Kapitalisme
ekonomiese stelsel / From Wikipedia, the free encyclopedia
Kapitalisme is 'n ekonomiese stelsel waar mense vry is om hul arbeid en ware teen die hoogste prys wat hulle daarvoor kan kry, te verkoop. Die regering meng so min moontlik met die stelsel in. Kapitalisme gee mag aan diegene wat rykdom het en diegene wat dit beheer. Privaat eiendom is 'n basiese deel van hierdie rykdom. Die belangrikste uitdagings vir die kapitalistiese stelsel gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu was onder meer die stigting van die eerste kommunistiese staat en die wêreldwye Depressie van die vroeë 1930's.[1][2][3][4][5]
Ekonome, politieke ekonome en geskiedskrywers huldig verskillende sieninge in hul ontledings van kapitalisme en verskeie vorme word in die praktyk aanvaar. Hierby ingesluit is:
- die laissez-faire of Vrye mark-kapitalisme,
- welsyns-kapitalisme en,
- staats-kapitalisme.
Die verskillende vorme van kapitalisme word bepaal volgens die vlakke van die vrye mark, openbare eienaarskap,[6] struikelblokke vir gesonde kompetisie, en staats-goedgekeurde sosiale beleid. Die mate van mededinging in die markte, die rol van inmenging en regulering, en die omvang van staatseienaarskap is divers in die verskillende modelle van kapitalisme.[7] Die omvang waarmee die verskillende markte vry mag handel dryf, sowel as die maatreëls wat vir privaat eienaarskap neergelê word, is kwessies vir staatsbeleid. Die meeste bestaande kapitalistiese ekonomieë is gemengde ekonomieë, wat elemente van die vrye mark met staatsbetrokkenheid kombineer, en in sommige gevalle, met ekonomiese beplanning.[8]
Kapitalisme het al onder baie soorte van regerings, in verskillende tye, plekke en kulture gefloreer. Met die val van merkantilisme het gemengde kapitalistiese stelsels in die Westerse wêreld dominant geraak en is steeds aan die uitbrei.[9]
Volgens die ekonoom, Joseph Schumpeter, is kapitalisme tot dusver die suksesvolste ekonomiese stelsel omdat 'n totale bevolking daarby baat vind met die verbetering van hul lewenstandaard. Hy reken dat kapitalisme rykdom skep deur gedurig na hoër vlakke van produktiwiteit en tegnologiese gesofistikeerdheid te reik. Dié sogenaamde kreatiewe verwoesting vereis dat die "oue" eers verwoes moet word voordat die "nuwe" beheer oorneem.[10]