Molekulêre orbitaal
From Wikipedia, the free encyclopedia
In die chemie is 'n molekulêre orbitaal 'n wiskundige funksie wat die ligging en golfagtige gedrag van 'n elektron in 'n molekuul beskryf. Hierdie funksie kan gebruik word om chemiese en fisiese eienskappe te bereken, soos die waarskynlikheid om 'n elektron in 'n spesifieke omgewing naby die atoomkern te vind. Die terme atoomorbitaal en molekulêre orbitaal is in 1932 deur Friedrich Hund en Robert S. Mulliken bekendgestel om die konsep van een-elektron orbitale golffunksies te verteenwoordig.[1] Op 'n elementêre vlak word dit gebruik om die omgewing in die ruimte waarin 'n funksie 'n beduidende amplitude het, te beskryf.
In 'n geïsoleerde atoom word die orbitale elektrone se plek bepaal deur funksies wat atoomorbitale genoem word. Wanneer veelvuldige atome chemies in 'n molekule kombineer, word die liggings van die elektrone deur die molekule in sy geheel bepaal, sodat die atoomorbitale saamgevoeg word om molekulêre orbitale te vorm. Die elektrone van die samestellende atome neem hulle plekke in die molekulêre orbitale in. Wiskundig is molekulêre orbitale 'n benaderde oplossing vir die Schrödinger-vergelyking vir die elektrone naby die atoomkerne van die molekule. Hulle word gewoonlik saamgestel deur atoomorbitale of gehibridiseerde orbitale van elke atoom van die molekule, of ander molekulêre orbitale uit groepe atome te kombineer. Dit kan kwantitatief bereken word met behulp van die Hartree–Fock- of selfkonsekwente veld- (SKV) metodes.
Molekulêre orbitale is van drie soorte: bindingsorbitale met 'n energie laer as die energie van die atoomorbitale wat dit gevorm het, en bevorder sodoende die chemiese bindings wat die molekuul bymekaar hou; teenbindingsorbitale wat hoër energie het as die energie van hul samestellende atoomorbitale, en is dus teen die binding van die molekule, en nie-bindende orbitale wat dieselfde energie het as hul samestellende atoomorbitale en het dus geen effek op die binding van die molekule het nie.