From Wikipedia, the free encyclopedia
Die fees Marialigmis of Aanbieding van die Here (Latyn: Praesentatio Jesu in Templo; Grieks: ὑπαπαντή τοΰ Κυρίου), ook Hypapante (Grieks: Ὑπαπαντή, "besoeking"), word in die kerkjaar van die Rooms-Katolieke Kerk, die Oosters-Ortodokse Kerk en die Anglikaanse Kerk op 2 Februarie (Juliaanse kalender) of 15 Februarie (Gregoriaanse kalender), 40 dae ná Kersfees, gehou. Dit herdenk die aanbieding van Jesus van Nasaret deur Maria by die Joodse Tempel in Jerusalem. Saam met Marialigmis het Pous Sergius I die Mariafeeste Mariageboorte, Mariaboodskap en Mariahemelvaart ingestel.
Die Aanbieding van die Here is 'n vroeë gebeurtenis in die lewe van Jesus, wat na sy presentasie by die Tempel in Jerusalem om hom amptelik in die Joodse geloof op te neem, verwys. Dit word in hoofstuk twee van die Evangelie volgens Lukas in die Nuwe Testament beskryf.[1] Lukas verbind die presentasie in die Tempel met die suiweringsrite van die Joodse seremonie vir die eersgeborene (Lukas 2,23–24).[2]
Die Oosters-Ortodokse Kerk herdenk die presentasie van Jesus by die Tempel – soms Hypapante genoem – as een van die twaalf groot feeste. In die Rooms-Katolieke Kerk is die fees ook as die "Fees van die suiwering van die Maagd" of die "Ontmoeting met die Here" bekend. In sommige kerke makeer die vesper op Marialigmis die einde van die Epifanieseisoen. Die Kerk van Engeland, as 't ware die moederkerk van die Anglikaanse Gemeenskap, is die presentasie van Christus in die Tempel 'n Hooffees wat óf op 2 Februarie óf op die Sondag tussen 28 Januarie en 3 Februarie gevier word. Die Rooms-Katolieke Kerk, veral sedert Pous Gelasius I (492–496) – wie tot dié kerk se uitbreiding bygedra het, word die Presentasie op 2 Februarie gevier en vorm die vierde vreugdevolle geheimenis van die Rosekrans. Tientalle kerke is aan die leerstelling van Marialigmis gewy.
In die Latynse Ritus van die Rooms-Katolieke Kerk, die Anglikaanse Gemeenskap en die Lutherse Kerk is die seisoen in die seën van nuwe moeders veertig dae ná die geboorte van 'n kind weerspieël.
Die verhaal van die presentasie van Jesus, wat na 'n kort verwysing na sy besnyding op die agste dag ná sy geboorte (Lukas 2,21[3]) volg, beskryf twee verweefde rites, wat hul oorsprong in die Bybelse boek Wajikra/Levitikus het. Soos Lukas die opeenvolging van die rite (besnydenis – skoonmaak van die vrou – seën van die eersgeborene) beskryf, stem dit met die Tora se voorgeskrewe tydskedule ooreen.
Volgens die Bybelse wet van Moses is die moeder ná die geboorte van 'n seun 40 dae (sewe plus 33 dae (Wajikra/Levitikus 12,2–4)) en ná die geboorte van 'n dogter 80 dae (14 plus 66 dae (Wajikra/Levitikus 12,5[4])) as onrein (Wajikra/Levitikus 12,1–8) beskou. Tydens die bestaan van die Tempel moes sy ná afloop van hierdie dae 'n skaap en 'n duif as reinigingsoffer aan die priester gee. Armer mense kon ook twee tortelduiwe of ander duiwe as offers oorhandig (Wajikra/Levitikus 12,8[5]).
Daarbenewens is die eersgeborene seun ter herdenking aan die Pesachnag as eiendom van God beskou (Sjemot/Eksodus 13,2–15) en in die Tempel aan hom simbolies "oorhandig" ("presenteer"); hy is deur 'n geldoffer (Bemidbar/Numeri 18,16[6]) uitgekoop. Die Lukasverhaal oor die Presentasie van die Here beskryf die seëning van die eersgeborene, maar nie die uitkoop nie, wat in Judaïsme tradisioneel nog praktiseer word (פדיון הבן, Pidjon haBen, "vrystelling van die seun").
Tydens die Presentasie van die Here kom Jesus sy ouers met Simeon en die bejaarde profeet Hanna teë (Grieks: Hypapante).
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.