Franse
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Franse (enkelvoud: Fransman, Frans: Français) is 'n nasie en etniese groep inheems aan Frankryk. Hulle deel 'n gemeenskaplike Franse geskiedenis, kultuur, afkoms en praat Frans of 'n ander Romaanse taal as moedertaal. Franse vorm die titulêre nasie van Frankryk, waar hulle 90% van die bevolking uitmaak, terwyl volgens die wetlike sin die hele bevolking van Frankryk Franse is.
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Frans.
Wêreldwyd leef sowat 113 miljoen Franse, waarvan omtrent 67 miljoen in Frankryk, 8,5 miljoen in die Verenigde State, 6,8 miljoen in Argentinië en 5 miljoen in Kanada. Behalwe vir Franse leef nog etniese minderhede soos Baske (239 000) en Bretonners (6–7 miljoen) in Frankryk. In onlangse tye het nog etniese groepe soos Arabiere (5,9 miljoen), Berbers (1,5 miljoen), Italianers (1,5 miljoen), Portugese (1,2 miljoen), Duitsers (1,1 miljoen), Nederlanders (~1 miljoen) en Pole (~1 miljoen) in Frankryk gevestig. Daar is sowat 380 000 Blanke Suid-Afrikaners van Franse afkoms aan die Kaap.
Met die uitbreiding van die Franse koloniale ryk het Franse in lande en gebiede soos Nieu-Frankryk, Algerië, Haïti, Madagaskar en Marokko gevestig. Daarbenewens leef Franse nog in Franse oorsese gebiede soos Guadeloupe, Martinique, Frans-Guyana en Frans-Polinesië. Etniese groepe van Franse afkoms sluit in die Cajuns in Louisiana, Franko-Kanadiërs (Québécois) in Quebec en die Hugenote wat weens hul vervolging onder Lodewyk XIV van Frankryk na Pruise en die Nederlandse Kaapkolonie gevlug het.