgende Sharpeville-slagting.
Die oorgrote meerderheid afgevaardigdes het hul goedkeuring verleen aan 'n verklaring wat ná die beraad uitgereik is. Die NG Kerke het egter sekere voorbehoude uitgespreek, terwyl die NH Kerk hulself gedistansieer het. Ná die beraad het felle politieke druk die Afrikaanse kerke genoop om uit die Wêreldraad van Kerke te bedank. Daarna is hulle gebrandmerk as "apartheidskerke".